Jou gids tot Groot 5-kyk

Foto: LekkeSlaap

Daar is darem min dinge so lekker soos ’n koue wintersoggend in die Wildtuin met ’n fles stomende koffie in die een hand en ’n verkyker in die ander. Maar wanneer jy teen sononder steeds nie die ontwykende leeu of luiperd raakgesien het nie, is dit natuurlik ’n ander saak. Moenie bekommer nie, in dié gids vertel ons jou alles wat jy moet weet voordat jy die Groot 5 gaan soek.

Die “Groot 5” verwys natuurlik na die Afrika-olifant, buffel, luiperd, leeu en renoster (die swart- en witrenoster). Die term is oorspronklik deur grootwildjagters in die 19de en 20ste eeu gebruik om na die vyf diere te verwys wat die heel moeilikste en gevaarlikste is om te voet te jag. Vandag word “Groot 5” oral in toeriste- en wildgidse gebruik om Afrika-wildsafari’s te bevorder.

Pretfeit: Het jy geweet Afrika het ook ’n Klein 5? Die olifantmuis, buffelwewer, bergskilpad, mierleeu en renosterkewer staan as die Klein 5 van Afrika bekend. Ná die bemarkingsukses van die Groot 5 het natuurbewaarders die Klein 5 bekendgestel as ’n manier om besoekers aan die kleiner en minder opmerklike diere van die Afrika-bosveld bekend te stel.

Olifant

Foto: LekkeSlaap

Oom Ollie is seker die Groot 5-lid wat jy die maklikste sal raaksien ─ as die grootste en swaarste landsoogdier is dit nou nie juis ’n verrassing nie! Jy sal hulle byna oral in die reservaat gewaar, veral by damme en riviere waar hulle graag as ’n trop saamdrom om te suip. Dié groot menere drink sowat 160 ℓ per dag en eet 300 kg se gras, boombas, takke en blare per dag ─ hou gerus jou oë oop vir gebreekte takke en bome, Oupoot is dalk nét om die draai! Onthou: As jy ’n olifant in die straat kry, kry hy altyd voorkeur.

In die Krugerwildtuin sal jy hulle sommer oral raakloop, maar hoe verder noord jy beweeg, hoe groter word die troppe. Kenners meen Olifants-ruskamp het die beste uitsig oor die park ─ bo-op ’n heuwel met ’n uitstekende uitsig oor die Olifantsrivier waar dié outjies gereeld baljaar. Aangesien daar nie enige heinings tussen die Krugerwildtuin en Sabi Sand Reservaat is nie, is die kans groot dat jy hiér ook olifante sal sien. Die Addo Olifantpark is natuurlik ook baie gewild vir olifantkyk aangesien daar meer as 600 van hulle in die park woon ─ ons kan jou so te sê verseker dat jy ’n hele paar van die gediertes sal sien.

Buffel

Foto: LekkeSlaap

Glo dit of nie, die buierige buffel is heel moontlik die gevaarlikste een van die lot, veral as jy hom te voet raakloop! Die impak van die outjie se horings word vergelyk met die impak van ’n motor wat ’n muur teen 50 km/h tref. Ons weet nie van jou nie, maar ons sal nie graag dáái muur wil wees nie! Buffels kuier ook gereeld naby water, vroegoggend en laataand, so maak seker jou verblyf is naby ’n watergat sodat jy snags dié gevaarlike dier kan dophou.

Groot troppe buffels word gereeld naby Satara-ruskamp in die middel van die Krugerwildtuin gewaar, sowel as naby Olifants-, Letaba- en Shingwedzi-ruskamp. Buffels kom ook volop in die Addo-olifantpark en Madikwe Wildreservaat voor. Hou jou oë oop vir ’n groot stofwolk ─ dit dui gewoonlik ’n aankomende trop buffels op pad na die watergat aan. As jy nie so gelukkig is nie kan jy net mooi kyk tussen die ruigtes en naby die watergate.

Luiperd

Foto: LekkeSlaap

Sommige reisigers beskou hulle safari nét as ’n sukses as hulle ’n luiperd gesien het, want nie almal is so gelukkig om dié ontwykende dier raak te sien nie. Die luiperd is op sy besigste gedurende die nag, daarom stel ons ’n begeleide nagwildrit voor om jou kanse om hom raak te sien te verbeter. Dit is wel moontlik om enige tyd van die dag ’n luiperd te gewaar ─ kyk uit vir dik, oorhangende takke van ou bome waar ou luiperd gedurende die warmste deel van die dag ’n uiltjie sal knip. Pretfeit: Wanneer ’n luiperd haar kleintjies deur lang grasse lei, hou sy haar stert kiertsregop, sodat hulle haar stert kan volg.

Kenners beskou die suide van die Krugerwildtuin, rondom die Laer Sabie- en Skukuza-ruskampe, as luiperd-gebied. Hou jou verkyker byderhand en kyk mooi in die takke van die bome teen die rivier en al langs die rivier se oewer ─ verskeie luiperds is al vanaf die teer- en grondpaaie om Skukuza gewaar. Sabi Sand het die hoogste hoeveelheid luiperds in die wêreld en as jy hiér in ’n lodge kuier, is die kans baie groot dat jy een sal sien. Londolozi en Malamala is wêreldbekend vir hulle luiperdkyk-geleenthede. By Shamwari sal jou wildbewaarder alles in sy vermoë doen om ’n luiperd op te spoor.

Leeu

Foto: LekkeSlaap

Die leeu is sinoniem met safari en hoog op die besigtigingslysie. Daar is nie juis enige reëls as dit by leeu-soek kom nie, want jy kan hulle enige plek in die reservaat raakloop. As daar heelwat prooi in die reservaat is, lê die koning van die bosveld gewoonlik met ’n vol pens iewers en slaap. Soek in die skaduwee en onder die bome. Laatmiddag sal hulle begin opstaan, uitstrek en gaap voor hulle die pad vat op soek na hulle volgende prooi. So, bespreek ’n sonsak- of nagwildrit as jy dié pragtige dier in aksie wil sien.

Satara-ruskamp in die Krugerwildtuin is baie gewild onder die wild ─ hiér is jou kans ook goed om leeus te sien. Die soet gras in die area lok honderde vlakte-wild, wat dan ook roofdiere lok. Die Nwanetsi River- en die Satara-Nwanetsi-pad is top-leeukykbestemmings! Hluhluwe-iMfolozi Park is een van Suid-Afrika se oudste en gewildste wildreservate en hiér is jou kans net so goed om leeus raak te sien. Ons stel voor jy bespreek ’n wildrit ─ die wildbewaarders wéét waar om te gaan soek! Die Phinda Privaat Wildreservaat het al verskeie toekennings ontvang vir hulle bewaringspogings en hiér sal jy nie net leeus sien nie, maar heel moontlik jagluiperds ook!

Renoster

Foto: LekkeSlaap

Die witrenoster, die tweede grootste landsoogdier, skuil gereeld in die skadu van ’n boom of baljaar in die modder om van die warm son te ontsnap. Die droë modder dien as ’n sonskerm en afkoeler, en help om parasiete dood te maak wat dan saam met die droë modder afbreek. Pretfeit: Die witrenoster se naam het niks met sy kleur te doen nie. Dit was die vroeë Hollandse setlaars wat na die breë lippe van die dier as “wyd” verwys het, en dis later verkeerd as “wit” vertolk. Die swartrenoster is kleiner en meer ontwykend en eenkant as die witrenoster, maar sy onvoorspelbare humeur maak hom meer gevaarlik as die witrenoster. Sy dunner lip word gebruik om tussen die blare en takkies rond te krap vir iets te ete. Ongelukkig is hy nou een van die mees bedreigde diere in Afrika.

In die Krugerwildtuin is jou kans groter om ’n witrenoster as ’n swartrenoster te sien. Hou jou oë oop vir renostermis langs die pad ─ ’n aanduiding dat jy in renostergebied is. Onthou om altyd vir die renoster voorkeur te gee wanneer jy hom op die pad teëkom en laat jou enjin loop ingeval hy omgekrap raak en besluit om jou te storm. Hluhluwe is ook ’n goeie bestemming vir renosterkyk. Dis hiér waar renosterbewaring in die 1950’s en 1960’s begin het toe die witrenoster byna uitgesterf het. Die Pilanesberg Natuurreservaat is óók baie gewild vir sy renosterkyk-geleenthede ─ jy sal definitief witrenosters sien, en as jy gelukkig is die befoeterde swartrenoster ook! ’n Wenk om te onthou: Die witrenoster-kalfie hardloop voor sy ma en die swartrenoster-kalfie agter sy ma.

Gelukkig het Suid-Afrika geen tekort aan wildreservate waar jy dié vyf pragtige diere in hulle natuurlike habitat kan aanskou nie. Ons stel voor jy bespreek ’n behoorlike wegbreek by een van dié wildreservate én ’n begeleide wildrit om jou kanse om die Groot 5 te sien eksponensieel te verhoog. Kyk net dié lekker blyplekke sommer so tussen die wild:

Nasionale wildreservate

Foto: LekkeSlaap

Krugerwildtuin | Hluhluwe-iMfolozi Park | Pilanesberg Wildreservaat | Madikwe Wildreservaat | Addo Olifantpark

Privaat wildreservate

Foto: LekkeSlaap

Sabi Sand Wildreservaat | Shamwari Wildreservaat | Phinda Private Game Reserve | Timbavati Privaat Natuurreservaat | Aquila Private Game Reserve | Thornybush Wildreservaat | Welgevonden | Balule Natuurreservaat

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Nanje Lourens.
* Alle foto’s is afkomstig van LekkeSlaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.