Jou klein dorpie-reisgids vir dié vakansie

‘n Straat in Clarens (Foto: Lynn Greyling/Publicdomainpictures.net)

Wanneer die langverwagte Desembervakansie eindelik aanbreek, die koffers gepak is en die huismense gretig in die motor spring, is dit maklik om sommer in die pad te val sonder om alternatiewe roetes te oorweeg.

Maar wat van die agterpaaie waar klein dorpies soos reisbakens in dorre streke en bergreekse geleë is? Dié lys wys jou waar om uit te span.

Cullinan (Gauteng)

Cullinan is ʼn myndorp ongeveer 40 km van Pretoria en 100 km van Johannesburg. Dit is dalk nie op jou roete nie, maar dis ideaal vir Gautengers wat op soek is na goed om te doen in die omgewing.

Besienswaardighede: McHardy-museum, Cullinan se diamantmyn en die Zonderwater- militêre begraafplaas.

Dullstroom (Mpumalanga)

Dullstroom is tussen Belfast en Lydenburg op die R540. Dié dorpie se hoofstraat is veral gewild vir sy eetplekke en negosiewinkels wat reg deur die jaar toeriste lok.

Wanneer jy dié vakansie deur Dullstroom ry, oorweeg die volgende:

Graaff-Reinet (Oos-Kaap)

Graaff-Reinet is een van die oudste dorpe in Suid-Afrika en word omring deur die Kamdeboo Nasionale Park. Een van sy bekendste besienswaardighede is die NG Kerk wat bó die dorp uittroon.

Wanneer jy Graaff-Reinet dié vakansie besoek, oorweeg die volgende:

  • Vallei van Verlatenheid bied een van die skouspelagtigste berguitsigte in Suid-Afrika. Dit is ʼn natuurmonument van besondere geologiese betekenis. Hierdie besienswaardigheid lê 14 km van Graaff-Reinet op die R63 hoofpad na Murraysburg.
  • Die Kamdeboo Nasionale Park bied verskeie piekniekareas, 4 x 4-roetes en oornagfasiliteite aan besoekers.
  • Daar is verskeie historiese monumente en museums in die omgewing. Dit sluit die Anglo-Boereoorlog-museum, asook monumente van Andries Pretorius en die Franse Hugenote in.

Nieu-Bethesda met sy bekende Uilhuis is ongeveer 50 km buite Graaff-Reinet. Hier kan jy ook op ʼn donkiekar ry, die plaaslike brouery en die Helen Martins-museum besoek.

The Edge in Hogsback, Oos-Kaap (Foto: South African Tourism/WikiCommons)

Hogsback (Oos-Kaap)

Hogsback is in die Amatola-berge in die Oos-Kaap en bied heelwat aktiwiteite vir natuurliefhebbers. Die inligtingsentrum in die hoofstraat bied al die inligting wat toeriste benodig.

Besienswaardighede: Staproetes in die woud, Bathtub at the end of the world, stap deur die bekende labirint by The Edge

Clarens (Vrystaat)

Clarens word as die juweel van die Oos-Vrystaat beskou en bied veel meer as net skilderagtige natuurtonele.

Wanneer jy dié vakansie hier verbyry, oorweeg gerus die volgende:

Die Suider Afrikaanse Groot Teleskoop in Sutherland (Foto: South African Tourism/WikiCommons)

Sutherland (Noord-Kaap)

Sutherland vorm deel van die Karoo-hoogland en is sowat 350 km van Kaapstad, 145 km van Williston en 110 km van Fraserburg. Die grootste aantrekkingskrag is die Suider Afrikaanse Groot Teleskoop, of SALT, ongeveer 20 km buite die dorp. Dit is die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond en is daagliks oop vir die publiek.

Het jy geweet? Die bekende Afrikaanse digters NP van Wyk Louw en WEG Louw is hier gebore. Hul geboortehuis, Die Louwhuis, is nou ʼn museum wat deur toeriste besoek kan word.

Haenertsburg (Limpopo)

Dié dorpie is op die R71 tussen Polokwane en Tzaneen geleë, onderweg na die Nasionale Kruger Wildtuin. Dit is ook deel van die Wolkberge en die Magoebaskloof-omgewing.

Wanneer jy dié vakansie hier verby ry, oorweeg gerus die volgende:

  • Wegraakbosch is ʼn ekovriendelike kaasprodusent wat tradisionele Mutchli-, Tilsiter-, Emmentaler-, Harvati-, feta- en roomkaas produseer.
  • Cheerio Gardens is ʼn bekende teetuin in die omgewing.
  • By Zwakala-brouery kan besoekers bier en jenewerdrankies geniet (maar nié wanneer jy self weer agter die stuurwiel moet inskuif nie). Die brouery is op dieselfde pad as Cheerio Gardens en is kinder- en troeteldiervriendelik.

Het jy geweet? Meerkat Maantuig, die Afrikaanse rolprent wat in 2018 uitgereik is, is hier verfilm. Die skilderagtige natuurtonele is juis een van die groot trekpleisters.

Kaapsche Hoop (Mpumalanga)

Kaapsche Hoop is ʼn bekoorlike dorpie in Mpumalanga, sowat 30 km van Nelspruit. Dié gewilde toeristedorp bied ontvlugting van die stad se gejaag met sy natuurskoon, mistige berge en wilde perde wat vry rondloop. Kaapsche Hoop het ʼn gesellige atmosfeer en is daarom ideaal vir ʼn oggenduitstappie.

Vir die avontuurlustiges wag daar ook ʼn heerlike nuwe ervaring op Kaapsehoop. Kaapse Hoop Scootours is ‘n opwindende manier om die skoonheid van Kaapsehoop te ervaar. Op hierdie dikwiel bergskopfietse ry jy ses kilometer na onder in die Battery Creek-ravyn tot by die eindpunt langs die helder bergstroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.