Kaapsehoop se perde: Bewaar dié bergdorp se kleinood

Kaapsehoop se perde loop in die pad. (Foto: Gawie Wolmarans)

Die mens en perde se geskiedenis was nog altyd op ʼn sekere manier nou verweef. In die woorde van John Trotwood Moore, ʼn Amerikaanse joernalis en geskiedkundige: “Wherever man has left his footprints in the long ascent from barbarism to civilization, we find the hoofprint of a horse beside it.” Sommige bronne noem die gefossileerde spore van mense wat langs dié van perde in rots verewig is. Dit is glo ʼn volle driemiljoen jaar gelede.

Hier in Suid-Afrika was daar geen perde nie, totdat die eerste Hollanders voet aan wal gesit het. Aanvanklik is Jan van Riebeeck aangesê om die gestreepte perde (sebras en kwaggas) te vang en mak te maak. Daar het dadels van gekom. Uiteindelik het die eerste vier perde in 1653 per skip in die Kaap aangekom. Oor die volgende dertig jaar is daar klompies-klompies perde op ʼn keer na die Kaap gebring. Dit het uiteindelik tot die totstandkoming van die sogenaamde Kaapse Boerperd gelei. Met die stelselmatige besetting van die land deur pioniers het die perde al die pad noordwaarts saamgetrek.

Goud is eerste in die Laeveld ontdek

In die 1870’s is goud in Suid-Afrika ontdek. Eintlik is dit al eeue tevore reeds ontdek – daarvoor is daar ʼn hele paar bewyse van ander primitiewe beskawings wat die aarde hier aan die suidpunt van Afrika veel vroeër omgedolwe het op soek na dié besonderse edelmetaal. Eersteling, Spitzkop, Mac-Mac en Pelgrimsrus is teen die 1870’s deur honderde hoopvolle prospekteerders toegestroom. Ook aan die bopunt van die Laeveld-eskarp, waar die dorpie Kaapsehoop vandag geleë is, is daar goud gevind. Alhoewel Tom McLachlan al in 1874 hier goud gevind het en vir president Burgers laat weet het, is hy nooit as die ware ontdekker van goud in hierdie area erken nie. Dié eer het Bernard Chomse te beurt geval wat in Mei 1882 goud op die plaas Berlin, noord van Kaapsehoop, ontdek het.

Die goudsoekers het ook na Kaapsehoop, toe nog bekend as Duivelskantoor, gestroom en vinnig was die klein dorpie hoog bo op die platorand ʼn miernes van bedrywighede met verskeie watergate, ʼn handelshuis en talle tente en meer permanente sink-en-hout-geboutjies waarin die delwers tuisgegaan het. Saam met hulle het daar ook perde gekom wat gebruik is om van die harde werk te doen en as vervoermiddel gebruik is. Nasate van hierdie perde is vandag nog, na byna 150 jaar, op vrye voet op die grasvlaktes in die omgewing van Kaapsehoop. Baie van die goudgrawers wat hulle rykdom aan die Witwatersrand tydens die 1886-goudstormloop gaan soek het, het bloot hulle perde agtergelaat.

Dit is een verduideliking van die afkoms van Kaapsehoop se bekende wilde perde. Om daarna as “wilde perde” te verwys, is eintlik nie tegnies korrek nie. Daar is vandag nêrens in die wêreld meer ware wilde perde te vind nie. Selfs die sogenaamde Przewalski-perde van Sentraal-Asië, wat deur baie as die laaste oorlewende spesie wilde perde beskou word, blyk volgens ʼn studie in ʼn vaktydskrif die nasate te wees van perde wat ongeveer 5 500 jaar gelede deur mense in groot troppe aangehou is. Kaapsehoop se wilde perde is dus nasate van perde wat eens op ʼn tyd deur mense mak gemaak en versorg is. In Engels word daarna verwys as “feral animals”, soos al die kolonies katte wat jy in stedelike omgewings aantref.

Is dit dalk die afstammeling van oorlogperde?

ʼn Ander moontlike verduideliking vir die vrylopende perde van Kaapsehoop is dat dit afstammelinge van die Engelse soldate se perde is. Ná afloop van die Anglo-Boereoorlog moes die soldate na Engeland terugkeer, en sommige van hierdie perde is bloot in die veld ingejaag. Daar was ʼn Engelse berede eenheid in die omgewing van Kaapsehoop. Hoe dit ook al sy en waar die perde ook al vandaan kom, vir meer as 100 jaar vind jy klein troppies vrylopende perde in die omtrek van Kaapsehoop.

In die laaste sensus wat in 2013 gedoen is, is daar sowat 160 perde getel, maar sedertdien was daar nog nie weer nuwe berekenings nie. Die perde is oor ʼn baie groot area versprei en beweeg die hele tyd rond, wat ʼn presiese opname van getalle baie moeilik maak. Leon Smith, een van die eienaars van Kaapschehoop Horse Trails, reken daar kan enigiets tussen 150 en 200 perde wees wat oor ʼn area van sowat 30 tot 40 000 hektaar rondbeweeg. Al hierdie grond behoort aan die staat en word vandag vir bosboubedrywighede gebruik.

Kaapsehoop is ʼn ideale gebied met genoeg weiding en water

Hoekom het die perde vir so lank hier oorleef as niemand vir hulle gesorg het nie? Wel, daar is verskeie redes daarvoor. In die eerste plek is ʼn perd ʼn herbivoor wat hoofsaaklik gras vreet. Met sy groot plat voortande gryp hy die gras en pluk dit uit die grond. Daarna sorg die kiestande dat die kos fyngekou word. In die dae voordat die bosboubedrywighede begin is, was hierdie nog alles grasvlaktes. Vandag is groot dele denneplantasies, maar daar is steeds genoeg weiding vir die oorlewing van die perde beskikbaar. Die gebied het verskeie waterbronne soos riviere, fonteine en vleigebiede waar die rosse hulle dors kan les.

Die Blouswaelvlakte, ʼn bewaringsgebied digby Kaapsehoop, huisves ook ʼn hele paar troppe. Die perde wat jy hier aantref, is baie wild en sal nie sommer ʼn mens naby hulle toelaat nie. Dit is heel anders as die dorpstroppe wat al aan mense in hulle omgewing gewoond geraak het.

Ongelukkig is die merrie-hings-verhouding nie baie gebalanseerd nie en is hier veel meer hingste as merries. Die dorpenaars juig telkemaal wanneer ʼn nuwe perdjie gebore word en dit blyk ʼn merrie te wees.

Wat grootliks in die guns van die perde getel en toegelaat het dat hulle getalle so vermeerder, is dat daar vir jare geen teerpad in die gebied was nie. Die pad tussen Nelspruit en Ngodwana is eers in 1993 geteer en deesdae word dit, afgesien van toeriste en die inwoners van Kaapsehoop en Ngodwana, veral deur houtlorries gebruik wat die hout na die groot Sappi-aanleg by Ngodwana aanry. Die mis, wat dikwels in die bergarea voorkom, maak sigbaarheid swak en baie perde word raakgery. In die vroeë lente wei die perde graag daar waar die kort groen grassies hulle verskyning op die gedeeltes maak wat laatwinter tydens voorbrande afgebrand is. Ongelukkig is dit ook dié tyd van die jaar wat die meeste perde doodgery word. Vandag is hierdie teerpad dus ʼn ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Kaapsehoop se perde. Daar word net eenvoudig nie op verskeie waarskuwingstekens langs die pad ag geslaan nie.

Moenie die perde voer nie!

Nog ʼn groot probleem kan voor die voete van besoekers aan Kaapsehoop gelê word. Enigeen wat in die dorp of êrens langs die pad vir ʼn perd iets gee om te eet, tree verkeerd op. Perde se sensitiewe spysverteringstelsel is ontwerp om gras te verteer. Die perde word enigiets deur besoekers gevoer: van brood en tjips, tot koekies en lekkers. Dit kan ernstige koliek by ʼn perd veroorsaak en hy kan ook daarvan vrek. Al is dit dalk nie sleg om nou en dan ʼn appel of wortel vir ʼn perd te gee nie, moet dit ook asseblief nie gedoen word nie. Perde begin dan om mense met kos te assosieer, en hulle sal selfs hulle koppe, op soek na ʼn happie, by motors se ruite indruk. Wanneer mense langs die pad stilhou om foto’s te neem, beweeg die perde na die pad toe waar hulle ook deur aankomende verkeer beseer of doodgery kan word.

Sal daar oor honderd jaar van nou af steeds perde rondom Kaapsehoop wees? Sal ʼn mens steeds die manjifieke diere iewers oor die grasvlaktes op die Blouswaelvlakte sien galop? Vry en onbevange? Misterieus en manjifiek? Sal jy nog donkernag, wanneer die miskombers dig oor Kaapsehoop getrek is, iewers ʼn perd kan hoor runnik, en dan verder weg sy maat hoor antwoord? Dit sal alles van die mate afhang waarin besoekers aan Kaapsehoop – en motoriste wat van die pad wat hier by die bergdorp verbykronkel gebruik maak – op die pleidooie om versigtig en oplettend te bestuur ag sal slaan, en op te hou om die perde te voer. Die vrylopende perde van Kaapsehoop is die dorp se grootste skat. Dis ons kleinood. Mag dit altyd so bly!

Bewaar Kaapsehoop se perde:

  • Hou asseblief by die aanbevole spoedgrens, veral in die gedeelte naby Kaapsehoop. Ry selfs nóg stadiger as die spoedgrens, veral wanneer dit mistig is en die sig swak is.
  • Moenie die perde voer nie. Nie eens ʼn appel of wortel nie.
  • Moenie toelaat dat jou hond of honde die perde jaag nie.
  • Onthou, dit is wilde diere wat byt en hap en skop. Hou jou afstand.
  • Wanneer daar ʼn vulletjie in die trop is, moet dit nie te naby waag nie.
  • Meld enige beseerde perd by Salvador, Nagkantoor, Bohemian Café, of enige van die gastehuise aan.
  • Besoek die Facebookblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonnie ·

die hoofpad tussen Ngodwana en Nelspruit was lank voor 1993 geteer. die klein paadjies wat uitgedraai het na Elandshoek se boshuisies bv, was nie geteer nie. (ek het self daar gebly in die 80’s) selfs die pad wat na die Long Tom Pas gegaan het was geteer. praat julle van agter paadjies? ek vra maar net.

Kokerboom ·

Kom SA kom ons bewaar ‘n stukkie belangrike erfenis asb

Wielspore ·

Baie mooi berig, ons woon so 12 km van die dorp af en die inhoud van die berig is ‘n mooi reflektering van die waarheid. Ek sal net een verandering aan die berig maak, daar word verwys na die grasvlakte by Kaapsehoop. Grasvlaktes kom in plat gebiede soos in die Vrystaat voor, sou eerder die woord platorand gebruik het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.