Kan ons weer droom om te reis?

Waenhuiskrans (Foto: Kai Bernstein/ThisIsSouthAfrica.com)

My voete jeuk om weer te kan reis. Die inperking, reg oor die wêreld, het ʼn massiewe stok in enige iemand se reisplanne se wiele kom steek.

Internasionale reis is nog van die baan (vir wie weet hoe lank en teen watter prys) maar eindelik is interprovinsiale reis weer beskikbaar en nou kan ek uiteindelik weer iets aan daardie reis-droom van my doen!

Ons, as Suid-Afrikaners, is so bevoorreg om ʼn land, wat een van die mees gesogte reisbestemmings in die wêreld is, ons huis te kan noem. Soos een van ons Duitse vriende, wat baie lief is vir Suid-Afrika, altyd sê: Dit is ʼn wye land… met so ongelooflik baie verskillende opsies om van te kies. Die Drakensberge, die Vrystaatse vlaktes, die bekorende droë Karoo, die Bosveld, die tropiese Natal, die wind, son en omring deur twee oseane vir elke seeliefhebber om van te kies en te keur.

En ons kan nou al, sonder ʼn toestroom van internasionale toeriste, hierdie mooi land weer ontdek. Ons kan nou plekke besoek wat ons maklik misgekyk het, omdat ons voete dikwels so graag oor die waters wil gaan, vanwaar daar duisende toeriste elke jaar juis na óns mooi land wil kom kyk.

Watter beter plek om te begin soek na ʼn plek wat jou hart aanraak as op die foto-vriendelike sosiale platform, Instagram? Craig Rodney, die persoon agter die bestuur van die @SouthAfrica-rekening op Instagram, het die blink idee gehad om ʼn nuwe fototoerismeplatform te skep, waar jou inspirasie vanaf die mooi foto’s wat jy op Instagram kan sien, saam met Google Maps span, om jou voete te bring waar jou oë nou net gewens het jy kan wees.

Vir die afgelope sewe jaar het Craig elke dag ʼn foto van êrens oor ons mooi land op die rekening gepubliseer. Dit beteken meer as 3 500 verbruikersgegenereerde foto’s, wat oor die wêreld heen gesien kan word.

Volgens Craig is die Instagram-platform, hoe effektief ook al, te tweedimensioneel, en het hy ThisIsSouthAfrica.com geskep om die fotografie van die @SouthAfrica-rekening te kombineer met Google Maps. Op dié manier kan jou keuse van bestemming deur die skoonheid wat jy op foto’s sien, maklik ʼn werklikheid word, deur dit vir jou op die landskaart te plaas, gekombineer met aktiwiteitsopsies en ook enige ander wenke wat deur die bydraer gegee word.

 

Jy kan ook self ʼn bydraer word op ThisIsSouthAfrica.com. Omdat verskillende mense se fotografie gedeel word op die @SouthAfrica-rekening, word die bydraer genoem saam met die foto wat gebruik word, sowel as sy/haar Instagram-rekening, wat lei na wedersydse-interaksie vir albei partye. Die bydraer kan dus nou meer inligting gee oor hulle bestemming as wat op Instagram moontlik is.

As mens bloot ʼn verbruiker wil wees van die gratis webwerf, kan jy jou eie rekening opstel en begin om jou volgende reis te beplan en weer te droom oor reis.

Craig sê hy wil die @SouthAfrica-rekening gebruik om lig te werp op ons diverse, pragtige land en ook op só manier help om ons plaaslike toerismebedryf, wat erg getref is deur die Covid-19-pandemie, weer op die been te kry.

Kom ons doen ook ons deel daarvoor deur by te dra tot hierdie inisiatief, so wel as om weer ons spesiale land te herontdek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae