Kentucky – Perdestaat van die wêreld

Claiborne Farm in Kentucky (Foto: Claiborne Farm, Facebook)

Claiborne Farm in Kentucky (Foto: Claiborne Farm, Facebook)

Lees ook Marianne se artikel, “Op reis met Horse Chestnut

Mense woon perdewedrenne by om verskeie redes: sommige gaan vir die hoede en die mooi klere, die partytjies en die atmosfeer. Ander gaan om te dobbel. Dis ʼn ding. Meeste, soos ek, gaan want hulle is lief vir perde.

In Suid-Afrika waar die sport gedy, is perdewedrenne maar gewoonlik net vir ʼn kort rukkie elke jaar in die kollig. Twee van dié geleenthede is die J&B Met en Durban July, sekerlik Suid-Afrika se premier perdewedrenne elke jaar.

As ʼn mens egter wil weet waar die ware perdehemel egter geleë is, is dit sekerlik die deelstaat Kentucky in die VSA.

Nooit het ek gedink ek gaan mense ontmoet wat meer van perde hou as ek nie, maar in Kentucky het ek my moses teëgekom. As mense bereid is om groter, meer buitensporige perdestalle as woonhuise vir hulself te bou, weet jy hulle hou van perde.

Kentucky floreer op perderesies. Dit is die hartklop van die staat en selfs regte stadsjapies wat nie ʼn idee het van perde nie, sal die plek verlaat met ʼn besonderse indruk.

Ek het in Lexington gebly, die tuiste van die Keeneland-resiesbaan – ʼn plek waar die Blue Grass Stakes, een van Amerika se mees bekende vooraf wedlope vir die Kentucky Derby, jaarliks gehou word.

Met die Blue Grass Stakes is R7,5 miljoen op die spel (met die Durban July is R2,5 miljoen op die spel).

Die Kentucky Derby – sekerlik een van die wêreld se bekendste perderenne – word gehou by die bekende Churchill Downs-resiesbaan in Louisville, en dié wedren het ʼn wenprys van sowat R14,5 miljoen.

ʼn Besoek aan Keeneland is beslis die moeite werd. Dit is gebou in 1935 en behou nog meeste van sy oorspronklike outydse sjarme. Keeneland is ook as die hoofstel vir meeste van die resiestonele vir die film, Seabiscuit, gebruik. In 1986 is dit tot nasionale historiese landmerk verklaar.

Keeneland besit die bekende Kentucky Thoroughbred Centre waar besoekers vir ʼn agter-die-skerms-toer van ʼn resiesbaan kan gaan. Dié toer wys ʼn dag in die lewe van ʼn resiesperd. Ingesluit by die toer is die kans om die oggendoefeningsessie van volbloedperde langs die reling te staan en aanskou.

Lexington is ook die huis van die Kentucky Horse Park, ʼn wonderlike park opgedra aan perde. Beplan om ten minste ʼn dag hier deur te bring met aktiwiteite wat perderitte en perdewaritte insluit.

Die park bied ook ʼn verskeidenheid opvoerings aan wat gebaseer is op die perd as dier.
Besoekers kan by die park meer as 50 verskillende tipe perderasse sien. Daar is ook ʼn bekende perdebegraafplaas waar die grafte van wêreldbekende perde soos John Henry III by die Memorial Walk of Champions besoek kan word.

Gaan meet ook sommer jou eie treë teen die ware grootte treë van legendariese wêreldbekende perde soos Man O War en Secretariat! Dertien van my gewone treë is maar een treë van John Henry III. Dié legendariese perd het die langste treë van hulle almal gehad.

Een van die bekende plase in die omgewing ook wat ʼn besoek werd is, is Claiborne Farm, geleë in die buitewyke van ʼn klein Kentucky-dorpie genaamd Parys. Die pad vanaf Lexington na Parys neem omtrent ʼn halfuur deur die mees asemrowende landskap, wat die reis heeltemal die moeite werd maak. Om te sê die natuurskoon is prentjiemooi, sal ʼn onreg wees.

Die Kentucky-landskap is vol groen velde bespikkel met geel veldblommetjies, bluegrass en natuurlik perde. Perde so ver soos wat die oog kan sien. Claiborne Farm is seker een van die mees indrukwekkende plase in die staat.

Die plaas is bevoorreg om van die bekendste perde-sterre van alle tye te kon huisves sedert dit omtrent 100 jaar gelede in 1910 opgerig is: Seabiscuit is hier gebore.

Secretariat, die wonderperd, was een van hul stoethingste en was só geliefd dat hy een van die min perde is wat in sy geheel begrawe is in die perdebegraafplaas op die plaas. Gewoonlik, wanneer ʼn resiesperd begrawe word, is dit slegs sy hart en pote – dít wat ʼn goeie resiesperd maak – wat begrawe word.

Ander bekende perde soos Bold Ruler (Secretariat se pa) en Mr. Prospector was ook hingste op die plaas.

Claiborne Farm het ʼn fassinerende verbinding met Suid-Afrika en dit was die rede hoekom ek oorspronklik dit wou besoek. Ons eie perde-ster, Horse Chestnut, (ʼn Triple Crown-wenner) het vir amper vyf jaar van sy lewe hier gestaan as stoethings nadat hy as ʼn resiesperd afgetree het.

ʼn Toer deur so ʼn wonderlik ontwerpte en suksesvolle teëlplaas soos Claiborne Farm het my opnuut waardering gegee vir die mense wat op sulke plase werk, van die bestuurders tot die perdehanteerders. Elkeen het ʼn werk, onvervangbaar in die groter prentjie van perderesies.

ʼn Mens kan gerus ook Louisville besoek.

Glo dit of nie, maar nie een van die stede wat genoem is is dié deelstaat se hoofstad nie. Daardie eer gaan aan die heelwat minder bekende Frankfort. Frankfort, Kentucky. Gaan lees maar op!

Kentucky is ʼn perdeliefhebber se hemel, ʼn hele deelstaat opgedra aan die sport van konings. In Disney World is Mickey Mouse die ster, in Kalifornië is almal sterre. In Kentucky is die sterre altyd ons perdevriende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anet ·

Dankie vir die mooi geskiedenis oor die beroemde perde. Dit is ook pragtige foto’s, veral die een met die groen veld. Die merrie en haar pragtige vulltejie is kosbaar.
‘n Mens kan net droom om eendag daar te gaan kuier

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.