Kgalagadi: Die plek van avontuur, eensaamheid en vryheid

Die son sak oor die Kgalagadi-oorgrenspark in Botswana. (Foto: Pieter Meyer.)

As jy soos die meeste Suid-Afrikaners al smag na ʼn tikkie vryheid en enige verskoning om die lang pad te vat, sal ʼn week onder die helder sterreruim en tussen die rooi duine van die Kgalagadi-oorgrenspark vir jou soos ʼn stukkie hemel op aarde klink.

Dié oorgrenspark wat een van die grootste natuurbewaringsgebiede in die wêreld beslaan, is vanjaar 20 jaar oud.

Natuurliefhebbers wêreldwyd kan deel in ʼn 20 dae lange virtuele viering met die hutsmerk #kgalagadi2020 om die park se totstandkoming, wat op 12 Mei 2000 was, te herdenk.

Kgalagadi was die eerste vredespark in Suid-Afrika. Die destydse president van Botswana en Suid-Afrika, Festus Mogae en Thabo Mbeki, het die park benoem ná albei lande onderneem het om hulle aangrensende nasionale parke, die Gemsbok Nasionale Park in Botswana en die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park in Suid-Afrika, ekologies as ʼn eenheid te bestuur.

‘n Geelbekneushoringvoël kom stel ondersoek in by die kampterrein in die Kgalagadi-oorgrenspark. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Die landskap van die Kgalagadi word deur uitgestrekte grasveld, rooi duine en kameeldoringbome gekenmerk. ʼn Paar diersoorte wat die park hulle tuiste noem, is gemsbokke, hiënas, jagluiperds en die Kalahari-leeu met sy swart maanhare. Die oorgrenspark is enige voëlkyker se paradys, terwyl dit ook ʼn fotomekka vir fotograwe is wat die park vir sy uitsonderlike wild- en voëlspesies, asook asemrowende landskappe besoek.

Daar is geen heining op die grens tussen die twee parke nie, hoewel dit ook die internasionale grens tussen die twee lande is. Diere en toeriste kan vrylik oor die grens in dié park beweeg en dit is ook die enigste oorgrenspark wat dit toelaat.

Die park beslaan ʼn oppervlakte van ongeveer 3,6 miljoen hektaar en bied langtermynbewaring aan natuurlewe in ʼn halfdroë, sanderige savanne van die Kalahari-woestyn-ekostelsel wat oor groot dele van Botswana, Namibië en Suid-Afrika strek.

Makhotso Sotyu, die adjunkminister van omgewingsake, bosbou en visserye, sê die viering van die 20ste bestaansjaar van dié park is ʼn mylpaal vir bewaring en ekotoerisme in die Noord-Kaap.

Die Kgalagadi-oorgrenspark se Mabuasehube-hek in Botswana. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Sotyu meen oorgrensparke soos dié help om die internasionale profiel van die gebied as toerismebestemming te verhoog. Die park reik ook na die omliggende gemeenskappe uit met skole wat deel is van bewaringsprogramme en die plaaslike !Khomanisan- en Nama-gemeenskappe van Welkom, Andriesvale, Askham en Rietfontein wat die !Xaus-lodge in die park bedryf.

Volgens Sotyu bring die #kgalagadi2020- virtuele viering bewarings- en toerismevennote in Botswana, Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) bymekaar om die natuur, landskappe, erfenis, gemeenskappe en avontuur-ervarings van die oorgrenspark te vier.

“Ons doen gereelde plasings op Facebook, Twitter en Instagram om soveel mense moontlik te bereik en almal kan pryse wen terwyl dit ʼn kostedoeltreffende en koolstofneutrale bemarkingsveldtog vir die streek is,” sê sy.

Sotyu meen die vestiging van oorgrensparke is een van die grootste suksesverhale van die SAOG. Die jongste oorgrenspark is die Iona-Skedelkus-oorgrenspark tussen Angola en Namibië. Die SAOG-streek het 18 oorgrensparke op land, asook mariene omgewings, wat tans in verskillende stadiums van ontwikkeling is.

Volg die hutsmerk #kgalagadi2020 vir die mooiste foto’s en video’s van die Kgalagadi-oorgrenspark, wat tot 31 Mei op sosialemediaplatforms gedeel sal word.

Hier is ʼn keur van foto’s en video’s wat tot dusver gedeel is:

Hoor so ’n Kalahari-leeu brul:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frikkie ·

Ons sou so graag daar wou gaan vakansie hou, maar die pryse is buitensporig hoog. Dalk weet ons maar net nie waar om vir verblyf daar te soek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.