Klim-klim deur die Magoebas se wonderwoude

Die betowerende Magoesbaskloof vra om per voet verken te word. (Foto: Dalene de Vente)

Toe ek klein was, het ons altyd deur Magoebaskloof gery as ons wildtuin toe gegaan het. The Wheelbarrow-padstal was my gunstelingplek om te stop. Die winkel se radio was altyd aan op Jacaranda RM-FM en Gnarls Barkley se “Crazy” was omtrent elke dag op die liedjielys. Natuurlik soek en speel ek steeds die liedjie wanneer ons deur Magoebaskloof ry. Net jammer dat The Wheelbarrow nie meer oop is nie.

Deur al die jare se rondrits deur die passe van Magoebaskloof wonder ek dikwels hoe dit moet voel om in daardie woude te stap. Kort voor lank besluit ek toe om self te gaan uitvind en saam met 25 ander mense pak ons die De Hoek-roete een naweek in September.

Ons kom halfdrie die oggend by ons bestemming aan en val strompelend in die bed. Die sterre skitter deur die oop venster, want die hut het nie gordyne nie… ek is uiteindelik omring met woude, waterstroompies, voëls en vars lug.

Jy hoef nie net die woude te verken nie. Magoebaskloof het oulike plekke waar mens ʼn vinnige blaaskans kan kry van die langpad. (Foto: Verskaf)

Staptoere leer mens: moenie in die middel van die bult stop nie. Aan die einde van dag een se roete is daar ʼn groot bult om te klim, hou dus jou energie vir daardie bult – dis woes!

By die hut aangekom het ons die matrasse uitgesleep, die dennewoud ingedra en lê en kyk vir die reusagtige bome tussen ons. As jy daar lê, kan jy eenvoudig nie ophou kyk na die mooi woud rondom jou nie. Jy hoor voëls, die gesjoes-sjoes van die wind en boomtakke wat liggies kraak. Terwyl ons daar lê, sien ons woudpapegaaie: ʼn baie bedreigde spesie in Suid-Afrika.

As jy daar tussen die ou, ou bome lê is daar niks anders wat saak maak nie. Vir ʼn oomblik is jy Alice in die Wonderwoud.

Jy hoef darem nie net bulte te klim nie. Daar is lang dele waar mens grondpad stap wat die roete vinniger laat voel. Daar is ook dele wat jy baie hoog stap en afkyk op die woud.

Staptoere leer jou om die eenvoud van die lewe te geniet: die kos wat jy gaarmaak op die kole, die yskoue stort aan die einde van ʼn lang staproete en die water wat jy moet kook op ʼn klein gasstofie sodat jy kan koffiedrink – elke aand onder die sterre en langs die vuur. In die Magoebaskloof stap jy verby bokke en hoor samango-ape. Jy stap ook verby die wêreld se hoogste geplante boom. Ten spyte van moeë spiere en seer voete is die skoonheid van die natuur dít wat alles die moeite werd maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.