Klink ’n glasie by SA se vreemdste kroeë

Die Williston Mall & Doppies Bar (Foto: LekkeSlaap)

Jy kan ’n paar rare verhale en wonderbaarlike wolhaarstories in die meeste kroeë te hore kom ─ soveel te meer as jy langs iemand gaan sit wat al ’n tydjie daar is … Maar Suid-Afrika het ook eklektiese kroeë wat só vreemd is dat hulle in eie reg op jou emmerskoplysie hoort, al eindig jy nou nie langs die distrik se topstorieverteller op nie. LekkeSlaap.co.za het sewe van dié vreemde watergate gaan uitsnuffel. So, Coke, bier of brandewyn, as die dors jou op jou volgende reis beetpak, saal hiér af!

Die Pantiekroeg

Paternoster, Wes-Kaap

Die Pantiekroeg (Foto: LekkeSlaap)

Die Weskusdorpie, Paternoster, wat as Suid-Afrika se stukkie Griekeland bekendstaan, is al jare lank gewild onder wittebroodpaartjies. Dit beteken natuurlik dat daar op enige gegewe tydstip ’n oorvloed mooi, kanterige panties in die omtrek is. In 1974 kry Johan Carosini die blink plan om hierop te kapitaliseer en begin wittebrood-panties by die Paternoster Hotel se kroeg versamel en van die dakbalke laat afhang. Só gewild én wild was Johan se idee dat ’n predikant in 1983 geëis het dat die onderklere verwyder word. Die polisieman wat die aardige pantie-konfiskeringstaak opgelê is, sou voortaan as Pantie Basson bekendstaan. In die negentigerjare besluit Giorello Carosini niemand sal hulle pantie-partytjie halt roep nie en sit bloot die versameling voort. Tot vandag het geen predikant al gekla nie en, as hy het, het niemand hulle aan hom gesteur nie. Die versameling onderklere groei onverpoosd ─ maak gerus ’n draai en voeg joune by.

Oornag in Paternoster se geweste.

Ronnie’s Sex Shop

Buite Barrydale, Kaapse Roete 62, Wes-Kaap

Ronnie’s Sex Shop (Foto: Dreamstine)

Ronnie was nog besig om sy ou geboutjie, wat ’n gewone padstal langs die R62 sou wees, op te knap, toe sy vriende sy beskeie “Ronnie’s Shop”-teken vandaliseer en (durf ons dit sê?) “sex” gaan byverf. Sulke vriende darem! Ronnie het toe maar die idee van ’n padstal prysgegee, die naam so gelos en ’n kroeg oopgemaak ─ en dit was ’n oombliklike treffer, want niemand ry verby die skelrooi naam wat skaamteloos oor die vlakte skree sonder om ’n foto te neem nie. Trek gerus hier af en geniet goue treffers deur Rodriquez of Deep Purple, ’n kroegmiddagete, ’n melkskommel (vir volwassenes as jy ’n knertsie van dié of daai wil bysit) en gesels met Ronnie met sy gevlegte hare en baard wat die kroeg beman. Bring ook ’n pen om jou merk op die bekrapte muur te maak en ’n bra as jy dié in die kroeg wil ophang.

Oornag op Kaapse Roete 62.

Oom Tjol se Gat

Buite Sutherland, Noord-Kaap

 

Oom Tjol se Gat (Foto: Facebook)

’n Paar jaar gelede, met sy asmatoestand aan’t vererger, neem Tjol Herbst sy dokter se raad ernstig op en verruil om gesondheidsonthalwe die Paarl vir die Karoo se droë lug. Maar, as jy eers daar is, wat maak jy met jouself en jou vrou op die vlak tussen Matjiesfontein en Sutherland? Jy maak ’n kroeg oop, natuurlik ─ en nie net enige kroeg nie! By die klein, wit geboutjie, wat as Oom Tjol se Gat bekendstaan, betaal jy nie vir jou drankies nie. O nee! Jy koop aandele en dan kan jy drink, nóú of later, tot jy jou aandeel opgedrink het. Die vlakte kan sekerlik eensaam raak, maar Tjol het op dié manier soveel vennote deur die jare gekry dat stilte geensins ’n probleem is nie. So, as jy na jou volgende, grondige sakebelegging soek, hier is jou kans!

Oornag in Sutherland se geweste.

Die Werkswinkel-kroeg, Tankwa Padstal

R355, op pad na Calvinia, Wes-Kaap

Die Werkswinkel-kroeg (Foto: Michael Hammond, Bikeroutes.co.za)

Die land se langste grondpad sonder dorp of vulstasie is die asvaal R355 tussen Ceres en Calvinia. Meer afgeleë kan jy nie kry nie. Maar al dink jy jy ry alleen deur die wêreld, sal jy tagtig kilometer noord van Ceres of 160 kilometer suid van Calvinia uit jou Karoo-newels geruk word wanneer die helder-turkoois Tankwa Padstal voor jou opdoem. As die enigste teken van lewe vir kilometers, sou dié padstal altyd ’n gewilde aftrekplek wees, maar Tankwa maak nie net staat op sy ligging nie. Dit bied ook kreatiewe en rare versierings soos die Barbie-Q, ’n braairooster vol Barbies, wat in die Werkswinkel-kroeg hang. Plaaswerkers trek ook jaarliks met helderkleurige donkiekarre hier saam vir die Donkiekardag en tydens AfrikaBurn is die padstal tóé onder die “burners”. Só geliefd is die Tankwa Padstal dat, toe dit in 2014 afgebrand het, vrywilligers van heinde en ver van bakstene tot verf geskenk het sodat dit betyds vir Kersfees kon herbou word. So, draai hier in en gesels ’n bietjie met dié Karoo-oase se swetterjoel interessante klante en die eksentrieke bestuur.

Oornag in die Tankwa Karoo.

Blikkies Bar

Carnarvon, Noord-Kaap

Die Blikkies Bar (Foto: Facebook)

Die Blikkies Bar op Carnarvon het die afgelope vyf jaar hande verwissel, maar die blikkies wat dié Karoo-kroeg sy naam gee, is steeds daar ─ meer as 7 000 van hulle! Toe Nicholas Panos 110 jaar gelede van Griekeland Suid-Afrika toe gekom het, het hy die hotel op Carnarvon begin en sy kleinseun, ook Nicholas Panos, het in die 1960’s ’n bierblikkie-versameling in die hotel se kroeg begin. Soos mense van die versameling te hore gekom het, is hy bierblikkies van heinde en ver gestuur ─ tot ’n kamoefleer Budweiser-blikkie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog aan soldate uitgereik is. Van sy vriende het ook in Kaapstad se hawe gewerk en so het hy nog meer vreemde blikkies in die hande gekry. Hierdie nederige hotelkroeg is vandag ’n internasionale vertoonstuk vir bierliefhebbers en as jy in of verby Carnavon ry, skuif nader vir ’n bier en ’n liedjie op die blêrkas.

Oornag in Carnarvon se geweste.

Doppies Bar

Williston, Noord-Kaap

Die Doppies Bar (Foto: LekkeSlaap)

Uit ’n versameling ou motors, tekens en sêgoed in Pieter en Elmarie Naudé se agtertuin, ontpop ’n eksentrieke, rustieke Karoo-bestemming ─ die Williston Mall. Hier kan jy die plattelandse weergawes van Exclusive Books (X-Klusiv Books), Sterns (Stirns) en Boardmans (Bord Mans) kry en alles van ’n vetplant tot ’n snaakse onderbroek koop. Dié informele inkopiesentrum spog ook met een van die besigste kroeë in die Karoo, die Doppies Bar, waar ’n paar tonele in die 2018 Afrikaanse komedie-drama, Drie Susters, verfilm is. Die Williston Mall het ook ’n verhoog en, as die konsert en die kuier té lekker was, kan jy by die Naudés se Ark Gastehuis en B&B inklok. Die Williston Winterfees, wat die eerste week van September deur die mall aangebied word, is nou al ’n hoogtepunt in die Bo-Karoo. Hier kan jy sien hoe die Nama Rieldans uitgekap word en na Afrikaanse rock-musiek, boeremusiek en “Bluegrass” luister.

Oornag in Williston se geweste.

Highest Pub in Africa

Sanipas, Drakensberg, KwaZulu-Natal

Highest Pub in Africa (Foto: LekkeSlaap)

Hulle sê alkohol het ’n groter uitwerking op ’n mens hoe hoër jy bo seespieël is. As jy dié teorie wil beproef kan jy eenvoudig nie die gewilde Sanipas, die poort tussen Suid-Afrika en Lesotho, aanpak sonder om by die hoogste kroeg in Afrika besoek af te lê nie! Teen 2 874 meter bo seespieël, is die Sani Valley Mountain Lodge se kroeg, met sy gepaste naam, The Highest Pub in Africa, ’n besoek werd. Hier is die mense vriendelik, die uitsig skouspelagtig en die kos heerlik. Ontbyt, middag- en aandete word met vars, plaaslike bestanddele voorberei sodat die gemeenskap rondom die lodge ook voordeel trek. Laat jou Drakenbergse kronkelpad jou na dié kroeg vat!

Oornag in die Sanipas se geweste.

Moenie verby hierdie kroeë ry as jy op pad is na jou volgende avontuur nie. As jy boonop langs die pad nóg ’n vreemde watergat ontdek, laat weet ons gerus sodat ons ook daar kan indraai en bene rek.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.