Klipdorpie Clarens: Oermooi en outentiek

‘n Uitsig oor Clarens. (Foto: Verskaf)

Ná die lang, reguit rit deur die uitgerekte Vrystaatse vlaktes, verskyn die berge van die Oos-Vrystaat soos dramatiese klipkastele op die horison; toringspitse, oorhangkranse, grotte. Die sandsteen is goudbruin en gloeiend in die laatmiddagson. “Die Juweel van die Vrystaat” word Clarens genoem – ʼn dorpie gebou uit die pragtige klip van die omgewing.

Clarens is aan die voorheuwels van die Rooiberge en aan die voet van die Malutiberge geleë. Dis naby die grens van die bergkoninkryk van Lesotho en die geskiedenis hier kom nie sonder botsings en bloed nie. Die dorpie is juis in 1912 op die slagveld uitgelê waar president Paul Kruger (destyds kommandant) in 1866 teen die Basotho’s geveg het. Die dorp is ook na die Switserse bergdorpie, Clarens, vernoem waar president Kruger as banneling gesterf het.

As jy die hartklop van die landskap wil ervaar, gaan klim ʼn berg uit. Die elf staproetes van die Clarens Natuurreservaat belowe almal pragtige berguitsigte. Die roetes oorvleuel en wissel van ʼn halfuur tot 2,5 uur lange stappe, wat beteken dat jy jou uitstappie volgens jou bui en die reënbui van die dag kan verleng óf verkort. Of jy lus is vir voëlkyk, visvang, piekniek in die veld, bergfiets ry of verkenning te voet, hier is ʼn roete vir elke gier. Ons gesin het sommer ʼn paar keer gaan stap; van die maklike Dam-en-Kloof-roete en die Spruitroete met sy kristalhelder stroom, tot die Rooikat-kontoerpad en die Clarens-bergroete met sy waterval en wye uitsigte oor die dorpie en riviervallei.

Om die ware hart van Clarens te ervaar, moet jy egter nie net die berge beleef nie, maar óók die strate invaar. Dis hoeka die soort dorpie waar ʼn familie soos ons (wat van laerskoolkinders en tieners tot studente en middeljariges wissel) maklik vir ʼn oggend elkeen sy eie vermaak kan vind. Party vang vis (Clarens is gewild vir forelvang), ander speel gholf en nog ʼn paar besoek die bierbrouery of verken die winkeltjies. Twee Engelse woorde spring die heeltyd in my kop terwyl ek deur die dorpie dwaal: “quaint” en “quirky”. Heelwat van die winkeltjies het ʼn speelse kinkel in die kabel. Soveel unieke klere, kuns en kos het ek lanklaas in een kleine dorpie gewaar. Die kuierplekke en koffiewinkels op straat voel Europees, maar baie produkte is eg Suid-Afrikaans, soos die pragtige geweefde Basotho-komberse by Blankets for Africa. By die Cherry Company kan jy kies en keur tussen gepekelde kersies, kersiesap, kersielikeur, kersiekonfyt en kersiebeskuit. Ek soek vir myself ʼn paar handgemaakte stewels uit en my seuns gaan koop elkeen ʼn kardoesie tuisgemaakte sjokolade by die Purple Onion.

Die tagtigjarige NG-kerk wat deur Gerard Moerdijk ontwerp is. (Foto: Verskaf)

Die argitektuur van Clarens is kenmerklik van die Oos-Vrystaat met heelwat sandsteengeboue, onder andere ook die tagtigjarige NG-kerk wat toeka se tyd deur Gerard Moerdijk ontwerp is. Clarens is lankal as ʼn kunstenaarskolonie bekend en hier is byna soveel kunsgalerye as manne op Basotho-ponies op straat! B’tween the Lines stal talentvolle skilders en beeldhouers se werke uit: Nicoleze Mulder se “steampunk” karakters is ʼn mengsel van klei, leer en digkuns, Olivia Botha druk haar funksionele kuns op matte en kussings en keramiekkunstenaar Actually Ashleigh maak vase en kombuisware.

Clarens Rocks (Foto: Verskaf)

Clarens Rocks is weer die natuur se kunsgalery: ʼn Ongelooflike versameling fossiele en halfedelgesteentes is hier op uitstalling. Eienaar Graham Rodin is self ʼn begaafde kunstenaar met ʼn wye kennis van klip. Ons verkyk ons aan al die aardse skoonhede en my seuns soek versigtig uit aan die stukkies steen. Later lees ek: In 2009 is die grootste hoeveelheid oorblyfsels van dinosourusse ooit in Suid-Afrika hier by Clarens gevind – tande, kloue en gefossileerde voetspore van die prehistoriese reuse asook varingblare!

Dis moeilik om ʼn mooiste seisoen vir besoekers te kies. Dit was laatwinter met ons besoek – die yskegels het selfs teen die middaguur nog aan die plante gekleef en op die bergstrome was ʼn yskors; die lug knypkoud en die gras geelkoper. Sommige winters is die sneeupieke hier ʼn wit wonderwêreld. In die lente blom die blouslangkop (Merwilla plumbea) teen die hange, die wilgerbome spruit liggroen uit en die vrugtebome bot. In die somer word die gebied omtower deur al die donderstorms en in die herfs verkleur die populierbome. Sommige mense reken Clarens is ʼn betowerende plek omdat dit op die 28° lengtegraad en 28° breedtegraad geleë is. Of Clarens enigsins ʼn spesifieke graad nodig het om dit besonders te maak, weet ek nie, maar oermooi is dit beslis; ʼn oermooi en outentieke klipdorpie soos min.

Die interessante klipformasies by Clarens. (Foto: Verskaf)

Clarens se doen-dinge:

  • Clarens is naby genoeg aan drie groot stede om ʼn naweek of kort wegbreek te regverdig: 285 km vanaf Bloemfontein, 303 km vanaf Johannesburg en 389 km vanaf Durban.
  • Clarens Natuurreservaat verskaf kaarte, permitte en ander inligting vir die mooi stap- en bergfietsroetes in die omgewing. Loer gerus by Clarensvillageconservancy.com vir meer inligting.
  • B’tween The Lines is ʼn opwindende nuwe kunsgalery. Besoek die Facebook-blad of skakel Burger Pretorius by 083 278 2314. Vonkpos: [email protected].
  • By die Cherry Company kan jy allerlei kersieprodukte aanskaf. Besoek die Facebook-blad of skakel: 079 898 3907.
  • Die Purple Onion Deli is in die Windmeul-sentrum en verkoop interessante handgemaakte lekkergoed. Besoek die Facebook-blad of  skakel: 058 256 1898.
  • Blankets for Africa het komberse vir elke smaak. Besoek die Facebook-blad of skakel: 082 556 5208.
  • Clarens Rocks is ʼn fassinerende plek vir kinders en klipversamelaars. Skakel Graham Rodin: 083 250 3530.
  • House of Woven Art lewer al sedert 1998 ʼn versameling pragtig geweefde matte. Skakel Emilio Castignani: 082 809 5003. Vonkpos: [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

norms ·

Pragtige plek, maar vrek duur. En vrek koud in die algemeen. Dankie vir die mooi artikel.

Jax ·

Ja mooi daar maar vreeslik koud en pepper-duur. Moet ook maar nie daar gaan woon nie – uiters clicky

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.