Knysna: Ná die donker, die lig

(Foto: Ron Porter/Pixabay)

In 2017 het ʼn verwoestende brand die kusdorpie van Knysna getref. Meer as 10 000 mense moes in die middel van die nag hul huise ontruim en vlug terwyl rook om hulle gedwarrel en vonke gespat het. Die woudeprag van Knysna, een van Suid-Afrika se kroonjuwele, was aan die brand.

Die verwoestende brand het groot dele van Knysna uitgewis.

Dít wat die pragtige dorpie se groot kenmerk is, die woud, was juis dít wat hom die meeste pyn veroorsaak het. Die brand is uiteindelik geblus, maar baie van die flora en verskeie huise is verwoes. Twee jaar later het ek ʼn draai gaan maak met groot kommer oor hoe Knysna daarvan afgekom het. Groot was die vertroosting toe ek ontdek Knysna het soos die feniks van ouds, uit die as verrys en is, wat betref die natuurskoon, dalk selfs mooier en beter daaraan toe, alhoewel die skade nog hier en daar te sien is.

Ek het ʼn paar plekke gaan verken waar die natuur se herstel tot groot vreugde lei.

Featherbed-natuurreservaat

Foto: Featherbed-natuurreservaat

Featherbed-natuurreservaat is ʼn wonderlike voorbeeld van hoe die erge brand ook iets goeds kon laat voortspruit. Die brand in 2017 het byna die hele Featherbed se flora uitgewis. Hoe hartseer dit ook al is, net so verwonderend is dit om die impak te beskou. Die vernietigende brand het nie net die natuurlike plantegroei uitgewis nie maar het ook ontslae geraak van al die slegte uitheemse plante.

Die herbouing van die reservaat is gedoen deur net inheemse flora se saad te versprei. Die eienaars beplan ʼn wonderlik oorspronklike projek waar hulle ook in die minder toeganklike areas saad gaan versprei. Hulle gaan gebruik maak van “kettie-koeëls” wat gemaak is van ʼn maklik ontbindende materiaal om die saad mee te versprei. Dié kettie-koeëls word verkoop om te help betaal vir nog koeëls. Besoekers aan die reservaat kan hulle kettieskietvermoë toets, deur die saad self te skiet en daardeur ʼn verdere bydrae te maak om die pragtige Knysnabos te bewaar en te herstel tot sy oorspronklike prag. Die gebied huisves ook skaars diere soos die swarttobie (oestervanger), die bedreigde knysnaseeperdjie en blouduiker en ʼn broeiprogram vir die knysnaloerie wat elke nou en dan sy bekende hoe-hoe-hoe laat hoor.

Featherbed het sy interessante naam gekry van die matrose wat uiteindelik rustig kon slaap in die klein hawe, op water wat gevoel het of hulle op ʼn verebed te slaap, ná die rowwe see.

Besoek gerus Featherbed, daar is verskeie aktiwiteite beskikbaar. Ek kan veral die eco-ervaring aanbeveel. Die vier uur lange ekspedisie sluit ʼn bootrit in na die reservaat (wat net per boot bereik kan word vanaf Thesen-eiland), ʼn 4×4-rit met ʼn opgeleide gids, tot bo-op die Westerse Knysnakop, ʼn opsionele begeleide 2.2 kilometer-staproete deur die kuswoud na die antieke Khoi San-seegrotte en uiteindelik ʼn wonderlike buffetmiddagete by die Forest Restaurant, geleë onder die uitgespreide takke van die lowergroen melkhoutbome.

Nog ʼn hoogtepunt is die buitelug-strandkroeg wat die publiek per boot kan besoek.

Leisure Island & Knysnakoppe

Vir my is die beste manier om Knysna te verken, per fiets. Ons het een oggend vroeg, met komplimente van die Turbine Hotel en Spa, fietse gehuur by die Turbine Water Club. Fietsryers volg ʼn maklike roete al langs die baai af na die idilliese Leisure Eiland met sy pragtige huise en tuine en daarna volg die Oostelike Knysnakop. Hier kan jy klim tot heel bo om die asemrowende uitsig van die Indiese Oseaan te geniet en skeepswrakke soek. As jy honger en dors is ná die fietsry, kan ek die restaurant aan die voet van die krans aanbeveel.

Knysnabos

(Foto: Greg Newman/Pixabay)

Dalene Matthee het nie verniet boeke vol geskryf oor die lowergroen wonderland van die toweragtige Knysnabos nie. Sy het dikwels na Krisjan-se-nek (Goudveldwoud) gekom om haar siel te voed, waar ons ook ʼn nege kilometer-wandelroete gekies het.

Haar woorde word onthou op ʼn gedenkplaat hier: “Die Knysnabos is ʼn lewende entiteit wat ons moet respekteer en bewaar.”

Dit vat mens se asem weg, (of miskien gee dit juis vír jou asem?) as jy jou voete daar sit. Die geknars van die blaar- en takketapyt onder jou voetsole, met die agtergrondmusiek van voëlgesang, laat jou voel hoe nietig ons is as mens besef hoe nodig ons die natuur het. ’n Mens wens jy kan elke voël se naam ken wat se geroep jy hoor en jou hart bly daar agter as jou voete dit verlaat.

Daar is verskeie wandelpaaie om van te kies van beginners tot ervare stappers, almal in die middel van ʼn natuurparadys verby watervalle en strome. ʼn Definitiewe moet as jy in Knysna is.

Vir ekstra bederf: Turbine Hotel

Foto: Turbine Hotel & Spa

Op Thesen-eiland, in die middel van Knysna, staan ʼn ou kragturbine. In 1870 het die Thesen-familie vanaf Noorweë na Knysna verhuis. Hulle het verskeie ondernemings in die dorp begin, onder meer houtsneewerk. Charles William Thesen het die Paarden-eiland, wat nou Thesen-eiland heet, in 1904 gekoop en ʼn houtonderneming in 1922 begin, waarvan die afvalhout gebruik is om die kragturbine te onderhou. Dit het krag vir Knysna, sowel as Plettenbergbaai verskaf tot in die middel 1970’s. Die herontwerpte en gemoderniseerde turbine is vandag die tuiste van die Turbine Boutique Hotel and Spa en Island Café. Die huidige eienaars, Geoff Engel en Dandre Lerm, het dit in 2007 gekoop en die hotel in 2010 oopgemaak. Die hotel is eksentriek. Modern en oud vind mekaar in die middel.

Spatsels kleurvolle kunswerke word afgewissel deur kleurvolle pype en toerusting van die ou turbine wat behoue gebly het en waaraan jy ook mag peuter as jy sou lus kry. Daar is 26 kamers elk met ʼn unieke tema wat vernoem is om die kulturele, historiese verskeidenheid van Knysna te reflekteer.

Dis nie ʼn goedkoop plek om te bly nie, maar die ervaring om in ʼn ou kragturbine te bly is die geld werd. Daar is ook gereeld spesiale aanbiedings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cauin ·

Die God van die Bybel het my gebed verhoor met hul fees , eers oorstroom , toe weer fees , Genesis 19:24

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.