Kom kuier in Knysna, dis feestyd!

Oesters in Knysna Foto: Carina Stander

ʼn Maand gelede was Knysna in vlamme. Die spoor van verwoesting was geweldig. ‘n Kwart van die dorp het gebrand, onder andere ‘n hospitaal, skool, hotelle en besighede. Minstens 700 huise is binne 48 uur geraak. Ons het ‘n gesin en hul troeteldiere gehuisves wat deel was van die 10 000 vuurvlugtelinge. Plettenbergbaai en Knysna is albei tot rampgebiede verklaar. Maar met die oog op die komende Oesterfees wat al sedert 1983 in Knysna gehou word, het ek vir Julie se reisrubriek ‘n handvol spesiale doendinge uitgesoek wat nié (direk) deur die brande geraak is nie. Lank nadat die vure geblus is, nadat die rook weggewaai en die reën die roetbesmeerde landskap gereinig het, is die dapper inwoners steeds besig om hulle lewens te herbou. Om die Oesterfees in Julie te ondersteun of enige tyd van die jaar hier vakansie hou, is ‘n praktiese manier om die dorp weer op haar voete te help – terwyl jy boonop hope pret het!

Stap in die Knysna-woud Foto: Carina Stander

Wandel deur die woude
Volgens Nandi Mgwadlamba van SANParke het die inheemse woude van Knysna byna geen vuurskade gekry nie – dis meestal die fynbos en uitheemse stroke wat gebrand het. Knysna bied dus steeds wonderlike inheemse woudervarings aan stappers, hardlopers, fietsryers en voëlkykers. Jubilee is ‘n pragtige piekniekplek met braaigeriewe, poele en ‘n woudwandelpad. Circles in the Forest (natuurlik vernoem na Dalene Matthee se roman) is ‘n sirkelroete van 3 km of 9 km. Tuin van Eden is ‘n kort, rolstoelvriendelike roete naby die hoofweg. Daar is talle ander wandelpaaie rondom Knysna waar jy betower kan word deur die bosreuse en boomvarings, die Knysna-loeries met hulle skarlakenrooi ondervlerke, die skugter bosbokke, bekkige blouape en (as jy tjoepstil wag) selfs ‘n woudkabouter of drie. Skakel SANParke by 044 302 5600 of besoek die webwerf.

Fliek by Mount Knysna Foto: Carina Stander

‘n Groot bederf op die Knysna-koppe
Die Knysna-koppe is twee sandsteentorings wat soos wakende reuse tussen die Knysna strandmeer en die Indiese Oseaan waghou. Mount Knysna is ‘n blinknuwe boetiekhotel wat die afgelope jaar sy deure op die oostelike kop geopen het. Al vyf slaapkamers asook die verhitte rantvloei-swembad en ander gemeenskaplike kuierruimtes bied fantastiese panoramiese uitsigte oor die strandmeer, Leisure Island en die westelike kop. Die eienaar en sy span is uiters aangenaam en daaraan toegewy om jou welkom en bederf te laat voel. Dink aan ruim kamers met balkonne en koningsbeddens, pragtige hoekbaddens, Molton Brown-badprodukte in eksotiese geure soos gemmer, ‘n behoorlike minikroegie, ‘n Lavazza-koffiemasjien, die neuterigste beskuit op aarde, gemaklike sofa’s van leer en nog veel meer. Hou gerus die webwerf dop vir spesiale aanbiedinge. Indien jy nie in die hotel oornag nie, het jy die opsie om as dagbesoeker ‘n ontbyt in ‘n sonnige vertrek met seeuitsig te geniet. Winter is die walvisse se migrasietyd – miskien sien jy ‘n walvis terwyl jy jou verlustig aan filterkoffie, vars vrugte en mini sjokolade croissants. Of wat van eier met romerige woudssampioene op geroosterde ciabatta? Die gesondheidsontbyt van groen bone, Shitake-sampioene, pesto, quinoa en parmesaanskaafsels is ‘n unieke treffer. Die sjef is topklas! ‘n Ander moontikheid is om middagete by Mount Knysna te bespreek en daarna te fliek in die hotel se private twaalf-sitplek teater. Daar is letterlik honderde films om van te kies, oud en nuut, terwyl jy agteroorlê in ‘n luukse stoel, springmielies op die skoot en die grootskerm saam met jou vriende geniet.
Skakel 044 384 1217 of besoek die webwerf.

Knysna Fine Art Foto: Carina Stander

Besoek een van die top kunsgalerye van Suid-Afrika
Knysna Fine Art is ‘n formidabele kunsgalery met ‘n internasionale reputasie. Dit is geleë in die geskiedkundige Thesen House met sy hoë plafonne, houtvloere en ruim uitstalruimtes. Die eienaar, Trent Read, het meer as veertig jaar se ervaring in die kunsbedryf. Ek het self my nagraads in Beeldhoukuns behaal en was opgewonde om van ons land se suksesvolste beeldhouers se werke by Knysna Fine Art teë te kom: Willem Boshoff, Guy du Toit, Dylan Lewis en Angus Taylor. Hier is pragtige skilderye van die Nederlandse kunstenaar Arjan van Arendonk asook van kontemporêre plaaslike skilders soos Lionel Smit en verskeie bekende etsers en keramiekkunstenaars.
Skakel 044 382 5107 of besoek die webwerf.

Lus vir vars seekos?
Freshline Fisheries is ‘n gesinsvriendelike seekosrestaurant met seesand vir ‘n vloer en konkavure waar jy jou saans in die buitelug kan verwarm. Dis versier met visnette, booie, die stuur van ‘n skip en roeispane. Die porsies is enorm. ‘n Viskoekie is so groot soos ‘n nartjie! Die seekos paella (R187) is byna groot genoeg vir twee mense en bestaan uit garnale, twee soorte lynvis, Saldanha-mossels, kalamari-vingers, geurige rys, tjips, slaai en tartaresous. Die restaurant is oop van Maandag tot Saterdag, 11:30 – 20:00.
Skakel 044 382 3131 of besoek die webwerf.

Knysna Foto: Carina Stander

Dis Oesterfees!
Die jaarlikse Pick n Pay Knysna Oesterfees beloof weer ‘n propvol program vanaf 9-16 Julie. Daar is daagliks van 10:30 – 17:30 ʼn oulike kinderprogram wat blommerangskikking, ‘n kookklas of kunsvlyt insluit, alles in die Alice in Wonderland-tema! Kaartjies is R45 per kind. Trail Town bied op 8 Julie die Little Phantom Kids Adventure Run as deel van die Oesterfees aan. Dit skop af met skemertyd (16:30 – 18:00). Dis spesiaal ontwerp vir kinders tussen 6 en 12 jaar en afstande is 2 km of 4 km. Ná die resies ontvang elke kind ‘n aktiwiteitspakkie en word in ‘n warm plek vermaak deur gesigverwers, storievertellers, ‘n fliek en ‘n ete, terwyl hul ouers die langer Phantom Forest Night Run kan voltooi. Dink net: jy hardloop onder die volmaan met jou koplamp deur die koel, donker woud, terwyl die musiek van “Phantom of the Opera” al hoe harder speel hoe nader jy aan die eindstreep kom. Die Phantom Night Run se afstande is 6 km of 12 km. Dis nie net vir fikses bedoel nie – alle aktiewe mense wat hou van musiek, avontuur en die natuur is welkom. Ná die tyd ontvang jy ‘n stomende aandete by die Simola-klubhuis.

Bekyk gerus die volle Oesterfees-program om meer te wete te kom oor ander buitelugaktiwiteite, sportgeleenthede, musiekkonserte, komedie, besoeke aan die vloot en natuurlik… oester-ervarings!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niekie ·

Dis hartseer wat gebeur het maar met God se hulp sal Knysna mooier as ooit wees…….Dis reg Knysna staan op en wen

Carina Stander ·

KarenG – dankie dat jy van my foto’s hou. Daar is ‘n woordbeperking van 1000 woorde op ‘n reisrubriek – dis heel voldoende, maar mens kan onmoontlik die agtergrond skets en aan alles in ‘n omgewing wat lekker is aandag gee. Eerder ‘n paar spesiale doendinge noem (darem meer as genoeg om ‘n vakansieganger vir ‘n naweek te vermaak) en verder deel mens die skakels na webwerwe sodat lesers self verder kan rondsnuffel. Dis maar die aard van reisjoernalistiek.

Sann ·

KarenG ek ervaar ook dat die berig in die helfte van ‘n sin stop. Ek weet nie of dit dalk iets te make het met ons plaassein nie, alhoewel al die foto’s hier is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.