Kom ons gaan stap – die moets en moenies wanneer jy ’n staptog aanpak

Foto ter illustrasie. (Foto: Art of Hoping/Unsplash.)

Ná ons maande noodgedwonge in ons huise gebly het, voel dit behoorlik of die huis se vier mure ons vasdruk. Gelukkig het ons onlangs goeie nuus ontvang. Ons mag weer, volgens nuwe regulasies, op ’n staptog gaan. Dit is nou nie ’n vakansie nie, maar dit gee ons kans om die winterson te geniet en saam met die kinders uit die huis te kom. Hoekom dan nou nie?

Verskeie studies dui op die voordele daarvan om groen ruimtes soos parke en natuurreservate te besoek. Een so ’n studie wat in 2016 gepubliseer is, het gevind dat mense wat meer tyd in die natuur spandeer, laer bloeddruk het en minder aan depressie lei.

Adeline Edmonds van die Footprint Hiking-klub in Gauteng sê die klub se foon het nog nie ophou lui vandat die nuwe regulasies staptogte toelaat nie.

“Daar is tans groot belangstelling in staptogte veral in Gauteng.” Sy meen mense is moeg vir hul huise en wil graag weer die natuur geniet.

“Inwoners van die Kaapprovinsie kan tans kies en keur, maar staptogliefhebbers in Gauteng het nie ’n baie groot verskeidenheid nie, nietemin is daar ’n hele paar mooi staptogte in dié provinsie.”

Sy sê omdat mense nie meer hul geliefkoosde sportsoorte kan beoefen nie, stel baie meer mense nou belang om te gaan stap.

“Ek kry die gevoel mense is ook depressief en soek graag ’n uitlaatklep vir die hewige druk waaronder ons moet funksioneer. Stap is natuurlik ’n goeie manier om van oortollige spanning ontslae te raak.”

Sy sê daar is soveel vroue wat haar uit desperaatheid bel, want hul mans wil nie stap nie.

“Die klub kan ongelukkig nie staptogte in dié stadium reël nie, aangesien die regulasies dit steeds verbied. Ek kry hulle dan so jammer, want dit is nie veilig om vroualleen – al is dit saam met ’n paar vriendinne – te gaan stap nie. Dit is beter om ’n man in die groep in te sluit.”

Edmonds sê mense wat nog nie staptog aangepak het nie, dink dit is soos om in die Botaniese op ’n Sondag middag. “Dit is waar meeste mense ’n fout maak. Sommige staproetes is baie uitdagend,  en kan nie sommer net sonder enige voorbereiding aangepak word nie.”  Volgens haar sal die regering heel moontlik die klub toelaat om weer formele staptogte te reël tydens vlak 2 regulasies, tot dan, mag mense nie oornag staptogte aanpak nie.  ’n Oornag staptog verg nog meer voorbereiding.

Edmonds is ’n ervare stapper en het reeds tientalle staptogte jaarliks vir die Footprint Hiking klub gereël.  Sy kan dus uit ondervinding  ’n paar goeie wenke gee.

  • Moet nooit alleen gaan stap nie. Groepe van vier of meer mense is beter. Daar moet verkieslik ’n man in die groep wees.
  • As jy op ’n staptog besluit het, kies iemand in die groep wie bereid is om navorsing oor die staproetes te doen. Vind uit hoe moeilik die roetes is. Bel die reservaat en vind uit wat dit behels en bestudeer  ’n kaart van die verskeie roetes, as daar een is.
  • Vind of daar betroubare selfoonopvangs op die roete is en beplan daarvolgens vir indien daar ’n noodgeval is.
  • Moenie die moeilikheidsgraad van ’n staptog onderskat nie. As jy nie fiks genoeg is vir ’n staptog nie, moet dit nie aanpak nie. As jy nie opgewasse vir ’n staptog is nie, kan jy beseer word of selfs ’n hartaanval kry.
  • Beginners is geneig om die moeilikheidsgraad en gevare wat stap kan inhou, te onderskat. As jy ’n beginner is, pak eerder ’n makliker staptog aan om eers ’n gevoel te kry vir wat dit behels.
  • Maak seker jy het noodnommers van die omgewing byderhand.
  • Pak genoeg water, ’n sonhoed en sonbrandmiddel in. ’n Eenvoudige noodhulpkissie in jou rugsak kom ook handig te pas.
  • Maak seker iemand weet waar julle gaan stap het en hoe laat om julle terug te verwag.
  • ’n Baie ervare stapper kan dalk 12 tot 15 km per dag stap, maar as jy nog nie genoeg ervaring het nie, moenie sommer meer as 5 tot 8 km gaan stap nie. Dit kan dalk baie langer duur as wat jy dink en jy gaan dalk sukkel om die roete voor sonsondergang klaar te maak.
  • Dit is ook belangrik om goeie stapskoene te dra. Die skoene moet gemaklik wees, maar ook nie so oud dat jou sole deurgeloop word, of selfs skeur tydens ’n staptog nie.

Hier is ’n lys van gewilde staproetes in en om Gauteng:

  • Die Modderfontein-natuurreservaat naby Edenvale het ’n staproete van 8,3 km. Daar is ook korter staproetes wat stappers kan geniet. Fietsryers kan langer roetes van 10, 18, 32 en 42 km aanpak. Die reservaat is oop vanaf 06:00 tot 18:00, maar die piekniekarea bly gesluit. Geen besprekings is nodig.
  • Sable Ranch naby Hekpoort in die omgewing van die Magaliesbergreeks het twee staproetes van 8 km en 12 km. Die plek is sewe dae per week oop. Voorafbespreking is verpligtend. Stappers kan ná die tyd op die perseel braai. Mense wat saam in ’n voertuig opdaag, kan in ’n groep saamstap.
  • Die Ezemvelo-natuurreservaat naby Bronkhorstspruit bied drie staproetes: die Ochna (4 km), Protea (14,6 km) en die Burkea (21 km). Stappers het ’n permit nodig vir hierdie roetes. Een permit per voertuig word uitgereik. Daar mag egter nie meer as vyf mense per voertuig wees nie. Bespreking is verpligtend. Die reservaat is op naweke vanaf 08:00 tot 17:00 oop.
  • Windy Brow-natuurreservaat net buite Cullinan het drie staproetes: die 3,3 km-roete, die 4,5 km-roete asook ’n 5 km-roete en is oop op publieke vakansiedae en naweke. Bespreking is verpligtend.
  • De Wildt Adventure trails naby Hartbeespoortdam bied twee staproetes aan: Kiepersol (4,6 km) en Groenklip (12 km en 15 km). Die Kiepersol-staproete is troeteldiervriendelik en is oop vanaf Woensdag tot Sondag. Registrasie open om 07:00 en sluit om 15:00. Die Groenklip-roete kan net oor naweke gestap word en registrasie vind om 07:00 plaas (geen laatkommers sal gehelp word nie).
  • Rustig Farm (naby Hekpoort) is steeds in Gauteng. Daar is vyf staproetes: 3 km, 5 km, 9 km, 13 km en 18 km. Stappers kan vanaf 08:00 tot 17:00, Dinsdag tot Sondag kom stap. Besprekings moet vooraf gemaak word.

Daar is baie gewilde staproetes wat nie hier genoem word nie. Verken jou provinsie, daar is talle plekke op jou drumpel wat jy kan ontdek. Is daar ‘n staproete in jou provinsie wat jy vir mense wil aanbeveel? Laat weet ons in die kommentaarafdeling.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.