Kom vind weer jouself

Die kleur van die see hier in de Hoop is onmoontlik om in woorde te beskryf (Foto: Marianne Styan)

Hoe spesiaal die afsonderingsperiode ook al vir sommige van ons was omdat ons weer meer familietyd kon hê, glo ek tog daar het iets verlore gegaan in die proses. Myself.

As ʼn werkende ma, was dit dikwels so moeilik om bietjie alleentyd, indien enige, te kry tydens die inperking. Ek glo in balans in die lewe en inperking het daardie balans kom versteur. Nie net vir my en my man nie, maar selfs vir my kleuters wat na ander menslike interaksie begin smag het en dit op mekaar begin uithaal het. As jou introvert-kind begin vra vir sosialisering, dan moet jy weet iets is fout met die omstandighede.

Ek glo mens moet genoeg gesinstyd hê, maar ook ʼn gesonde hoeveelheid alleentyd en sosialisering met vriende. Hierdie verspreiding van jou tyd verseker juis dat jy gesond bly, fisies en geestelik.

Daarom het ek die geleentheid aangegryp toe ek genooi is om vir ʼn naweek na die De Hoop Collection in die De Hoop Natuurreservaat te gaan. Dis ʼn maklike en pragtige drie ure se ry vanaf Kaapstad langs die gewilde Tuin- en Walvisroete. Hierdie tyd van die jaar is die pad ʼn lappieskombers van groen en geel, met die kanolavelde wat in volle blom is.

Maar in De Hoop was dit die ontploffing van fynbos en proteas oral waar jy kyk wat my asem weggeslaan het. Dat die veld weet die lente is hier, ten spyte van ysige koue wat die naweek saam met ons daar aangekom het, is vir my net verbysterend. Massas diere – elande, blesbokke, bontebokke en volstruise – wei rond soos beeste op die groen velde, besprinkel met geel veldblomme, wat die akkommodasie omring. Voor die hoofgeboue en ontvangs staan ʼn paar 50-jarige en 70-jarige Natalse vyebome, soos statige ou grysaards.

70-jarige Natalse vyeboom voor die Opstal en suites (Foto: Marianne Styan)

Dis wanneer jy aanmeld dat jy besef hoeveel verskillende tipes akkommodasie daar verskuil lê en ek weet dat ek myself hier sou kon vind of ek alleen gekom het en of ek die hele gesin saamgebring het. Want hier is nie ʼn tekort aan aktiwiteite of spasie nie, en iets vir elkeen van die gesin, wat hulle voorkeur ook al mag wees.

Die verblyf wissel van kampplek en volledig toegeruste rondawels tot luukse suites en alles ingesluit lodges. Die personeel is ongelooflik vriendelik en akkommoderend, en staan altyd gereed om te help. Aktiwiteite sluit in tennis, swem, fietsry- en staproetes, voëlkyk-safari’s (saam met goed opgeleide gidse) en bootritte op die Ramsar-gelyste vlei, gonsend van flaminke en ander watervoëls, wat reg voor die hoofgeboue geleë is.

Kos en wyn van The Fig Tree Restaurant wat in The Shed geleë is, is uit die hoogste rakke en mondwater lekker. Die wye verskeidenheid wyn, beskikbaar om van te kies uit die eienaar se privaat versameling uit die Silo-wynkelder, word deur die kelners aanbeveel om perfek by die kos te pas. Die gesellige kaggel in die sitarea lok gaste al vroegmiddag om daar te kom koffie en koek geniet of ʼn potjie skaak te speel.

Die kamers is snoesig en eie aan die plaashuisgevoel wat die buitekant van die witgekalkte geboue weerspieël. Tydens die koue hou warmkomberse op die bed jou heerlik warm en mag dit dalk moeilik wees om in die natuur te kom…

Vir my was egter die hoogtepunt om weer in die natuur te kan wees. Om die hele afsonderingsperiode teen mure vas te staar en net ʼn paar uur ʼn dag te kon uitkom, het ʼn gevoel van beklemming my oorweldig en het my hart gesmag na die buitelug. Verskeie staproetes kan gevolg word deur die ryk fynbosarea, maar twee uitstappies wat vir my bo enige ander aktiwiteite uitgetroon het, is ʼn piekniek by Koppie Alleen en die bergstap om die Kaapse aasvoël-kolonie te gaan besigtig.

ʼn Uitstappie na die strand van Koppie Alleen kan per motor of te voet gedoen word. Dis ʼn lekker 15 km se stap, want die omgewing is plat en pragtig en dit is dus maklik doenbaar. Terwyl jy jou pad tussen die fynbosse deurbaan hou die wit duine van die strand in die verte jou op koers. Vir families mag die motor dalk ʼn beter opsie wees. Terwyl ons ons piekniek geniet, is ons deur sowat 100 walvisse en hulle kalfies vermaak terwyl hulle wegkruipertjie gespeel het in die branders neffens die strand. Dalfrenzo (een van die gidse) se kennis oor dié reuse van die see is indrukwekkend en só insiggewend dat jy daar weggaan met ensiklopedieë vol nuwe kennis en respek vir die saggeaarde soogdiere.

Walvisse spring en speel by Koppie Alleen (Foto: Marianne Styan)

Dillon, ons gids vir die stywe stap uit teen Potberg (omtrent 40 minute se ry per motor vanaf De Hoop Collection), het die pad aansienlik verkort deur interessante inligting oor die fynbos, grond, voëls en proteas te deel. Dit was egter by die uitkykpunt oor die vallei en kranse, wat die amper 200 Kaapse aasvoëls hulle huis noem, waar hy nie uitgepraat kon raak oor hoe ongelooflik hierdie voëls aangepas het om in hierdie omstandighede te kan oorleef nie.

Toe ek ná die naweek daar wegry, het ek weer soos my ou pro-inperking-self gevoel. Ek was weer lus vir die lewe en enige uitdaging, maak nie saak wat die res van 2020 na my kant toe gaan gooi nie. Ek het egter besluit dat ek nie weer alleen hierheen wil kom nie, want De Hoop se rustigheid sou ons hele gesin goed gedoen het en ons weer ons ou ritme laat kry het.

Ons almal sal weer onsself hier kon vind.

LET WEL: De Hoop Collection het op die oomblik ʼn wonderlike spesiale winter-aanbieding van 40%-afslag. Moenie dat hierdie kans by jou en jou gesin verbygaan nie.

*Die De Hoop Collection is deel van Cape Country Routes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.