Krone-konsert ʼn saamsing-jol soos min

Een van die dae kan aanhangers van die Krone-konserte weer saam met duisende ander konsertgangers ʼn hele rits Suid-Afrikaanse kunstenaars op een verhoog sien.

Dié keer vind die gesogte saamsing-jol by Loftus Versfeld in Pretoria plaas, en beloof om een van die grootste Krone-geleenthede nóg te wees.

Kunstenaars soos Appel, Barto, Bernice West, Brendan Peyper, Christia Visser, Dirk van der Westhuizen, Elandré, Elizma Theron, Eloff, Jan Jan Jan, Juan Boucher, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Leah, Liezel Pieters, Nicholis Louw, Prop, Reën, Refentse, Ricus Nel en Snotkop gaan die verhoog aan die brand sing en dans.

“Ons werk reeds hard aan die konsert wat in Augustus gehou sal word,” sê Stephan van Huyssteen, bestuurder van regstreekse optredes by Select Musiek.

“Ek verstout my om te sê dat Krone se terugkeer lekkerder en groter as ooit gaan wees. Kom sing saam in 360 grade soos ʼn stadionvertoning bedoel is om geniet te word.”

“Ons sit die heel lekkerste moewiese saamsing jol aanmekaar. Dit gaan ʼn groot bederf wees. ʼn Krone-vertoning wat julle nog nooit beleef het nie. Bring almal met gees saam,” sê Ernst Kleinhans van Select Musiek, organiseerders van die Krone-konserte.

“Ons sien uit om die grootste en geselligste Krone-gehoor nóg te verwelkom by Loftus. Ons kan nie wag nie.”

Alle kaartjiehouers wat reeds in 2020/21 kaartjies aangekoop het vir die Krone-konserte in Pretoria en Kaapstad, wat weens die pandemie gekanselleer moes word, se kaartjies word na vanjaar se Krone-konsert by Loftus oorgedra.

ʼn Terugbetaling kan by iTickets aangevra word, aangesien die Kaapstad-vertoning nie meer gaan plaasvind nie.

Kaartjiehouers sal deur iTickets gekontak word met inligting of kaartjiehouers kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

Kaartjies vir die Krone-konsert by Loftus is by iTickets beskikbaar. Die konsert vind op Saterdag 19 Augustus plaas.

Krone-bootreis

Kurt Darren op die Krone-bootreis vroeër vandeesmaand. (Foto: Instagram/Krone Fans)

Die MSC Orchestra het vroeër vandeeesmaand oudergewoonte die Krone-bootreis aangebied, en dit was weereens ʼn dawerende sukses.

Die boot het van 2 tot 5 Februarie vanjaar van die Durbanse hawe af na die Portugese-eiland gevaar.

Kurt Darren, Monique Steyn, Brendan Peyper, Liezel Pieters, Eloff, Elizma Theron en Refentse het die vermaak tydens vanjaar se bootreis verskaf.

Nie net kon passasiers die kunstenaars tydens twee konserte op die dek van die boot sien optree nie, maar hulle het ook die geleentheid gekry om skouers te skuur en saam foto’s te neem.

Die kunstenaars het ook twee opwindende teatervertonings aangebied.

Benewens die konserte is passasiers ook bederf met buffet-etes vir ontbyt, middag- en aandete, tientalle kroeë en kuierplekke regoor die skip, en ander vermaak op die dek in die teater deur die MSC-personeel. ʼn Casino, nagklub en ʼn handjievol restaurante was ook beskikbaar.

 

Die Krone-bootreis is volgende jaar selfs nog groter, met die vaart wat op die splinternuwe MSC Splendida gaan plaasvind. Sowat 4 400 passasiers kan die plesierbootreis meemaak.

Die Splendida bied onder meer ʼn Broadway-styl-teater, ʼn 4D-fliekteater, ʼn Formule 1-simulator, kinderareas, ʼn spesiale seiljagklub, ‘n verskeidenheid restaurante en maaltye vir die fynproewer.

Die besprekings vir hierdie bootreis is reeds oop. Met ʼn deposito van R3 000 kan jy solank ʼn kajuit bespreek.

Die Krone-bootreis vind van 2 tot 5 Februarie 2024 plaas. Besprekings maak binnekort oop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ina ·

Sal graag ook wil weet waar is Steve, hoekom staan net een sanger hom by. Die res ????????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.