Kruger-wildtuin se vyf lekkerste ruskampe

Olifante in die wildtuin Foto: Marianne Styan

Olifante in die wildtuin Foto: Marianne Styan

Foto’s en die ritsgids volg onderaan die berig.Wanneer jy jou jaarlikse vakansie in die Kruger-wildtuin bespreek, is daar ‘n paar dinge wat jou keuse van ruskamp beïnvloed: braaigeriewe, wildbesigtigings, familiegeskiedenis, swemgeriewe en die gehalte van die geriewe. Ongeag, elke ruskamp het sy unieke atmosfeer en eienskappe wat dit spesiaal maak.

Terwyl dit moeilik is om regtig uitsonderings te maak – daar is heelwat kampe in die wildtuin – is die volgende vyf ruskampe na my mening, die lekkerste om by te gaan uitspan.

Berg-en-Dal is ‘n halfuur se ry van die Malelane-hek af. Sy ligging – letterlik vier ure se ry van Pretoria – is natuurlik ‘n groot pluspunt. Maar bo en behalwe dit, spog dié kamp met van die gemaklikste en ruimste wooneenhede. Die kamp se gelukbringer is ironies genoeg die witrenoster, miskien omdat jy vanuit Berg-en-Dal dié pragtige, bedreigde dier dikwels op wildsritte sien. Die kamp se algemene openbare area kyk uit op ‘n dam waar diere gereeld ‘n draai kom maak.

Laer-Sabie is een van die mees onlangs opgradeerde kampe van die Kruger. Dis geleë naby aan die Krokodil-hek en het ‘n idilliese ligging op die Sabie-rivier se lowergroen rivierwalle, met die Lebomboberge in die agtergrond wat die prentjie voltooi. Die wooneenhede is gemaklik en modern. Wat dié kamp egter een van die mees gewildstes maak is die oorvloed diere wat jy hier sien. Dit kan wel ongelukkig veroorsaak dat jy moet stoei vir ‘n behoorlike plek by enige wildsbesigtiging. Die restaurant-area met sy mooi uitsig oor die rivier is egter die vertroosting. Jy kan jou ure lank vermaak deur vir die pragtige voëls en diere te kyk wat kom water drink.

Pretoriuskop is naby Numbi-hek. Diere was altyd skaars in die omgewing, volgens my mening, maar deesdae het ek heeltemal ʼn ander opinie. Hier is ‘n wonderlike verskeidenheid diere en ek het lanklaas so baie luiperds gesien. Die kamp is tussen koppies geleë , wat natuurlik die perfekte habitat is vir luiperds om in te floreer. Pretoriuskop is redelik onlangs oorgedoen en daar is ‘n groot verskeidenheid nuwe wooneenhede wat lieflik uitgelê is.

Satara is geleë op die “Serengeti – pleine” van die wildtuin en dus voel dit soms of dit ‘n groot migrasie is soos wat die diere in hulle massas wei. Dit veroorsaak natuurlik ook dat die groot katte gereeld hier gesien word, aangesien dit vir hulle ‘n heerlike “alles-wat-jy-kan-eet”- buffetrestaurant is. Die kamp se hutte is in groot sirkels uitgelê en bied goeie privaatheid. Satara is een van die grootste kampe in die Kruger en daar is ‘n groot verskeidendheid wooneenhede om van te kies. Die naaste hek is Orpen.

Letaba se naaste hek is Phalaborwa. Dit geleë is by die kruising van drie hoofpaaie in die wildtuin. Die omgewing is pragtig, meestal groen en boomryk a.g.v. die ligging langs die Letaba-rivier oftewel die “Rivier van Sand”. Die skaam jagluiperd is een van die jagters wat hier rond gesien kan word. Skaars boksoorte soos die massiewe eland en Sharpe se grysbokkie kom ook algemeen voor. Die verblyf varieer van luukse gastehuise tot groot rondawels.

Vertel ons gerus wat is jou gunsteling ruskamp?

Ritsgids
• Indien jy gereeld wildsparke besoek, belê in ‘n Wild Card. Daarmee kry jy of groot afslag of jy kan verniet in die park ingaan.
• Afsaal-piekniekarea is ‘n heerlike brunch-uitstappie en dit vat jou so uur vanaf Berg-en-Dal om tot daar te ry. Weet net daar is nie omheining vir die area nie; hou dus maar ‘n ogie op die olifante wat nou en dan kom kos bedel.
• Laer-Sabie en Letaba spog albei met ‘n nuwe Mugg & Bean restaurant.
• Pretoriuskop en Satara het albei deesdae ‘n Wimpy-restaurant.
• Moenie enige diere kos gee in die wildtuin nie, selfs al is dit die blou-apies in die kampe. Hulle word so ‘n oorlas dat hulle van kant gemaak moet word.
• Hou by die spoedgrens. Daar is ‘n rede hoekom jy nie vinniger mag ry nie. Jy bevind jouself in diere se natuurlike habitat en hulle kyk dus nie links en regs voor hulle oor die pad stap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ryk van Jaarsveld ·

Bly net ver weg van Skukuza – dis deesde ‘n stad. Baie geraas, veral van voertuie, dwarsdeur die nag. Jy hoor nie meer dieregeluide in die nag nie. Onlangs daar oorgebly en die nag was daar ‘n oorverdowende disco partytjie tot lank na 23h00! Bly weg as jy rus en vrede soek. Ek verneem Sirheni boskamp is ideaal.

Gerhard Bezuidenhout ·

Ek is klaar met die Kruger Wildtuin alhoewel ek dit as en van ons nasionale erfenisse beskou.Met my laaste besoek is ons ook een aand vermaak met n partytjie wat tot in die vroee oggendure geduur het en dit het n besigheid geword en is nie meer soseer n natuurpark nie.Buitendien werk daar van die ongeskikste en rassistiese personeel denkbaar.Neewat wanneer jy eers die wildtuine oor ons landsgrense besoek het,vind mens uit dat daar n lewe na die Kruger Wildtuin is.

Eddie ·

Het julle al gehoor van BALULE, DIT is nou rus en vrede,
15 staanplekke, 6 rondawels en GEEN krag.
Ek kamp nou al nege jaar hier en was nog nie een dag spyt nie.
Skukuza is uit, dit het al tien jaar terug besluit.

Paul van Jaarsveld ·

Satara het ñ Mugg&Bean?
Hier onlangs gently en baie geniet.

Biem Wessels ·

Ek en my man, Johan, is baie lief vir die natuur en gaan so gereeld as moontlik Kruger Wildtuin toe – vir dag besoeke asook vir ons jaarlikse verlof wanneer ons vir 13 nagte gaan kamp!
Wat ons nie kan verstaan nie is hoekom party mense so moet jaag nie …. en daar is deesdae baie van hulle. Ongelukkig is die wildtuin vinnig besig om agteruit te gaan – daar is baie meer gemors wat rondlê wat dood eenvoudig net uit die voertuie gegooi word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.