Kuier al met die alfabet langs in Durbanville

Altydgedacht, wat uit 1698 dateer, bied wynproeë gedurende die week aan. Die proe word waargeneem deur Deidre Smit, proelokaalbestuurder, en die nuwe wynmaker, Helgard van Schalkwyk, wat in September 2020 by die plaas aangesluit het.

As jy wonder waar om met jou besoek aan die Durbanville-wynvallei te begin, oorweeg “A” en werk stadig maar seker deur die alfabet, skryf Maryke Roberts.

Die vallei se webwerf is só ingedeel: Drink: waar 15 wynplase wag: Dine: waar 15 lekkerbek-eetplekke op wynplase wag en Discover: waar alles wat die vallei het om te bied – van fietsry, piekniek, tot voëls- en wildkyk – gelys is.

ʼn Mens misgis jou maklik as jy dink dat die vallei ’n jong wynmaakbestemming is; tot jy gaan oplees en besef van die land se oudste wynplase en opstalle lê hier, met Tafelberg soos ’n statige dame in die verte. Hier is witgekalkte mure, slaweklokke, ossewastore en skure waarin bekende gevangenes soos Napoleon se sekretaris, Graaf De Las Cases, opgesluit was.

Ons ry uit op Tygerbergvalleiweg en draai onder die digte bome by Altydgedacht, wat uit 1698 dateer. Die plaas was sedert 1852 in die Parkers se besit, maar in 2017 het hulle vennote wat in die boubedryf uitblink gekry en só ’n nuwe era vir die plaas ingelui.

Ons het vroeër jare gereeld naweke onder die bome kom kuier en saam met vriende wyn gedrink en regte plaaskos geniet, terwyl die fietsryers in ons vriendekring die heuwels plattrap. Die plaas bied nou slegs wynproeë gedurende die week aan. Mense kom egter steeds vir perderitte en boogskiet, of speel Lasertec, maar dit word deur onafhanklike operateurs bedryf.

Die proe word deur proelokaalbestuurder Deidre Smit waargeneem, saam met die nuwe wynmaker, Helgard van Schalkwyk, wat in September 2020 by die plaas aangesluit het. Hy het die afgelope 18 maande sy hand aan verskeie eerstes in sy wynmaakloopbaan gewaag, waarvan ’n Blanc de Blanc Cap Classique vonkelwyn, sauvignon blanc en wingerd-aanplantings van onder meer chardonnay en barbera.

Ons sit in die proelokaal wat uit 1702 dateer. Twaalf reusevate vorm ’n historiese agtergrond vir die proe. Ses wyne – Cap Classique, Sauvignon Blanc, Gewürztraminer, Old Vine Chenin Blanc, Pinotage en Barbera – is te proe en te koop. Die vallei is vir sy sauvignon blancs bekend, maar ook vir pinotage en hier ontdek ons ’n heerlike een van 2019 en barbera van 2018, wat nog deur die vorige wynmaker, Etienne Louw, gemaak is. Hy is nou Nitida, ’n katspoegie verder, se wynmaker. Sy Old Vine Chenin Blanc kom uit ’n 48-jarige bosstok op die plaas en is vir nege maande verouder. Dis een vir die wynrak.

Die Gewürztraminer laat my mond vir ’n lekker bord kos water en Helgard sê: “Dit werk ongelooflik lekker met speseryagtige kos en is heerlik veelsydig.” Hy erken dat hy verlief is op dié kultivar en barbera. Die plaas is een van net ’n handjievol wat barbera-aanplantings het en dit as enkelkultivar maak.

Helgard se entoesiasme oor wyne wat hy in die volgende oesjaar of twee wil maak is aansteeklik, en te oordeel aan sy Sauvignon Blanc 2021, is daar goeie dinge op pad. Hy beskryf homself as ’n minimalistiese wynmaker en sê die afgelope anderhalfjaar het hom gewys dat hy sekere wyne kan maak wat hy nie vantevore gedink het hy kan nie.

Af met die alfabet en af in die M48 na Canto boetiekwyne. Hier kan jy wyn, vonkelwyn, of gin & tonic proe. Ons het al voorheen die geleentheid gehad om die wyne wat deur die bekroonde Anneke Potgieter gemaak word te proe, en ons kies die Cap Classique-en-makrolletjieproe.

Kukumakranka Gin word op die landgoed se sustersplaas, Bellevue op Stellenbosch, gemaak. Die proe word met vier verskillende tonikums gedoen en elkeen kry sy eie geurmiddels soos steranys, roosblare, komkommer en gedroogde lemoen.

As jy buite op die stoep sit terwyl die sonnetjie die vallei so lekker warm bak en strepe maak oor die chardonnay en merlot wat die moderne kelder omring, is dit net die regte drankie.

Wat die vonkelwynproe ’n móét maak, is Anneke se slag met ’n baie raar Cap Classique wat van shiraz gemaak is: die Canto Shiraz Rosé Brut 2018. Dit het vier sterre in die Platter-gids en goud by Michelangelo gewen. In die proe word dit met ’n rooifluweelmakrolletjie bedien. Dié vonkelwyn was vir drie jaar op die gismoer, is droog en speseryagtig en jou tong vra vir meer. Slegs drie plase in Suid-Afrika gebruik shiraz. Die ander twee is Nitida en Clos Malverne.

Die Chardonnay Brut 2018 word met ’n haselneutmakrolletjie, die Pinot Noir Brut 2018 met ’n Turkish Delight-makrolletjie en die Chardonnay/Pinot Noir Brut 2019 met ’n gesoute karamel-makrolletjie bedien.

Kelnerin Jade Margoc vertel dat Canto ’n liriek in Italiaans is en voeg dan by: “Elke wynplaas in die vallei is ’n liriek in die liedjie van Durbanville.”

“Diep,” soos my vriendin sou sê. Aan met die alfabet en aan met die pret.

D’Aria-wynkelder lê oor twee plase, Doordekraal en Springfield, wat uit 1698 dateer. Dit is gewis een van die oudste in die vallei en maak sedert 2008 wyn. Jy kan lekker buite onder die bome ontspan en ’n kaasbord of kaas-en-vleisbord saam met jou wynproe geniet. Die plaas het drie wynreekse: die Reserve-, Premium- en Music-reekse. Die wynetikette is só gepas – Songbird, Soprano, Blush, Lullaby, The Piccolo, Pop Song, Rock Song – en ek dink weer aan ons kelnerin by Canto se opmerking oor lirieke.

Daar is voorwaar iets vir elkeen.

Ek onthou ons vorige besoek toe Zanne Stapelberg, operasanger, in die pragtige ruie tuin onder feetjieliggies gesing het. Haar welige bos donker hare het pêreltjies ingehad wat by haar rou syrok gepas en die lig weerkaats het. Die kos en wyn was hemels en die besoek staan al vir jare uit as een van ons lekkerste wynplaaskuiers.

Ons is gelukkig, want ons kuier heelaand met Lutske Scholtz, nog ’n formidabele jong vrou en wynmaker wat saam met Rudi von Waltsleben die towerstaf in die wingerd en daarna in die kelder swaai. Lutske het ’n bos krulle wat haar soos ’n bosnimf laat lyk en haar entoesiasme vir die wyn én vir die lewe is aansteeklik.

Ons besluit om ons “wynproe” saam met ete te doen en smul aan soesji en seekos by The Terrace terwyl Lutske tussendeur van die wyne vertel. Die gebied is bekend vir Sauvignon Blanc en die Songbird stel nie teleur nie, maar dis die Soprana Shiraz waaraan ek eerder as poeding teug.

Net langsaan is die Patina Steak & Wine-restaurant en die Botany-kuierplek vir skemerkelkies – al drie dreun van die kuiermense. Die Durbanvillers is joviaal, luidrugtig en my soort mense!

Dis laat toe ons by ons verblyf, Loch Lynne, indraai. Ja ek weet, dit peuter nou met die alfabet, maar as ek by “d” moet bly, sal ek sê dis deksels mooi en die dekor is iets om voor dankbaar te wees, want iemand het deeglik daaroor gedink!

Die huis sit op ’n koppie, meer as 300 meter bo seespieël, en aan een kant is al wat jy deur die reuse- glasruite sien rye en rye wingerde. Aan die ander kant van die huis wink die koringlande van die Swartland. Dit het juis sy ontstaan as koringplaas gehad en die omskepte silo’s en graanstoor is vandag ’n luukse troubestemming. Die huis waarin ons bly is gewoonlik vir die troupaartjie en hul ouers bestem, maar ons geniet die luukse en stoom tot ounag toe in die diep bad met kerse en sagte musiek.

Ons verblyf, Loch Lynne gastehuis, is tussen die wingerde en nie ver van ons huis af nie is ’n mooi dam met ’n spuitfontein waar jy onder die wilgerbome kan kuier.

Om voor sonop kruisbeen in ’n rottang- hangstoel te sit, by die reuseskuifdeure wat die vertrek aan drie kante deel van die buitekant maak en te sien hoe die wind die populierbome laat dans, is vrede. Die hipnotiese heen en weer van die slap boomlote wat hul eie Meksikaanse golf uitvoer, is kalmerend en vertroostend.

Daar is geen haas na iets beter nie. Dis net jy, jou gedagtes en die koffie in jou beker. Die vroegoggend voëlgesang is die enigste musiek in jou ore.

Ons gooi die deure oop en geniet ons tweede koffie op die stoep.

Later wag ’n kuierdag by De Grendel. Voor jy op die stoep gaan sit en wyn proe met die ruite wyd oopgeskuif terwyl jy die bote in die hawe en op die horison dophou, maak ons ’n plaastoer op ’n wildkykvoertuig mee.

Die son kruip net agter die ou Koetshuis uit wat in 1890 op die plaas gebou is, toe ons saam met Douglas Swanson in die wildkykvoertuig op die plaas rondry. Ons hoor die stories agter die historiese plaas en ʼn mens kan jou hoed afhaal vir wat die Graaff-familie al hier vermag het vandat die 880-hektaar plaas in 1891 in hul besit gekom het. Hiervan is 78 hektaar onder druiwe en 5 hektaar bloubessies.

Dis so lekker om te hoor waar die wyne se name vandaan kom en elkeen dra by tot die plaas se ryk geskiedenis.

David Graaff was as jong seun ’n skaapwagter voor hy in die Kaap in sy oom se abattoir kom werk het. Hy was ʼn knap 30 toe hy as burgemeester van Kaapstad ingelyf is.

Dis te danke aan hom dat die stad elektriese straatligte, verkoeling en rioolwerke gekry het en daar is nog vele ander historiese plekke en datums waarmee die Graaffs geassosieer word.

Hy word in 1911 as ’n baronet deur koning George V tot ridderskap ingelyf en word Sir David Graaff. Sy oudste seun, De Villiers, neem die plaas in 1931 oor en word ’n krygsgevangene in die Tweede Wêreldoorlog.

Tans is die eienaar, ook De Villiers, die vierde geslag wat die titel “Sir” dra.

Tussen al die interessante vertellinge deur wys Douglas vir ons die visarendpaar se nes, elande teen die heuwel, springbokke, bontebokke en rooihartbees. Ook die heuwel waarna die Proposal Hill Cap Classique vernoem is waar twee paartjies al verloof kom raak het, word verbygery.

D’Aria-wynkelder lê oor twee plase, Doordekraal en Springfield, wat uit 1698 dateer. Ons besluit om ons “wynproe” saam met ete te doen en smul aan soesji en seekos by The Terrace. Net langsaan is die Patina Steak & Wine-restaurant en Botany-kuierplek vir skemerkelkies – al drie dreun van die kuiermense. Die Durbanvillers is joviaal, luidrugtig en my soort mense!

Met hierdie geskiedenis is dit ook geen wonder hulle het die beste wynmaker gekies nie. Charles Hopkins is sedert 2005 die wynmaker. Hy het gehelp om die kelder vir die plaas te ontwerp en in elke wynkompetisie is De Grendel op die wennerspodium. Die mure op pad na die kelder, restaurant en proelokaal is omtrent met sy toekennings behang. Charles is ook nie bang om nuwe dinge te probeer nie en vele jong wynmakers kom klop by hom aan vir advies – veral as hulle ’n ingewing kry om pionierswerk te doen.

Ons doen ’n uitsonderlike proe met Charles waar hy nie net wyne uit verskillende grondtipes, in verskillende style gemaak en met verskillende hellings nie, maar ook uit verskillende streke vertoon.

Die plaas se uitsig oor Tafelbaai, wildritte en voortreflike wyne word mooi deur die restaurant aangevul waar sjef Ian Bergh ons honger mae stil. Dit is een van die Kaap se lekkerbek-plekke. Jy kan kies uit ’n twee- of driegangspyskaart en vir elke gang is daar ’n voorgestelde wyn. Ons smul aan springboklende en tuna voorgeregte, voor die lamsribstuk en varklies my wil laat glo ek is in die koshemel.

’n Namiddagslapie terug by Loch Lynne is nodig ná die feesmaal!

  • Ons reis volgende week verder deur die Durbanville-wynvallei.
  • Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.