Kuier in ʼn karaktervolle kanaaldorpie

Foto: Carina Stander

Die omgewing langs die N2 hoofweg is tans getooi in geel bitoublomme, pers fonteintjiebos en vleie met varkore. Melkkoeie wei aan die voet van die Tsitsikammaberge en die mistigheid en sonskyn speel wegkruipertjie met mekaar.

Gou is ons in die Kouga, ʼn streek wat “oorvloed” in Khoitaal beteken. Die landskap word platter en die windturbines woer op die horison voordat ons die afdraai na ons bestemming, St Francisbaai, bereik. Sommige mense reken dis die einste baai wat Bartholomeus Dias in 1488 Golfo dos Pastores (“Baai van die Herders”) gedoop het. Die dorp het haar hedendaagse naam reeds in 1575 gekry toe die Portugese ontdekkingsreisiger Manuel Perestrelo dit na die beskermheilige van matrose vernoem het.

Dis die eerste keer in ses maande sedert grendeltyd dat ons gesin in ʼn ander plek as ons eie huis oornag en ons is opgewonde oor ons besoek aan die kanaaldorpie. Brisan B&B on the Canal se naam is ʼn samevoeging van eienaars Brian en Sandy se name. Brian is joviaal en Sandy is dierbaar. Dié bejaarde paar is glo al dekades lank in die gasvryheidsbedryf. Die twee kamers waar ons oornag kyk uit oor die kanaal en is langs mekaar, ideaal vir ʼn gesin. Dis gerieflik ingerig met suiwer katoenlinne, ʼn koffietafel met ketel en beskuit en ʼn mooi badkamer. Die hoë plafon, swart grasdak en wit mure van die gastehuis is kenmerkend van die dorp.

Foto: Carina Stander

St Francisbaai se getykanale word daagliks van skoon seewater voorsien. Die mossels teen die buitemure verklap hoe die watervlak styg en daal. Die kanale is die hart en siel van die dorp en ʼn bootrit is ʼn móét. Brian en Sandy se pantonboot, The Swan of Brisan, het ʼn gasstoof waarop hulle ʼn warm ontbyt kan berei terwyl mens op die kanaal vaar, maar vanoggend is daar ʼn klein tegniese probleem en daarom eet ons sommer by hulle huis. Brian maak self die dik jogurt vir ontbyt, terwyl Sandy vir heerlike omelette sorg. Toe The Swan of Brisan teen die middag vertrek, is ons bevoorreg om ʼn ervare grysaard, Janet, as skipper te hê. Janet vertel dat die kanale in 1966 deur ʼn visionêre Amerikaner geskep is.

Daar is vyfhonderd huise langs die kanale, waarvan ʼn derde bewoon word deur permanente inwoners. In 2012 het ʼn brand 76 huise verwoes en intussen is van die grasdakke vervang met swart teëls. St Francisbaai se swart-en-wit huise skep ʼn gevoel van klassieke kalmte, maar die persoonlike stempel wat elke eienaar daarop afdruk, sorg vir interessantheid. Sommige huise lyk vir my soos moderne kunsgalerye, terwyl ander soos saamgeflaansde, ingeleefde familiehuise lyk.

Vir ʼn uur lank vaar ons op die kanale, onderdeur bruggies en geelvinkneste wat bo die water swiep-swiep, verby koraalbome in volle blom en die monding van die Kromrivier tot by die see. Hier is heelwat ander mense op die water vaar. Flinke roeiers in oefenklere. Gesinne in bote volgepak met kosmandjies, kinders en honde op pad na ʼn piekniek by die strand. Mense braai vleis in die louwarm sonnetjie op hulle stoepe. Kleuters bou sandkastele in die strandjies voor die huise. ʼn Man vang vis van sy voorstoep af, luilekker. Elke siel by wie ons verbyvaar, waai en groet. Die atmosfeer is gemoedelik. Plesierig. ʼn Kanaaldorp wat gemaklik is in haar eie vel.

Vroegaand moet ek gaan optree by die Jeffreysbaai Leesfees, so halfuur se ry daarvandaan. Die man van Toerisme wat die aand open, seg dat hy bly is om te sien mense het darem nog genoeg kultuur om op Erfenisdag na boeke te luister en nie net te braai nie. Toe erken ek maar openlik dat ek ʼn boekmens én ʼn braaier is. Direk ná my boekepraatjie woerts ons terug St Francisbaai toe vir ʼn lekker skemerbraai op die oewer van Brisan, die gedruis van die see in ons ore.

Die volgende oggend is daar ʼn goue gloed op die kanaal. Seemeeue rus op die grasperk voor Brisan en duiwe fladder weg toe die wit huiskat hulle bekruip. Ons drink gou koffie en tee voordat ons die pad vat vir ʼn kusbosstap. Kaap St Francis-natuurreservaat beslaan 120 hektaar en sluit ook ʼn stuk strand in.

Ons negejarige knapie is vandag ons padvinder. Hy neem ons op ʼn kronkelpaadjie oor die sandduine tot by ʼn uitsig oor die baai en die ligtoring. Verby verkromde melkhoutbome. Blommende heide. Boegoe. Besemriet. Papieragtige, ritsellende wit blomme. Die inheemse plantegroei staan bekend as St Francis-fynbos of “thicket mosaic” en kom slegs in die kalkryke sand tussen Tsitisikamma en Port Elizabeth voor. Dit is dus uiters uniek en maak slegs 0,2% van die Kaapprovinsie se plantegroei uit. Ons hoor ook voëlgesange wat ons nie herken nie. Hier is meer as tweehonderd voëlspesies in die streek, onder andere swarttobies, verskeie soorte suikerbekkies en visarende. Die strand is vandag so windverwaaid, ons loop horisontaal. Die erosiewind kerf pragtige patrone in ʼn verharde duin. Teen die rotse is ʼn swetterjoel fyn skulpies wat eie is aan die Oos-Kaap.

Foto: Carina Stander

Blykbaar is die reservaat veilig, te oordeel na die bejaarde vrou wat alleen deur die kusbos stap en die talle vroulike fietsryers wat ons teëkom. Ons sien ook ʼn energieke vlieërbranderplankryer (“kite-surfer”) wat jubel en juig op die kruin van die golf by Bruce’s Beauties – ʼn beroemde branderplankplek in St Francisbaai wat te siene was in die ikoniese 1969 fliek, The Endless Summer.

Ná die vroegoggendstap draai ons by die plaaslike hawe, Port St Francis, om vars vis te koop – rooi roman en geelstert. Dis nogal lekker om die doenighede dop te hou van die vissersbote wat invaar, die vlote met sardientjies, stokvis en seekat, die diepseebote en die tjokkabote (calamari). Terwyl my man die vars vis laat vlek, gaan koop ek en ons jongste groot seepampoentjies vir sy slaapkamer by die skulpwinkeltjie in die hawe. “Sodat ons dié baai vir altyd kan onthou,” verduidelik hy.

Foto: Carina Stander

Reisraad

  • St Francisbaai is netjies in die middel van twee besonderse bestemmings: Addo Olifantpark (naby Port Elizabeth in die ooste) en Stormsriviermond (by die Tsitsikamma in die weste) is albei 1,5 uur se ry weg. Oorweeg ʼn “road trip” waarin jy dié drie uiteenlopende plekke besoek.
  • Oornag gerus by Brisan B&B on the Canals. Die slaapkamers is gerieflik, fluitskoon en in die kenmerkende swart-grasdak-en-wit-mure-styl van St Francisbaai. Dit gee mens ʼn goeie idee van hoe die alledaagse lewe in die kanaaldorpie verloop. Gasheer Brian en gasvrou Sandy is verwelkomend. Skakel: 083 266 7824. Webwerf: http://www.stfrancisbaycanals.co.za/
  • Die kanaalvaart op ʼn boot is ʼn moet! Dis waar mens die hartklop van St Fracisbaai hoor. Bespreek ʼn vaart met The Swan of Brisan by Janet: 072 426 3810 of 042 294 1894.
  • Gaan koop vroegoggend vars vis by die hawe, Port St Francis en oondwarm brood by een van die bakkerye in St Francisbaai.
  • Hier is vyf klein natuurreservate in die omgewing van Kaap St Francis en St Francisbaai. Ons het in die Kaap St Francis-natuurreservaat gestap waar daar drie roete is om van te kies. Skakel: 042 298 0073. Klik hier om ʼn inligtingsblad af te laai (pdf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.