Kyk, daar is ʼn pikkewyn in my tuin!

Vanaf die stoep by Penguin Walk sien jy dassies, bokkies en pikkewyne. (Foto: Dalene de Vente)

Nêrens anders in Suid-Afrika kan jy op jou stoep sit terwyl daar pikkewyne voor jou rondskarrel nie. Dis net hier, by die woonstel waar ek in Bettysbaai oornag.

Die woonstel se naam is nie verniet Penguin Walk nie. Die pikkewyne loop in jou tuin, voor jou stoep verby. Hulle loop in die pad af, hulle loop op die wandelpaadjies en deur die nag hoor jy hulle.

Net voor die son sak loop ek gou alleen strand toe. Daar staan ek toe: tussen ʼn paar honderd pikkewyne, terwyl dit skemer raak. Ek wil my oë toemaak om die oomblik te voel, maar dit is te mooi. ʼn Eens in ʼn leeftyd ervaring.

Saans is dit pikdonker, want Bettysbaai se grondpaaie het nie straatligte nie. Die sterrehemel gooi sy skouspel deur die naglug. Ek skrik vir geluide in die donker, maar toe ek my flits skyn is dit ʼn pikkewyn wat voor my verby krioel.

Ek geniet my oggendkoffie in Bettysbaai. (Foto: Dalene de Vente)

Ek ontdek die volgende oggend die bekende reservaat vir pikkewyne in Bettysbaai, Stony Point, is net ʼn paar honderd tree vanaf Penguin Walk. Jy betaal R25 om op die plankpad te stap en die kolonie te bewonder. Die koddige diertjies het ʼn manier om jou van alles te laat vergeet. Droomverlore kyk ek vir pikkewyne wat op die branders ry.

Voorheen het ek nooit eens geweet van die pikkewyne nie. Ek het nie eens geweet dat Bettysbaai soveel rus kan bied nie. Die vorige middag nog gaan haal ek my sleutel vir my woonstel by die kantore van Be in Bettysbay, toe ek aan die gesels raak met die twee vrouens wat daar werk.

“Hierdie deel is maar die besigste van die hele Bettysbaai. Langsaan ons is die Caltex en die Gnocchi Restaurant, so hier is nie ʼn winkelsentrum nie. Soveel toeriste ry gereeld hier deur, sonder om te weet dat daar eintlik soveel dinge is om te doen.”

En is daar nie baie dinge om te doen nie! Ek kan skaars besluit: Daar is die Kogelberg-natuurreservaat en die Harold Porter Botaniese Tuine. Die Parkrun vind elke Saterdag by die botaniese tuine plaas, ʼn geleentheid waarvan almal praat as jy vertel dat jy na hierdie geweste gaan. Daar is baie strande waar jy kan stap, lekker eetplekke en jy kan fietsry.

Op die plankpad by Stony Point is dit ʼn gebruis van toeriste en vreemde tale rondom jou, maar tog is daar oomblikke van stilte waar jy net die pikkewyne kan geniet. (Foto: Dalene de Vente)

Die vrou van Be in Bettysbay vertel die Covid-pandemie was vir Bettysbaai se toerismebedryf eintlik soos ʼn inspuiting. Baie mense van Kaapstad wou nie te ver ry nie en het hier kom vakansie hou.

Ek dink dié omgewing laat jou nie toe om weg te ry en nooit weer terug te kom nie. Hier is te veel mooi dinge om te sien, avonture om aan te pak. Grondpaaie en ongereptheid, tog is jy nie heeltemal in die boendoes nie. As jy eenmaal Bettysbaai besoek het, weet jy, jy kom terug!

Die sonsopkoms laat ook sy merk. Ek slaap met my gordyne oop, sodat ek deur die venster die nag kan dophou. Toe ek vroegoggend die pienk lug sien, spring ek uit die bed, gryp my kombers en koffie en gaan sit op Penguin Walk se stoep. Dit is hierdie oomblik waar ek besef, om vroualleen te reis het sy voordele. Daar is altyd iets om oor te skryf. Om alleen te reis beteken dat jy elke oomblik ten volle kan koester. Maar hier in Bettysbaai met sy mooi sonsopkoms, moet jy iemand by jou hê. Iemand wat jy vroeg uit die bed kan roep om die kleure in die lug te kom kyk. Iemand vir wie jy die pikkewyne langs die strand kan wys. Iemand saam met wie jy ʼn wyntjie op die stoep kan geniet.

Voorheen was Bettysbaai net ʼn naam op die kaart. ʼn Plek waar vriende verloof geraak het, ʼn bordjie langs die pad. Toe ek terugdraai in Clarence-rylaan op pad huis toe, is Bettysbaai ʼn uitsonderlike herinnering in my hart.

Die sonopkoms by Penguin Walk maak dit die moeite werd om sesuur soggens op te staan. (Foto: Dalene de Vente)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.