La Boca se tango

Foto: Marianne Styan

Elke land het daardie spesifieke “iets” wat jou daaraan herinner: Duitsland het “Oempa-bands” en bier. Frankryk het die Eiffeltoring en mooi mense. Engeland het tee en reën. Italië het pasta en emosionele mense. Amerika het “take-aways” en Disney World. Afrika het safari’s en Kaapstad.

Ek kan aangaan en aangaan.

Maar as ek dink aan Argentinië, dink ek aan Evita Perron en … tango. En nie net enige tango nie. La Boca se tango.

Ons het duur betaal vir een aand se tango-opvoering in ʼn gesogte woonbuurt … Maar wanneer ek dink aan Buenos Aires, verlang ek terug na ons dag in La Boca. Partykeer is dit nie die duurste, gewildste plekke wat jou reise spesiaal maak nie. Om doodeerlik te wees, is dit eintlik min dat dit met my gebeur.

Jy vind La Boca by die mond van die Riachueli-rivier. Dit was die eindpunt vir menige immigrant van hoofsaaklik Italië se Genoa-streek. Gooi nou ʼn paar immigrante van onder andere Spanje, Griekeland, Frankryk, Engeland en Ierland daarby en daar word ʼn dans met die naam tango gebore. Die benaming “tango” sou egter eers hieraan toegevoeg word aan die einde van die 1890’s. Dit was ʼn dans wat uitgevoer is deur fabriekswerkers om die aandag te trek van die ylgesaaide vroue in die omgewing.

Hierdie mengsel van mense het die woonbuurt begin ontwikkel deur huise van afval-materiale te bou en dit te verf met oorskot mariene verf om dit te verhelder. ʼn Gebore La Bocaan, Quinquela Martín, het hierdie kleurvolle ontploffing verder gevat deur dit werklik kleur te gee en een van die bekendste strate, El Caminito, sy helderkleurige baadjie te gee in die 1950’s. Om die area van totale uitsterwing te red, het hy begin om teateraanbiedings reël met die kleurvolle geboue as agtergrond.

Foto: Marianne Styan

Dis ook wat deesdae van dié bekende geplaveide straat, belyn met die kleurvolle huisies waarin vele restaurantjies, winkels en kroeë gehuisves word, ʼn groot aantrekkingskrag maak, te midde van die andersins werkersklasarea wat dit omring.

Dit is egter ook ʼn lekker ontdekkingstog en ervaring van hoe die mense van Buenos Aires se alledaagse lewe lyk, om in die omliggende strate rond te dwaal. Dis hier waar ons die lekkerste straatkos geëet het terwyl ons kyk hoe plaaslike jongmense sokker speel. Na alles is dit die “geboortewêreld” van La Bombonera – die stadion waar Diego Maradona sy roem verwerf het.

Maar al hierdie was ekstras vir my, as ek dink aan die “verlore” tyd wat ons spandeer het by ʼn tafeltjie in die hoek by een van die talle restarantjies in El Caminito. Ek kan nie eens die plekkie se naam onthou nie en ek hou daarvan dat ek dit nie kan onthou nie … Dit dra by tot die misterie van daardie dag.

Elke restaurant het sy eie volksmusiek-sanger en ʼn tango-paartjie. Vir my keuse van restaurant het ek my totaal emosioneel laat lei deur die paartjie wat my onmiddellik verlore laat voel het in hulle klanklose-lyftaal.

Foto: Marianne Styan

Hierdie paartjie was nie noodwendig die aantreklikste nie, maar die manier waarop hulle met elke dans vergeet het daar is ander mense op die planeet, het my juis aangetrek soos ʼn magneet.

Ons het ʼn tafeltjie gekry en ʼn drankie bestel … of dalk was dit drie … ek kan weereens nie onthou nie … Al wat ek weet is dat ek vir die volgende paar uur totaal meegevoer was deur die dramatiese diep, passievolle klanke van die musiek wat hierdie twee mense mekaar nie vir ʼn oomblik laat verder weg beweeg het as ʼn haarbreedte van mekaar nie.

Soos ʼn universele taal, wat mens net dadelik verstaan, sonder om dit te moet aanleer, sleur die bewegings mens mee. Mens voel nie eens skaam om hierdie “verliefde” paartjie se sleur te volg nie, want vir ʼn baie kort rukkie is jy deel daarvan. Jy voel die passie, die diep gevoelens en totale oorgawe asof jy saamdans. Jy staar ook diep in jou geliefde se oë, terwyl julle harte, in die bors-tot-bors nabyheid van die dans se basiese posisie, saamklop, net om vir ʼn oomblik of twee, ʼn sentimeter of vyf se afstand van mekaar, toe te laat om ʼn ingewikkelde passie uit te voer.

Maar dan vind hulle mekaar weer, en dit voel of jy ʼn traan wil afvee omdat twee mense so duidelik kan wys hulle is bly om weer naby aan mekaar wees …

Êrens in die middel van die hierdie hipnotiserende uitvoering besef jy hoekom die dans soveel mense aan die hart gryp … jy weet jy wil hê jy en jou geliefde moet ook só na mekaar kyk en die passie wat deur hulle lywe vloei, met elke beweging, moet die passie word waarmee jy jou verhouding elke dag leef.

Die verpersoonliking van daardie oorspronklike verliefdheidsfase waar elke verhouding begin … waarna so baie mense net kan terugverlang.

Dan neem hulle ʼn ruskans … die spel word verbreek … jy weet nie of dit ʼn paar minute was of ʼn paar uur nie, maar dit maak nie saak nie, want jy weet hierdie tyd is tyd waarna jy altyd sal terugverlang as jou voete die plek verlaat.

En vir altyd sal Argentinië jou laat dink aan Evita Perron … en die tango in La Boca …

Lees alle vorige rubrieke deur Marianne Styan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

madels ·

Die storie het my nou herinner aan een aand by French Toast Koffie kafee (Hartebeespoort Dam). Dit was net so onvergeetlike and met mense wat gesing het. Daar was n tannie wat in die restaurant gesing het na Jannie en Corlea se opvoering. Ek was totaal meegesleur en in vervoering… sal baie graag weer so aand by French Toast koffie kafee wil he. Dit was a belewenis!!!!

Penellope Jones ·

Ek glo nie Engeland het net tee en reen nie. Elke land het teen en reen, dis algemeen, buiten dat reen nie algemeen is in die woestyngebiede nie.
Daar is heelwat, heelwat dinge om te beleef en te sien in Engeland!
Ons was een aand in ‘n restaurant in ‘n dorpie in Skotland en het die wonderlikste Skotse liedere en Skotse danse kon ervaar – iets wat ons nooit sal kan vergeet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.