Landelike sjarme op ’n wynplaas buite Plettenbergbaai

(Foto: Verskaf)

Sommige mense is doeners en ander is dromers. Dan is daar die enkeles wat doenende dromers is. Mense wat hulle droom lééf.

Die Lunds van Newstead Family Vineyards buite Plettenbergbaai is sulke mense – hulle leef dié droom met voete op die aarde, hande op die pols van die wynbedryf en harte in die hemel.

My eerste ervaring van Newstead is soos dié van vele ander besoekers: saam met my gesin in die restaurant langs die wingerd, sandale uitgeskop op die grasperk nes die ander gaste, aan’t smul aan lamsvleis, falafels, tzatziki, naanbrood en stadig-geroosterde knoffelhoender.

Ons seuns deel ʼn mocktail (nie-alkoholiese mengeldrankie) met roosmaryn en vlierblom, terwyl ons grootmense Newstead se beroemde wyne geniet. Die kruidagtige, liggeel sauvignon blanc het ʼn titsel groen appel en lemmetjie en die rosé is ʼn blosende pêrelpienk, die ene vars framboos.

(Foto: Verskaf)

Die ete word afgesluit met tiramisu en ʼn potjie met brosbrood, suurlemoensmeer en meringue. ʼn Bekostigbare, geurige ete sonder voorgee is dit, met honde wat in die sonnetjie slaap en kleuters wat op die grasperk rondhol.

Jy hoor Duitse toeriste neffens plaaslike inwoners, piekniekmandjie en pizzas word gedeel. Daar is ʼn eerlikheid, ʼn egtheid, ʼn kaalvoet luuksheid aan die ervaring – eie aan die karakter van die eienaars.

Beide Doug en Sue Lund se families, die Lunds en die Robinsons, het boerdery in die bloed. In Natal het hulle voormense met suiker en suiwel geboer. Om hulself as wynboere in die Tuinroete te vestig, was dus ʼn verhuising én ʼn soort tuiskoms. ʼn Terugkeer na die grond, na groei.

Toe die Lunds in 2006 met hulle jong gesin na die Crags buite Plettenbergbaai getrek het, was die wynbedryf in die streek nog bloedjonk. Op ʼn 11,5 hektaar braakland het hulle wingerde aangelê vir sauvignon blanc-, chardonnay- en pinot noir-druiwe. Hulle het die wynkelder, woonhuis en restaurant van die grond af gebou en nou, hoeveel jaar later, is hulle steeds “Newstead(ily)” aan die gang.

Die trompetgeskal van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is tradisioneel in die Boland, maar Newstead het die enigste vonkelwyn buite die Kaapse wynland wat die Amorim Cap Classique Challenge verower het.

Doug Lund sê hy is diep dankbaar, maar sober oor al die erkenning, wetend dat dit maar ʼn wispelturige bedryf is – en tog boer sy wynplaas vooruit op vaste tred, jaar ná jaar.

Sedert die eerste vintage wyn in 2012 bekendgestel is, het Newstead van die mees gesogte nasionale en internasionale wyntoekennings ingepalm, onder andere verskeie Gran d’Ors by die Michelangelo Internasionale wynkompetisie; vyf sterre by die Platter’s Wine Guide; erkenning as een van die land se top 3 by die IWSC; van Gilbert & Gaillard, en in Frankryk het hulle ʼn dubbel goud verower vir die Cap Classique Brut Chardonnay.

Die geheim van Newstead se sukses lê in die besonderse klimaat van die omgewing, die sonlig, die koel nagbries, die oestemperatuur van gemiddeld 22 °C, die natuurlike lae pH-vlakke, die wingerde wat noord-suid geplant is, die sorg wat aan elke wingerdstok gewy word en in die Lunds se natuurliefde.

Slegs organiese kunsmis word gebruik, die wingerde word met herwinde water besproei en die wingerdstokke is met nette bedek om dit teen voëls en insekte te beskerm – geen gifstof is in sig nie.

Hulle kies kwaliteit bó kwantiteit, gehalte bó grootte. “Small is special,” is Sue se motto en dié spesiaalgeit van “small” is ook van toepassing op die begaafde wynkeldermeester Anton Smal. Onder sy vaardige hande floreer die wynplase.

(Foto: Verskaf)

Die Lunds volg ʼn filosofie van werk hard, speel hard. Perdepolo is een van hulle gunsteling-speletjies, al verg dit dieselfde dissipline en vasberadenheid van werk. Wêreldklas ponies word hier afgerig en Newstead is ook die borg van die Plett Polo International. Plettenbergbaai se polospelers kom graag hier byeen vir oefeninge en lang, gesellige etes langs die wingerd.

Die Homestead was vir bykans vyftien jaar lank die Lund-gesin se woonhuis voordat hulle na Plettenbergbaai verhuis het. Intussen is dit in ʼn selfsorg gastehuis omskep, maar die huislikheid het behoue gebly. Agt mense kan in die Homestead se vier en suite-slaapkamers oornag. Dis argitektonies so ontwerp dat die vensters die natuur na binne nooi met uitsigte oor die omringende wingerde en Tsitsikammaberge. Die groot stoep het vuurherde aan albei kante en is ideaal vir ʼn vroegoggendkoffie met sonop of ʼn skemerkelkie wanneer die son sak.

(Foto: Verskaf)

Die ou plaashuis is omskep in twee private selfsorg-suites waarin twee mense elk kan tuisgaan. Dit is ruim, met ʼn elegante eenvoud en mooi uitsigte oor die pinot noir-wingerde. Die peerboom en buitestort sorg vir ekstra landelike sjarme.

Gaste het toegang tot die plaas se swembad, perdepolovelde en restaurant. Die restaurant is ontspanne, maar word werklik hoog aangeskryf. Dis op die top 10-lys van Dine Plan landswyd, het die Excellence-lys by Trip Advisor gehaal en was ʼn paar jaar in ʼn ry een van EatOut se top 500 restaurante in Suid-Afrika.

Gaste kan deur die wingerde wandel of bergfiets ry of die pragtige Blouvlag-strande van Plettenbergbaai en Nature’s Valley besoek, wat slegs 15 minute se ry weg is.

Skakel Newstead Lund Family Vineyards: 076 300 9740. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: newsteadwines.com.

Nog wynlandgoedere in die Plett-omgewing:

Die wynlandplase rondom Plettenbergbaai het eers ná die draai van die eeu begin koning kraai. In minder as twee dekades het dit gegroei tot een van die mees belowende wynstreke in die land en heelwat gehalte boetiekwyne en pryswenners opgelewer ­ die sauvignon blanc is veral gewild.

Die wynlandgoedere is almal klein familiebesighede met ʼn oog vir detail en ʼn hart vir eg plattelandse gasvryheid. Wynproe, heerlike restaurant-etes en verblyf is moontlik op meeste van die plase. Die plase wat hier onder lys is, is geleë in ʼn pragtige natuurstrook, almal binne ʼn 45 km radius vanaf Harkerville tot die Crags. (Die twee plaasgebiede weerskante van Plettenbergbaai.) Dis maklik bereikbaar naby die N2. Volg die skakels na die webwerwe vir meer inligting:

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.