Lank gelede was daar ʼn pastorie in Skeerpoort…

‘n Deel van die Ou Pastorie se gebou en tuin.

Aan die voet van die Magaliesberge, tussen vrugbare plase en nie ver van die gewilde Hartbeespoort nie, sit ʼn eeue-oue huis wat as pastorie gebou is, maar ook al as polisiestasie gedien het en tans ʼn gesellige restaurant huisves. Tussen die stewige mure en stokou bome is ʼn deel van Suid-Afrika se geskiedenis versteek wat onlangs opgediep en met ʼn erfenisgedenkplaatjie erken is.

Die gedenkplaatjie-onthullingsgeleentheid op ʼn sonnige Sondag in Desember verlede jaar het saam met die 120ste herdenking van die Slag van Nooitgedacht geval. Dit was ewe gepas, aangesien die slagveld binne sig van die Ou Pastorie lê.

Vincent Carruthers aan die woord oor die Ou Pastorie se geskiedenis

Buiten die slagveld is die restaurant in een van die rykste erfenis- en geskiedenisgebiede in Suid-Afrika geleë, vertel Vincent Carruthers, kenner van die Magaliesberg-omgewing – die Magaliesberg-biosfeerreservaat (MBR).

Die Skeerpoort-gemeente, wat aanvanklik die gemeente Magaliesberg genoem is, is in 1910 gestig by ʼn vergadering van die ring van Rustenburg wat by die Brits-stasie gehou is. Die gemeente het oor ʼn baie groot gebied gestrek, van Nooitgedacht in die weste tot Rietfontein (vandag Hartbeespoortdam) in die ooste, en van Tweefontein (vandag naby Lanseria-lughawe) in die suide tot by die Pienaarsrivier (nou Klipvoordam) in die noorde.

“Vroeg in 1912 was daar groot konsternasie toe een van die gemeentelede ʼn konsert in die tydelike kerk, waarskynlik Scrooby se skuur, gehou het,” vertel Carruthers. “Die naamlose oortreder het sy saak geensins bevorder nie toe hy boonop beweer dat die kerkraad vir hom toestemming gegee het! Die saak is eers afgehandel toe hy ingestem het om die wins wat hy uit die konsert gemaak het, aan die gemeente te skenk vir die bou van die nuwe kerkgebou.”

Die Ou Pastorie

Grond om die kerk op te bou is by Krokodildrift en Roodekoppies geïdentifiseer, albei in die noordelike wyk, terwyl nagmaal en doopgeleenthede by Scrooby se skuur in Skeerpoort aan die suide gehou is. Teen Mei 1912 is genoeg geld ingesamel om ʼn sinkkerkgebou by Skeerpoort te bou.

Maar onmin tussen gemeentelede het van meet af gebroei, veral tussen dié in die noorde en hul broeders en susters in die suide, toe fondse vir die pastorie ingesamel moes word. Johan Schoeman, seun van generaal Henrik Schoeman, het ʼn beroep op gemeentelede gedoen om bydraes te lewer, maar die noorde se mense het geweier omdat dit so ver van hulle af gebou sou word. Na lang debatte is die toegewing gemaak dat net die gemeentelede wat suid van die Magaliesberge woon verplig sou word om finansieel by te dra. Die noordelinge hoef nie by te dra nie, maar kon deel van die gemeente bly.

Die pastorie is toe in 1914 gebou en die eerste predikant, ds. J Le Roux Hauptfleisch, het kort daarna ingetrek. 1914 was egter ʼn traumatiese jaar in Suid-Afrika se geskiedenis. In September 1914 het Louis Botha se regering tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree, aan die kant van Brittanje en teen Duitsland. Talle Boereveterane van die Anglo-Boereoorlog was heftig gekant teen hierdie besluit, wat die Rebellie van 1914 tot gevolg gehad het.

“Generaal Christiaan Beyers, oorwinnaar by die Slag van Nooitgedacht in 1900 en daarna hoof van die Unie-weermag, het uit sy pos bedank en sy rebelleweermag by Damhoek byeengebring – nie ver nie van Skeerpoort en reg in die middel van die gemeente. Gemeentelede was verdeeld tussen regeringslojaliste en rebelle en die gemeentevergaderings het ontaard in ʼn geskree tussen ouderlinge weerskante van die draad. Die stoep wat die pastorie omring, moes ʼn paar interessante gesprekke aangehoor het!” voeg Carruthers by.

Talle beroemde en berugte figure van die omgewing moes deur die Skeerpoort-kerkgebou en pastorie se deure beweeg het. Jopie Fourie, die enigste rebel wat tereggestel is, het op Rietfontein gewoon en sy familie was waarskynlik lede van hierdie gemeente.

Ingang na die Ou Pastorie.

Die Hartbeespoortdam, waaraan talle armblankes help bou het, was ook in sy vroeë beplanningsfase teen die tyd wat die pastorie gebou is. Baie van die werkers het in die 1920’s by die Skeerpoort-gemeente aangesluit en is daar gedoop.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die onmin weer tussen gemeentelede opgevlam as gevolg van Suid-Afrika se deelname aan die oorlog. Die Ossewa Brandwag het sterk steun in die Skeerpoort- en Hartbeespoort-omgewing gehad. Carruthers vertel dat die NG Kerk formeel teen politieke betrokkenheid gekant was en daarom het ʼn Ossewa Brandwag-gemeentelid besluit om die gemeente se predikant, ds. Kok, voor die sinode te daag op die aanklag dat hy die Nasionale Party in sy preek bevorder het.

“Hy het op ʼn bepaalde Sondag ten gunste van Christelik nasionale onderrig gepreek, een van die pilare van Malan se NP-doktrine. Die sinode het egter bevind dat Christelik nasionale onderrig as filosofie in die Woord gegrond is en nie ʼn politieke grondslag het nie en ds. Kok is vrygespreek. Die gemeentelid wat die klag gelê het, is streng aangespreek,” sê hy.

Gaste onder die bome tydens die onthullingsgeleentheid.

Ten spyte van meer as twee dekades se vrugbare bearbeiding in die omgewing, het die gemeente knaend finansiële nood ervaar en moes hulle in 1936 met die Magaliesburg NG-gemeente saamsmelt. Die pastorie is aan die polisiediens verkoop en het vir jare as polisiestasie gedien. Toe daar later ʼn permanente polisiestasiegebou opgerig is, is dit aan private eienaars verkoop en in ʼn restaurant omskep wat vandag nog funksioneer. Buiten ʼn bykomende funksievertrek wat bygebou is, is die gebou hoofsaaklik in sy oorspronklike vorm behou.

Die Ou Pastorie se eienaars beskerm en vier sy erfenis toegewyd, met behulp van interessante items te koop, elegante akkommodasie, mooi musiek en smaaklike kos wat onder die stokou bome aangebied word. Die gedenkplaatjie wat aan die gebou toegeken is, bevestig die geskiedkundige en kulturele belangrikheid van dié gebou aan enige besoeker wat nog wonder en bied meer inligting aan nuuskieriges met ʼn hart vir erfenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.