Luukse boetiekhotel met ʼn verskil in Krugerwildtuin

ʼn Hoogtepunt vir gaste is smiddae se middagtee (high tea) op die hoofswembaddek. (Foto:
@kruger_shalati/Instagram)

In die middel van Suid-Afrika se bekendste wildtuin is daar ʼn luukse trein wat nooit beweeg nie, maar wel ʼn panoramiese uitsig bied van sonsopkoms totdat die Melkweg snags oor die naghemel spoel.

Die Kruger Shalati-treinhotel by Skukuza het einde verlede jaar sy deure geopen en besoekers, oftewel passasiers, kan daarna uitsien om die Krugerwildtuin soos nooit tevore te beleef nie.

In die 1920’s was dié spoorlyn die enigste roete na die wildtuin, maar nadat die laaste lokomotief in 1979 hier deurgekom het, het die spoorlyn en brug vergete bo die Sabierivier bly staan.

Die Motsamayi-toerismegroep het egter in 2016 ’n tender gewen om dié deel van die spoorlyn in deftige verblyf te omskep en vandag staan die Kruger Shalati op die presiese plek waar treine ook destyds op dié brug oornag vertoef het.

Gaste kan ‘n bad met die beste moontlike uitsig geniet. (Foto:
@kruger_shalati/Instagram)

Die unieke hotel, wat binne ʼn jaar as een van Time Magazine se top 100-bestemmings bekroon is, se naam bring hulde aan ʼn destydse vroueleier van die Tebula-stam in die omgewing.

Volgens Gavin Ferreira (39), uitvoerende bedryfshoof, bied die waens se unieke ontwerp vir gaste luukse en moderne verblyf, maar ook die geleentheid om “ʼn tree terug in te tyd te neem”.

Elke wa het een kamer wat met ʼn massiewe bed en balkonnetjie ingerig is. Sonlig spoel deur die kamers se massiewe vensters en bied gaste die geleentheid om die wildtuin se natuurskoon vanuit die gemak van groot moderne baddens te geniet.

ʼn Hoogtepunt vir gaste is smiddae se middagtee (high tea) op die hoofswembaddek waar een van die hotel se vier swembaddens 40 m bokant die grond pronk. Gaste geniet ook twee wildritte per dag en alle kos en verversings by die Kruger Shalati se spoggerige restaurant word by die prys ingesluit.

Die unieke “trein” staan egter nie altyd 100% doodstil nie.

“Snags wieg die trein liggies, maar dit is ʼn baie subtiele beweging wat plaasvind soos die metaal van die brug weer saamtrek nadat dit deur die dag weens die hitte uitgesit het,” verduidelik Ferreira. “Ons gaste sê dit voel asof hulle dan regtig op ʼn trein is.”

Die trein het 24 wa-suites en sewe kamers op ʼn perseel. (Foto:
@kruger_shalati/Instagram)

Die Kruger Shalati het aanvanklik verwag om hoofsaaklik Europese toeriste te ontvang, maar toe dit in Desember 2020 geopen is, het die pandemie hulle natuurlik verhinder om te reis. Gevolglik het Suid-Afrikaners die voorreg gehad om dié unieke ervaring eerste te beleef en volgens Ella West, besprekingsbestuuder, was die eerste paar maande blitsig vol bespreek.

Internasionale gaste (en internasionale gastetariewe) is egter met ope arms verwelkom toe die wêreld se grense stelselmatig weer oopgegaan het en vandag lok die Shalati veral Amerikaanse besoekers.

Die trein het 24 wa-suites en sewe kamers op ʼn perseel, maar begin solank spaar, dis ʼn duur uitstappie.

Bronne: AFP/ Krugershalati.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.