Luukse hotel huldig historiese erfenis van Stellenbosch-wynplaas

Die hotel se voorportaal, met sy kuns en hope natuurlike lig, bied ook mooi uitsigte oor die historiese geboue anderkant die werf. (Foto: Clifford Roberts/ Verskaf)

Daar is geen tekort aan geskiedenis en argitektuur wat pragtig behoue gebly en sorgvuldig gerestoureer is op die historiese plaas, Hazendal, buite Stellenbosch nie. ʼn Nuwe spoghotel is maar net een van die nuwe toevoegings tot die plaas, skryf Maryke Roberts.

Benewens die hotel, is daar ʼn wêreldklas-gholfbaan, kunsgalery, restaurante, piekniekplekke op die grasperk en verskeie wynproe-opsies. Die landgoed is ook baie gewild vir troues en hou maandeliks ook jazz-geleenthede.

Toe ons by die hekke ons bestuurderslisensie oorhandig, probeer ek my indink hoe Christoffel Hazenwinkel in 1699 ook hier van die Kaap af arriveer het. Hy om sy 60 hektaar grond in die Bottelary Heuwels te begin omskep in ʼn spogplaas; ons 325 jaar later om in die nuwe hotel te kom oorbly.

Die plaas is die afgelope 30 jaar in ʼn familiestigting se besit en hulle streef daarna om die geskiedenis te bewaar en met elke nuwe toevoeging tot die plaas steeds getrou aan die erfenis te bly.

Die beste manier om die plaas te verken, is te voet. Die tyd en sorg waarmee die ou geboue restoureer is, is verbasend. Binne is alles luuks en kontemporêr. Dis voor die ou herehuis met sy Rococo-styl-gewel wat uit 1790 dateer, wat die plaas se tydlyn mooi uiteengesit is en ons leer:

Die geskiedenis van Hazendal begin by die Duitse setlaar Christoffel Hazenwinkel. As ʼn hofbeampte en boodskapper vir die goewerneur, Willem Adriaan van der Stel, het hy dié lappie grond in 1699 ontvang. Die plaas se naam het ʼn tweërlei herkoms: natuurlik wou die nuwe eienaar spog met sy van en ook verseker dat dit voortgedra sal word, maar daar was ook destyds ʼn oorvloed hase op die vlaktes en Hazendal was dus heel gepas.

Hy het die plaas in 1728 besoek en dit het nog twee keer van eienaar verwissel, voor dit in 1729 deur Willem van As gekoop is. Hy en sy seun, Joost, se energie en werksetiek het ʼn onuitwisbare stempel op die landgoed gelaat. En ons is dankbaar daarvoor!

Dis hulle wat die ikoniese Kaaps-Hollandse argitektoniese styl aan die plaas bekendgestel het. In 1780 het hulle die kraal gebou om hul vee, meestal osse, veilig te hou en ʼn jaar later die plaas se eerste woning – die Jonkershuis – gebou. Vandag huisves dié praggebou die Marvol-galery. Nege jaar later verrys die herehuis aan die suidelike rand van die werf.

Neffens die herehuis, vandag luukse akkommodasie vir families of groepe vriende, is die kraal se mure steeds sigbaar en vandag hou dit gaste binne wat by die biertuin kuier.

Stap jy oor die grasperk by die wynproelokaal verby in die rigting van die hotel, val die interessante teetuin jou op. Dis die dorssirkel uit die vroeë 1800’s. Hier het spanne osse, perde of donkies koring van die plaas af gedors, die gerwe vertrap om die kaf van die koring te skei en vandag huisves die ruimte al fresco-tafels vir The Deli. Om hulde te bring aan die landbougeskiedenis van die plaas, pryk ʼn beeldhouwerk deur die bekroonde kunstenaar, Angus Taylor, in die middel van die sirkel. Ons het onlangs daar gekuier vir my bejaarde pa se verjaardag en sy oë was nat van die herinneringe van sy kinderdae, donkies en koring- en lusern-oes op soortgelyke dorsvloere.

Ons kamer vir ons verblyf is een van die junior suites, met oorgenoeg ruimte vir ontspan, lees, slaap of ure in die jacuzzi deurbring. (Foto: Clifford Roberts/ Verskaf)

Die familie Van As het Hazendal besit tot 1813. Hermanus Vermaak koop toe in 1813 die plaas by die Van Asse en bou die volgende jaar die hekpale – wat vandag nog staan ​​– wat ʼn hewige geveg tussen bure ontketen het.

Die hoofwapad wat Stellenbosch met Kaapstad verbind het, het destyds deur die hartjie van Hazendal gegaan, en Vermaak het besluit om saans die hekke na die plaas te sluit. Hy het beweer dat wabestuurders dalk die rietdak van die Jonkershuis met kooltjies uit hul pype aan die brand kan steek, of die vroue in die slawekwartiere kan uitlok. Maar almal het deur sy planne gesien: hy wou reisigers as gaste in sy gastekamers laat bly. As hy maar geweet het dat ons 210 juis dit sou doen: nie in gastekamers nie, maar in ʼn hotel wat hom groen van jaloesie sou maak.

Ons kamer vir ons verblyf is een van die junior suites, met oorgenoeg ruimte vir ontspan, lees, slaap of ure in die jacuzzi deurbring. (Foto: Clifford Roberts/ Verskaf)

Hoe dit ook al sy, sy buurman, Peter Fischer, het hom in 1815 hof toe gesleep en geëis dat die pad saans oopgemaak word. Hermanus moes die stryd gewonne gee en die hek verwyder, maar gelukkig het die oorspronklike hekpale oorleef.

Teen 1831 is Izaak Bosman die eienaar en sy familie besit die plaas vir vyf geslagte. Dis ook hier waar die wynmaaktradisie begin het en ʼn wynkelder gebou is. Ons hoor later tydens ons kos-en-wynpasmaat-proesessie by Mervin Kayster wat 20 jaar lank hier werk, dat Jacobus Petrus Bosman teen die draai van die eeu die herehuis omskep het in ʼn Victoriaanse villa, maar sy kleinseun, Pieter, het dit in 1947 terug verander na die oorspronklike Kaap-Hollandse boustyl.

Ons kamer vir ons verblyf is een van die junior suites, met oorgenoeg ruimte vir ontspan, lees, slaap of ure in die jacuzzi deurbring. (Foto: Clifford Roberts/ Verskaf)

“Die Bosman-familie het ook die gesig van Bacchus, die Romeinse god van wyn, aan Hazendal bekendgestel as ʼn simbool van hul verbintenis tot die vervaardiging van kwaliteit wyne. Vandag is Bacchus in brons verewig op die herehuis se voordeur én op die Hazendal-logo, ter ere van ons volgehoue ​​tradisie van wynmaak-uitnemendheid,” vertel Mervin ons tussen slukkies wyn deur. Saam met die plaas se heerlike wyne wat deur Niel Strydom gemaak word, is happies uit die uitvoerende sjef Michelle Theron se kombuis. Daar is verskeie wynproe-opsies, maar dié een in die ondergrondse kelder met sy glasdak, was beslis die regte keuse.

Ons stap laatmiddag terug na ons kamer toe om in ons borrelbad op die stoepie te gaan sit en lees. Jy stap verby die kloktoring en ek kan steeds nie glo dat dit maar eers in 1978 deur die Bosman-gesin gebou is om die 1979 Simon van der Stel 300 jaar-feesvieringe te gedenk nie. Dit lyk heelwat ouer en boonop was kloktorings tydens die bykans eerste 200 jaar aan die Kaap baie algemeen.

Ons stap deur die glasdeur in die lang gang in, wat die hotel se ontvangs met die kamers en restaurant verbind. Die swembad is bedrywig, mense sit op die stoep voor die restaurant met drankies en gesinne speel tafeltennis en ander speletjies in klein intieme inhamme.

Ons kamer is luuks en ruim en daar is verskeie plekke om by te ontspan. Sou jy iets van kamerdiens bestel, is daar selfs ʼn oulike tafeltjie en stoeltjies by die stoep om die uitsigte oor die berge van te geniet.

Vir ontbyt en aandete stap jy net gang af en as jy iets vergeet het, is die oulike leefstylboetiek ook gerieflik naby. Die hotel is ʼn fees vir gholfspelers, want die 18-putjie-gholfbaan is ʼn katspoegie weg en vir die kinders is daar ʼn Padel-baan en natuurlik die wêreldbekende Wonderdal, ʼn tegnologie-gedrewe speel-ervaring vir kinders tussen 5 en 13 jaar oud.

Wonderdal is ʼn mengsel van fisiese- en verstandelik-stimulerende aktiwiteite wat met die hulp van tegnologie daarop mik om kinders te help leer terwyl hulle speel. Opgeleide personeel help kinders met hul aktiwiteite en staan as WonderPals bekend.

Met die hulp van opvoedkundige konsultante, is spesiale pakkette vir onderwysers geskep wat hulle toelaat om ʼn skakel tussen hulle leerders se ervarings en die klaskamer te bewerkstellig. Die fokus van die ervaring is aan onderwerpe gekoppel: natuurwetenskappe en lewensvaardighede, insluitend die verskeie vorms van energie, plantegroei en gesonde eetgewoontes.

Kinders word op hul reis by Wonderdal deur virtuele realiteitskaraktertjies – Amuki – as gidse vergesel.

Net agter Wonderdal is ʼn pragtige klassieke motoruitstalling, met onder meer ʼn 1936- en 1956-Bentley en ʼn 1948- en 1956-Rolls Royce. Dis nie net gewild onder motorliefhebbers nie, maar vele korporatiewe funksies het al hier in die glas- en staal-gebou gebeur.

Vier deure weg van ons kamer is die spa en dis net die plek om jou totaal van die buitewêreld af te sny. Hier is voorwaar iets vir elkeen om te kom geniet.

Dis egter saans en soggens voor die publiek kom kuier, wat ek die plaas die meeste geniet. As jy vroegoggend kyk hoe die son opkom oor die Simonsberg, die voëlsang al geluid is tussen die lagie mis oor die wingerde wat die plaas omring, is dit ware vrede wat jou wese vul.

Saans kyk jy sterre op jou stoepie, terwyl die warm borrels jou spiere masseer en die koue borrels van die Hazendal MCC Blanc de Blanc jou tong laat tintel.

Die lekker gekuier by die restaurant aan die ander kant van die gange, heerlike agtergrondmusiek vir ʼn lekker lewe.

Kitsfeite:

  • Hazendal is een van die lede van Stellenbosch-wynroetes se Bottelary Heuwels-subroete. Gaste kan die Heritage-wynreeks en die Hazendallandgoed-reeks wyne met of sonder peuselhappies ervaar. Die plaas spesialiseer in wit- en rooi kultivars.
  • Die volgende jazz-aand is op 29 Mei en meer inligting is beskikbaar by www.hazendal.co.za.
  • Hazendal word deur die bekende Newmark Hotel-gasvryheidsbestuursgroep bestuur. Bespreek jou verblyf by die nuwe Hazendal Hotel by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.