Maak werk van dié vakansies in 2022

Argieffoto (Foto: Engin Akyurt/Pixabay)

Die Covid-19-pandemie het mense wêreldwyd genoop om hul reislus te beteuel en vir baie was dit boonop ʼn besonder stresvolle tyd met gevoelens van oorweldiging, geestesgesondheidsuitdagings en voortdurende aanpassing by verandering.

Dit is dus te verstane dat die meeste mense daarna smag om weer vrylik rond te beweeg, en hunker na rustigheid, vrede en ʼn gevoel van “normaliteit”.

Hierdie omstandighede het gelei tot die ontstaan van ʼn nuwe reistendens, oftewel revenge travel, wat volgens kenners die toerismebedryf in 2022 gaan oorheers.

Hier is alles wat jy oor die sogenaamde vergeldingsreis-ervarings moet weet.

Wat is “revenge travel”? 

Revenge travel verwys na  ʼn persoon se verhoogde begeerte om uit te gaan, hulle vlerke te sprei, asemrowende nuwe bestemmings te verken en verlore tyd in te haal. Dit gaan daaroor om “wraak” te neem op die virus en die vele ongelukkige en onaangename gevolge wat as gevolg van inperkingsbeperkings veroorsaak is.

“Die pandemie het veroorsaak dat almal langer as ʼn jaar die geleentheid om voluit te lewe, verloor het. Dit kan wees dat hulle langverwagte avonture moes uitstel of nie tyd saam met geliefdes wat ver woon kon deurbring nie,” sê Oz Desai, algemene bestuurder van die Corporate Traveller-reisagentskap wat onder die Flight Centre-groep val.

Argieffoto (Foto: Jan Vašek/Pixabay)

Vergeldingsreise behels dus om op te tree en verlore tyd in te haal deur soveel as moontlik te reis, nuwe dinge te ervaar, en net die gevoel te geniet om stadig na “normaal” terug te keer.

Volgens Desai is hierdie soort reise hoofsaaklik ontspanningsgeoriënteerd, maar dit kan ook sakereise insluit.

“Uiteraard moes baie sakelui geleenthede prysgee om verhoudings te bou en met nuwe kliënte, vennote en verskaffers in die buiteland te skakel. Dit het onvermydelik ʼn massiewe tol op maatskappye se wins – sowel as werknemersmoraal en produktiwiteit – geëis.”

Soos reisigers hul gemaklikheid en vertroue om te reis herwin, is daar ʼn beduidende toename in die vraag na korporatiewe reise.

“Professionele persone begin meer gereeld en verder reis, en dit is duidelik dat hulle meer waarde as ooit tevore uit ʼn sakereis wil put,” voeg Desai by.

Sakereise – mét ontspanningsaktiwiteite

Talle mense ervaar ʼn intense behoefte om te reis, maar vind dat hul vakansiedae en spaargeld uitgeput is. Dit kan ʼn uitdaging wees om dan binne hierdie omstandighede die ontspanningsreis waarna hulle so smag, aan te pak. Die antwoord vir baie lê daarin om soveel as moontlik waarde uit hulle sakereise te put deur ontspanningsaktiwiteite en avonture in te pas sonder om hul sakeplanne af te skeep.

Volgens Corporate Traveller geniet tot 60% van alle sakereisigers bleisure-ervarings – dus, ontspanningsaktiwiteite wanneer hulle spesifiek vir sakedoeleindes reis, sowel as werkvakansies – ʼn wegbreek waartydens die persoon elders as die kantoor of huis werk en buite kantoorure eintlik vakansie hou. Dit beteken gewoonlik dat die meeste reisigers vir baie langer tydperke in ʼn bepaalde bestemming deurbring en dat seisoenaliteit nie meer so ʼn groot invloed op reisbesluite het nie.

sonsopkoms-voor-rekenaar

Argieffoto (Foto: Simon Abrams/Unsplash)

“Min mense wag deesdae vir die vakansieseisoen om verlof te neem en weg te kom,” sê Desai. Hy meen dit is goeie nuus vir reisigers se sakke asook vir akkommodasieverskaffers aangesien besprekings nou meer verspreid is, in teenstelling met vorige jare waar die meerderheid van hul inkomste op baie spesifieke tye deur die jaar ingekom het.

Soos die feestyd nader kom, sal pryse van vlugte, motorverhurings en akkommodasie aansienlik styg. Volgens Corporate Traveller kan baie individue eintlik kies om hulle tradisionele Desember-vakansie te laat vaar en dit met ʼn werkvakansie of ʼn bleisure-reis in die eerste helfte van 2022 te vervang.

“Namate die reis- en toerismebedryf hoogty vier, sal kommer oor stygende reiskoste ook na vore kom. Dit kan voornemende reisigers dalk twee keer oor hulle vakansieplanne laat dink.

“Maar diegene met ʼn sterk behoefte om te reis hoef nie toe te laat dat hoër pryse hulle afskrik nie. Dit gaan alles oor die benutting van geleenthede wat tot jou beskikking is, om die meeste uit elke reis te put, te optimaliseer en ten volle voordeel te trek uit die vryheid wat afstandwerk jou bied,” sluit Desai af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.