Madrid: die vergete Europese hoofstad

Granvia, die pragstraat van Madrid (Foto: Sebastiaan Biehl)

Een van Europa se hoofstede wat gewoonlik vergeet word op die standaard-Europese toer wat Parys, Londen, Rome en dalk nog Berlyn insluit, is Madrid in Spanje. Die stad bied baie, maar het nie ʼn ikoniese baken soos die Eiffeltoring, Colosseum of Towerbrug vir selfie-fetisjiste nie.

Die stad is in elke opsig die sentrum van Spanje, nie net geografies nie, ook polities, ekonomies en kultureel. Toe die grootste deel van Spanje in die Middeleeue nog onder Arabiese beheer was, was Madrid slegs ʼn militêre buitepos. Die naam het moontlik Arabiese oorsprong, maar dit is nie meer duidelik wat die woord Madrid beteken het nie.

Tydens die Reconquista (die Christelike Herowering van Spanje wat eeue geneem het en eers teen 1492 afgesluit was) is Madrid in 1083 bevry, maar het eers in 1561 weens sy sentrale ligging onder koning Philip II die hoofstad van Spanje, destyds deel van die reuse Habsburg-ryk, geword. Groot bouaktiwiteite, soos kerke, paleise en spoggerige pleine, wat vir die hoofstad van ʼn wêreldryk waardig sou wees, is in dié tyd begin.

Plaza Mayor, die hoofplein van Madrid (Foto: Sebastiaan Biehl)

Spanje was in die sestiende en sewentiende eeu met sy Amerikaanse kolonies en die se opbrengs aan goud, silwer en ander kosbaarhede, die magtigste ryk op aarde, voor dit deur Brittanje onttroon is en sy stadige agteruitgang tegemoet gegaan het. Gelukkig vir Madrid is die stad nie erg deur oorloë verniel nie. Daar was wel skade deur die gevegte tydens die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939), maar omdat Spanje uit die Tweede Wêreldoorlog uitgebly het, het die stadsbeeld nie so drasties verander nie en domineer veral geboue uit die negentiende en vroeë twintigste eeu in die sentrum.

Moderne wolkekrabbers sien jy min. Natuurlik het, met die geweldige bevolkingsgroei in die twintigste eeu, die stad ook sy voorstede met die gewone betonwoonstelblokke bygekry. Kenmerkend van Madrid is groot pleine met monumentale openbare geboue, breë praglane soos Granvia, elegante parke soos die enorme Retiropark asook verskeie uitstaande museums.

Koningspaleis van buite (Foto: Sebastiaan Biehl)

Moontlik die hoofbesienswaardigheid is die koninklike paleis, waarvan die pronkvertrekke ook besigtig kan word. Spanje het, minder bekend as Brittanje, ook ʼn koningshuis wat, nes die Britse koningshuis, ook maar sy kwota skandale het. Die huidige koning, Felipe VI, het sy vader Juan Carlos I in 2014 opgevolg nadat laasgenoemde weens korrupsieklagtes bedank het. Felipe VI en sy vrou, koningin Leticia, kon wel die aansien van die koningshuis weer effens herstel. Die koningsgesin self woon in ʼn kleiner paleis in die buitewyke van Madrid en die koninklike paleis word net vir groot onthale gebruik en is meesal ʼn museum.

Vir kunsvriende is die Pradomuseum, in gehalte en hoeveelheid kunswerke een van die voorste museums ter wêreld, ʼn moet. Die grootste versameling skilderye is uit die aard van die saak die van Spanje se goue era (1492 tot 1659) asook uit latere eeue, met kunstenaars soos Diego Velazquez, El Greco, Bartolomé Murillo en Francisco de Goya as die bekendstes. Daar is egter ook beduidende versamelings van die Italiaanse en Nederlandse barok-tydperk asook van Middeleeuse skilderye.

Die Pradomuseum (Foto: Sebastiaan Biehl)

Gelukkig is die museum nie so tot oorlopens toe vol besoekers soos byvoorbeeld die Louvre in Parys of die British Museum in Londen nie. Vir vriende van die moderne kuns is daar die Museo Reina Sofia, met werke uit die twintigste eeu, waaronder die bekende Picasso-skildery Guernica wat die bombardering van dié Baskiese stad tydens die burgeroorlog daarstel. Saam met die Museo Thyssen-Bornemisza, wat klassieke sowel as moderne kuns uitstal, vorm hulle die “driehoek van die kunste”, omdat die drie kunsmuseums skuins oorkant mekaar geleë is.

Wat Madrid verder aangenaam maak, is dat selfs in die sentrum, afgesien van enkele groot lane, daar heelwat nou straatjies, voetgangerareas en gemoedelike pleine vol kroeë en restaurante is, waar die lewe tot laatnag bruis. Ook die tradisionele, spesiale winkels wat aan ʼn stad karakter gee, soos vir antieke meubels, tweedehandse boeke, seëls en munte of handgemaakte produkte, is nog hier.

Tipies aan die Spaanse eetkultuur is tapas; bordjies met versnaperings soos gerookte ham, olywe, kaas, gesoute vissies of aartappeltertjies wat saam met bier of wyn geëet word en besonder geskik vir kuiers in ʼn groot kring is. Dit is egter net die “opwarm” vir die eintlike groot aandete wat eers om half tien die aand genuttig word, ʼn tyd waar die meeste Middel-Europeërs (en Suid-Afrikaners) al op pad bed toe is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.