Mooi, onvergeetlik en gasvry: die Oos-Vrystaat

Golden Gate se poele. (Foto: Janet Feun)

Ry jy deur die Oos-Vrystaat, weet jy die skoonheid is nie iets wat jy sommer sal vergeet nie. Maak jy jou oë toe, sien jy steeds die populierbome en sonneblomme in die sagte sonlig. Dit is ’n prentjie wat enige kunstenaar se hart bekoor. Daardie gevoel as jy die eerste keer deur hierdie landskap ry, is iets wat jy jou bybly en troos wanneer jy weer ná ’n lekker toer die realiteit aanpak.

Tydens ʼn reis deur die Oos-Vrystaat, is elke oomblik kosbaar, nie net jou bestemming nie.

Eerste verken ons die Golden Gate Nasionale Park, waar hulle spog met ekstra goue rotskoppies. Hier kan jy ʼn staptoer aanpak, kampeer of selfs in rotspoele baljaar. Ek kan jou belowe, raak jou voete aan daardie water terwyl jy uitkyk oor die geel gras, vergeet jy van alles wat in die wêreld aangaan.

’n Boekwinkel in Clarens. (Foto: Dalene de Vente)

Ons besoek Clarens, waar daar iets vir almal is. My ma hou van die kunsgalerye, die ander drink ʼn biertjie. Ek maak ʼn draai by die boekwinkel. Daar is winkels met porselein vir Ouma of winkels met vellies vir Boetie.

Net buite Clarens is daar ʼn staproete wat ek al twee keer gedoen het, die Kannibaal-staproete. Dit is ʼn eennagroete en saans slaap jy onder ʼn oorhang. Ons dra ons matrasse in die oop veld, sing onder die sterre en vermaak mekaar met woordspeletjies. Die sonsondergange is iets vir die fotoboeke…

Op die einste plaas waar jy die staproete doen, is daar ook ʼn rots wat soos ʼn sampioen lyk, waarnatoe jy kan stap.

Jou roete kan nou Clocolan se kant toe draai. Op die R62 is die lieflikste padstal, Constantia Cherry Farmstall, met allerhande kersieprodukte.

Nog ‘n oulike winkel in Clarens. (Foto: Dalene de Vente)

Daar sit mense op sagte banke wat ʼn verjaarsdag vier, terwyl die hoenders kloek-kloek rondom hulle voete. Drink ʼn koffie hier of koop geskenke vir jou hartsmense.

Op dieselfde pad is daar nog ʼn padstal, The Cabin. ʼn Plek waar jou kinders op die klimrame kan speel terwyl jy ʼn pannekoek met karamel geniet. Daar kan jy ook kreatiewe bykomstighede koop, of kussings met oulike gesegdes op.

Naby Ladybrand is daar ʼn gastehuis, Oldenburg, waar ons spontaan opdaag. Die mense vertel ons so bietjie van die omgewing en ons kry selfs ʼn gratis koeldrank.

Wanneer jy van die Oos-Vrystaat afskeid neem, weet jy dié plek is nie sommer iets wat jy vergeet nie. Sit jy weer in jou kantoorstoel, is die lug in jou gedagtes nog so pastelblou soos die Oos-Vrystaat, die rotskoppies is goud en die mooi sonneblomme vars in die veld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronel ·

Ons het die kannibaal staproete gedoen. Dit was ongelooflik. Mooi en uitdagend veral as jy met jou volle rugsak gaan stap. Hulle gee egter die opsie dat jou bagasie opgevat word met ‘n voertuig. Almal wat graag en gereeld stap, kan gerus daar die roete aanpak. Moenie vergeet van die “Mushroom rock” roete saam die kannibaal roete nie!

Dalene ·

Hi Ronel! Ja, dit is baie mooi! Ek het nie besef daar is ‘n opsie wat jou bagasie met ‘n voertuig opgevat word nie, fantasties. Ek wou al die Mushroom rock- roete doen, maar ek moet bieg dat ek bietjie verdwaal het. Maar ek doen die roete enige dag wéér! Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.