Morsekode in die Karoo

Jannie Olivier by die plek waar die windpomp gestaan het. Dit is dieselfde put, maar met ’n ander windpomp. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Onkunde het dikwels verrykende gevolge. ’n Windpomp, wat vir boere oor jare ’n noodsaaklike lewensaar is, het tydens die Anglo-Boereoorlog vir ’n boer in die Groot Karoo baie probleme besorg.

Honderd-en-veertig jaar gelede het die eerste Vryheidsoorlog tussen Boer en Brit tot ’n einde gekom. Dit was nadat die Britte besef het dat hulle nie die Boere sonder aansienlike militêre ingryping sou kon verslaan nie.

Die vrede was van korte duur. Op 12 Oktober 1899 het die eerste skote van die Tweede Vryheidsoorlog, of beter bekend as die Anglo-Boereoorlog, geklap. Brittanje wou graag die Britse vlag oor die hele Suid-Afrika sien wapper. Oor die verwoesting wat op plase gesaai is en die vroue en kinders se lyding, is al baie geskryf.

’n Rare verhaal is egter dié van Petrus Johannes Olivier van die plaas Kweekwa in Victoria-Wes se omgewing. Olivier was ’n hardwerkende perde- en skaapboer en algemeen as vreedsaam en wetsgehoorsaam beskou. Sy vader het die grond, van ongeveer 29 000 morg, aan die togryerspad tussen Victoria-Wes en Carnarvon, Williston en Calvinia, reeds in 1853 gekoop. Die grond sou later in verskeie plase onderverdeel word. Vandag se Trompsgraf, Adriaanskuil, Nuwefontein, Ysterkoppe en Witkranz het deel gevorm van die oorspronklike plaas.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Britte dikwels van die togryersroete, op pad na Namakwaland, gebruik gemaak aangesien Victoria-Wes oor ’n spoorwegstasie, met die vreemde naam van Victoria-Wes-Weg, op die hooftrajek tussen Kaapstad en Johannesburg beskik het.

Olivier was welgesteld en kon dit bekostig om ’n Amerikaanse windpomp in te voer om sy diere van water te voorsien. Die soldate het dikwels op Kweekwa aangedoen om ook water en voer vir hul diere te kry. Die eienaar se vrou, Chrissie, het ook gereeld tuisgebakte brood aan die soldate verkoop.

Met die Boerekommando’s se binnedring van die Kaapkolonie aan die einde van 1900, het die Britte die krygswet ook hier afgekondig. Daar is dadelik beslag gelê op Olivier se perde en skape gelê. Hy is met slegs vier donkies gelaat. Vir Olivier was dit ’n bron van groot ongelukkigheid. ’n Gevoel van vernedering het aan hom gevreet, aangesien hy hom uit oorlogsake gehou het.

Die huis op Kweekwa. (Foto: Verskaf)

Dit was net die begin van Olivier se ellende. Hy is aanvanklik deur die Britte beskuldig dat hy seine met ’n heliograaf aan die Boere stuur. Hy was uit die veld geslaan, want hy het geen heliograaf besit nie. Olivier is aangesê om in die dorp te gaan aanmeld, maar hy het geweier. Hy het geëis dat hulle hom kom haal indien hulle hom op die dorp wou hê.

Op ’n dag het elf Britse soldate van die Sixth Inniskilling Dragoons, wat op Victoria-Wes gestasioneer was, hom op die plaas in hegtenis geneem. Hy is steeds daarvan beskuldig dat hy in die nag Morsekode-spioenasieboodskappe oor die Britse troepe aan die Boerekommando’s gesein het. Die Britse soldate het van Olivier verwag om die byna veertig kilometer dorp toe te stap. Hy het geweier. Hulle was genoodsaak om ’n plan te maak en vir hom vervoer te reël.

Olivier het geen verhoor gehad nie. Tog is hy tronkstraf opgelê. Hy het wel later parool ontvang en kon vir die tydperk saam met sy gesin in hul tuishuis, ook bekend as ’n nagmaalhuisie, in die dorp woon. Deel van die voorwaardes was dat hy twee keer per dag by die Tommies moes gaan aanmeld.

Ná die oorlog sou Olivier uitvind dat Britse soldate een nag, op die togryerspad tydens volmaan, die maanlig op die windpomp se vinne sien blink het. Aangesien hulle nie ’n windpomp geken het nie, het hulle die maanlig op die draaiende windpompwiel vir Morsekode aangesien. Hulle was oortuig daarvan dat Olivier met ’n lamp seine aan die Boere gestuur het.

Olivier het wel later vergoeding ontvang vir die perde en vee waarop beslag gelê is.

Jannie Olivier, die vyfdegeslageienaar om op Kweekwa te boer, vertel dat die oorspronklike put steeds daar is, maar met ’n ander windpomp. Dié is ongeveer een kilometer wes van die huis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

En nou is daar ‘n ander “besettingsmag” wat sy grond op-eis…. die keer sonder vergoeding.

deon ·

Jy dink jy staan neutraal,jy sal ingetrek word so raak maar betrokke…

anniekiewiet ·

Ook maar onnosel gewees, nie omdat hulle nie windpompe geken het nie, maar omdat hulle nie gevra en geluister het nie. Klink so tipies mens …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.