My gewone vakansiedorp is vol vir die somervakansie. Hoe nou?

Cloud Nine by Total Stay (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Ná ’n jaar vol uitdagings, die meeste daarvan onvoorsien en onvoorkombaar, verdien ons almal ’n ruskans. Weens maande lange beperkings op Suid-Afrikaners se beweging, die feit dat soveel mense steeds tuis werk en vanweë verstaanbare onsekerheid oor oorsese reise, is dit egter ook waar dat daar vanjaar ’n besonderse aanvraag na plaaslike vakansieverblyf is. Suid-Afrikaners wil en móét uit die huis uit kom en almal het hul visier op die somervakansie.

Hierdie oplewing in die akkommodasiebedryf is goeie nuus vir vakansieblyplekke en toerisme as ’n geheel wat vroeër vanjaar deur grootskaalse kansellasies ’n lelike knou toegedien is, maar nié noodwendig vir vakansiegangers nie. Die besprekingskalenders van gewilde vakansiedorpe, veral dié naby die see, bars reeds uit hul nate, terwyl Jan Alleman spaander om verblyf te vind wat sy sak en smaak pas. Hoe dan gemaak as die vakansiedroom wat jy al sedert vlak 5 koester, nie lyk asof dit ’n realiteit gaan word nie?

LekkeSlaap.co.za het ’n paar wenke wat kan help:

Daar ís nog verblyf, miskien net op ’n ander plek

Mosselbaai en Hartenbos, Knysna en Durban – Suid-Afrikaners het maar hul witbroodjies as dit by somervakansiedorpe kom. Maar, soos wat baie instellings in 2020 plek vir verandering moes maak, is dit miskien tyd om ander dorpe te oorweeg. Gooi jy die net ’n bietjie wyer, is daar wél nog tydens die spitsseisoen verblyf beskikbaar ─ net op ander plekke. Pleks daarvan om in ’n spesifieke kusdorp soos Langebaan, Hermanus of Umhlanga na verblyf te soek, gee die res van daardie kusstreek ’n kans en begin jou soektog deur byvoorbeeld onder Weskus, Suidkus Walvisroete of Suidkus te soek. So kan jy sien watter dorpe in dié area nog verblyf beskikbaar het. Of nog beter, breek weg na ’n heel ander deel van die kus, soos die rustiger Wildekus of die kusdorpies van Namakwaland.

Plekke aan stiller dele van die kus, soos dié plek aan die Wildekus, het ’n groter kans op beskikbaarheid. (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Kyk rondom jou gunstelingvakansiedorp

As jy jou nie kan indink om té ver vanaf jou gewone, geliefde vakansiedorp te gaan rus nie, kan jy ook moontlik regkom deur LekkeSlaap.co.za se kaartfunksie te gebruik en rondom jou gunstelingvakansiedorp te soek. Tik eenvoudig die datums van jou vakansie, die aantal gaste en die naam van jou voorkeurdorp in. Sodra jy op die soekblad beland, kies jy die “Sien Kaart”-funksie wat jou sal toelaat om op ’n kaart te kyk watter verblyf rondom dié dorp nog beskikbaar is. Al die beskikbare verblyf sal as rooi huisies vertoon. Jy kan ook die kaart verklein om ’n groter radius rondom die dorp te sien.

Jy kan beskikbaarheid rondom jou gunstelingvakansiedorp soek met LekkeSlaap se kaartfunksie. (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Die see is nie ál plek vir waterpret nie

Dit is verstaanbaar dat ’n mens heel eerste aan die see dink as ’n mens die woord “somervakansie” hoor, maar die see is nie die enigste waterbron wat vir somervermaak kan sorg nie. As jy in die water wou baljaar, hoekom nie ’n blyplek naby ’n rivier, ’n dam, by ’n plaasdam of verblyf met ’n swembad oorweeg nie? Op LekkeSlaap.co.za kan jy verblyf naby al Suid-Afrika se vernaamste damme soek deur die dam se naam in die soekblokkie in te tik. Jy kan die kaartfunksie gebruik om verblyf op ’n rivieroewer te soek waar julle sal kan tjoepvaar, roei of hengel, óf jy kan bloot die swembad-filter aansit om seker te maak jy bespreek ’n blyplek met ’n swembad op die perseel.

Orange River Rafting Lodge is net een voorbeeld van ’n waterpretbestemming wat nié langs die kus is nie. (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Verken ’n dorpie wat nog altyd op jou reislys was

Hierdie jaar was allermins normaal, so wees avontuurlustig en breek hierdie somer van die normale kusvakansie af weg. As daar ’n dorpie, monument, bergpas of vallei is wat jy nog altyd wou sien, ’n plek waarvan jy gehoor of gelees het wat nog altyd vir jou aanloklik of misterieus geklink het, gaan maak hierdie somervakansie daar ’n draai. So sal jy die skares op die strande vryspring en ’n outentieke vakansie-ervaring hê! Van die Drakensberg tot De Rust, Swellendam tot Steytlerville en Parys tot Prins Albert, Suid-Afrika is vol plekke met hartsmense vol stories en dinge wat jy eenvoudig móét sien en ervaar.

Gaan verken eerder ’n oulike dorpie soos De Rust. (Foto: Adriëtte le Roux)

Probeer ’n ander tipe verblyf

Moenie jou aan selfsorgverblyf vasstaar nie. Veral as jy net vir ’n kort tydjie oor die spitsseisoen kan wegbreek, is dit nie nodig om die aftog te blaas omdat jy nié ’n selfsorghuis kan vind nie. B&B’s, oorde, lodges, hotelle en gastehuise kan ook werk. Hierdie tipe instansies het dikwels ’n uitstekende ligging, bied geriewe om die jongspan te vermaak, het personeel wat die skoonmaakwerk namens jou doen, bied dikwels maaltye op die perseel (of ingesluit by die prys) en kan goeie voorstelle maak oor waar julle op belangrike feesdae in die dorp ’n ete kan bespreek. Dit mag dus vir ’n korter wegbreek meer geskik wees as selfsorgverblyf.

Selfsorg is nie al opsie nie! Plekke soos die Club Mykonos Oord in Langebaan sorg ook vir vakansiepret. (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Oorweeg dit om jou datums ’n bietjie aan te skuif

Die skoolvakansie duur vanjaar van 15 Desember 2020 tot 25 Januarie 2021. Jy kan dus die feesseisoen se ergste gedruis en verkeer vryspring as jy eerder nié oor die Nuwejaarstyd wegbreek nie, maar jou datums effens aanskuif en vir middel-Januarie verblyf soek. Teen hierdie tyd is daar heelwat meer blyplekke beskikbaar. As jy nie saam met kinders reis nie, maak dit jou opsies nóg meer en kan jy jou verlof insit vir net ná die skole weer begin.

As jy jou datums na later in Januarie skuif, is droomplekke soos dié beskikbaar. (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Ontsnap (vir eers) uit die stad

Die doel van vakansie is om ’n bietjie asem te skep, reg? Wat dan van jou groot vakansieplanne vir eers op ys sit en eerder ’n kort asemskepsessie net buite die stad beplan? Sodoende kan jy tog jou batterye herlaai en ’n bietjie afwisseling kry, maar nie jou hele vakansiebegroting op brandstof spandeer nie. LekkeSlaap het onlangs die “Ontsnap uit die Stad”-funksie bygevoeg wat gaste toelaat om na verblyf in ’n bepaalde radius rondom Suid-Afrika se grootste stede, Kaapstad, Johannesburg en Durban, te soek. Dit maak ’n vinnige uitstappie of middel-van-die-week-wegbreek sommer lekker maklik en sê ook vir jou hoe ver die blyplek van die stad af is! Sodra jy ná jou vinnige wegbreek verfris voel, kan jy jou langer vakansie behoorlik beplan.

Met die “Ontsnap uit die stad”-funksie, is ’n vinnige naweekwegbreek baie maklik! (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Beplan solank vir volgende jaar

Dis reg! As jy hierdie jaar daardie selfsorgstrandhuis gemis het, bespreek hom sommer nou al vir einde 2021. Dink vooruit aan die langnaweke in Maart en April, aan ’n Wildtuinwegbreek in die middel van die winter en aan die romantiese vakansie vir jou en jou maat wat jy graag volgende September wil hê. Hoe vroeër jy vir volgende jaar se vakansies beplan, hoe langer het jy tyd om daarna uit te sien, en hoe meer is die plekke tot jou beskikking en hoe lekkerder is jou 2021!

As jy nou al bespreek vir 2021, is spogvakansiehuise tot jou beskikking! (Foto: LekkeSlaap.co.za)

Vakansie is darem net te lekker om té vinnig op te gee. Al lyk jou somervakansie vir 2020 nie soos wat jy aan die begin van die jaar gedink het nie, is daar steeds talle moontlikhede vir ’n lekker ruskans as jy net so ’n bietjie meer rondklik.

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.