ʼn Besoek aan Görlitz, waar Duitsland nog ‘normaal’ is

Soos wat Duitsland, veral in die groot stede, teen ’n vinnige tempo onherkenbaar verander, is daar onder die enkele behoudendes en meer patrioties gesindes die versugting om in die randgebiede, vêr van die groot stede, ʼn rustiger en meer “normale” lewe te lei.

Veral in Oos-Duitsland is dinge, ook weens die nog meer homogene samestelling van die bevolking, meer soos in die Duitsland van dekades gelede. Sakse is seker die mees konserwatiewe deelstaat, en daar veral in die oostelike deel rondom die stad Görlitz teen die grens met Pole. Hier is ook een van die vestings van die Alternative für Deutschland (AfD), waar hulle in verkiesings tussen 20% en 30% van die steun trek.

Görlitz was eens op ʼn tyd een van die rykste stede in Duitsland, vandag is dit een van die armstes. Die geografiese ligging speel daarby ʼn rol en die verandering van grense. Die stad vier vanjaar sy 950ste bestaansjaar en is in die Middeleeue, in 1071, die eerste keer in ʼn oorkonde genoem.

In die laat Middeleeue en tydens die Renaissance-tydperk was dit ʼn voorspoedige sentrum vir ambag en handel. Soos feitlik alle stede in Duitsland het die Dertigjare Oorlog (1618-1648) die stad groot skade berokken en sy bevolking drasties verminder. Groot brande in die vroeë 18de eeu, deesdae algemeen, het dinge nog vererger.

Met die grensveranderings van die Weense Kongres van 1814/1815 het Görlitz, voorheen deel van die koninkryk Sakse, deel van die Pruisiese provinsie Silesië geword. Vir die militêre moondheid Pruise was die stad, naby die grens met die Habsburgse Ryk en Sakse, van strategiese belang en het daarom ʼn belangrike garnisoenstad geword, wat tot sy vooruitgang en bevolkingsgroei bygedra het. Die stad het ook ʼn administratiewe sentrum geword en was weens sy goeie verbinding per trein na Berlyn ʼn gewilde aftreebestemming vir staatsamptenare.

Die voorspoed het veral in die laat 19de eeu, in elk geval Duitsland se goue era, tot geweldige uitbreidings van villas en verdiepinghuise in die klassieke en historistiese boustyl gelei. Die geweldige groot stasie wys nog dat die stad eintlik ontwerp was vir meer as honderdduisend mense – in skrille kontras met die sowat 55 000 wat vandag hier woon. Omdat die stad as een van die min in Duitsland nie tydens die Tweede Wêreldoorlog gebombardeer is nie, is dit ʼn juweel van behoue argitektuur uit verskeie eeue. Ten spyte van die verval onder die kommunistiese Oos-Duitse bewind van 1949-1990 kon feitlik alle geboue behou en herstel word. Omdat die stad so ʼn geslote historiese voorkoms het, is dit al dikwels as toneel vir films en televisiereekse gebruik soos Berlin Babilon, The Grand Budapest Hotel, Inglourious Basterds en ander en het daarom die bynaam “Görliwood” gekry.

Görlitz het sedert die 1990’s ʼn aansienlike deel van sy bevolking verloor, maar in die laaste jare is daar ʼn stadige omkeer te bespeur. Danksy die groot staatlike inspuitings ná die val van die muur is die stad se praggeboue grootliks herstel, net enkele strate in die buitewyke lyk nog soos kort ná die oorlog. Veral beleggers uit Wes-Duitsland koop huise op en herstel dit, wat tot ʼn ooraanbod aan huurhuise lei, wat in vergelyking met ander stede betreklik goed koop is.

Wat die stad effens anders maak, is dat hier min uitlanders is wat deesdae die straatbeeld van elke Duitse stad beheer. Görlitz is 95% Duits en dit is ook te sien aan die winkels en restaurante. Die paar uitlanders wat hier woon is veral Pole, omdat die dorp Zgorzelec net anderkant die Neisserivier geleë is. Zgorzelec was eens deel van die Duitse provinsie Silesië en ʼn voorstad van Görlitz. Mense reis heen en weer oor die voetgangerbrug tussen die Duitse en Poolse deel van die stad, vir sake, om te kuier, vir inkopies. Ondertrouery vind natuurlik ook plaas. Oor die algemeen kom die twee volke goed met mekaar oor die weg en is daar nie die gevoel van verdringing en vervreemding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.