’n Bootreis: Die Kanariese Eilande

Die Kanariese Eilande in Spanje. (Foto: Ron Elling/Unsplash.)

Die Kanariese Eilandgroep bestaan uit sewe hoofeilande (Gran Canaria, Tenerife, Fuerteventura, Lanzarote, La Palma, Gomera en Hierro), met ’n klomp kleiner eilande en rotse. Van hulle verskil egter aansienlik wat klimaat en karakter betref.

Twee van hulle is woestynagtig en redelik plat. Die ander, daarteenoor, is almal bergagtig, groen en vrugbaar. As ’n reël is die noordekant, waar die reën vandaan kom, die groener deel, terwyl aan die suidekant dikwels lang sandstrande en daarom ook die groot hotelkomplekse vir die sonsoekers is. Landbouprodukte is, onder meer, piesangs, pynappel, papaja en wyndruiwe. Anders as in die geval van Madeira, wat onbewoon was, het die Spanjaarde wat die Kanariese Eilande in 15de eeu beset het, die primitiewe oerbevolking van die Kanariese Eilande, wat oorspronklik in eenvoudige bote vanaf die Weskus van Afrika gekom het, uitgeroei of as slawe gebruik.

Lanzarote, ons volgende besoekpunt na Madeira, en sy buureiland Fuerteventura, is slegs sowat 100 km vanaf die kus van Wes-Sahara/Suid-Marokko geleë en is woestynagtig. Hulle is geologies die oudste eilande en die eertydse hoë vulkane het grootliks deur erosie verdwyn en daarom trek die wolke oor die eilande weg.

Ná die plantryke en romantiese Madeira was die aankoms in Arrecife, die hoofstad en hawe van Lanzarote, ’n taamlike kontras. Dit het gelyk soos ’n dorp iewers teen die Suid-Afrikaanse Weskus, en die landskap rondom het my baie aan die sentrale dele van die Karoo laat dink. Die berge hier is slegs sowat 600 meter hoog en talle vulkane staan as koppies orals rond, omring deur barre swart lawarotse.  In die middel van die eiland is Teguise, die historiese hoofdorp met sy dorpsplein en wit kerk en geboue uit die 19de eeu. Dit sou die ideale toneel bied vir ’n Meksikaanse Wilde Weste-fliek.

In die noorde van Lanzarote is die uitsigpunt Mirador del Rio met ’n panoramiese uitsig op die klein buureiland La Graciosa.

Die bekendste persoonlikheid van Lanzarote was Cesar Manrique ’n argitek, kunstenaar en omgewingsaktivis, wat in 1992 in ’n motorongeluk dood is. Hy het met sy argitektuur gepoog om die geboue by die landskap aan te pas. Alle huise in Lanzarote is op sy aandrang wit geverf, wat goed kontrasteer met die swart landskap.

Sy voormalige huis, wat as ’t ware insmelt met die omgewing en waarvoor baie grotelemente ingespan is, huisves nou die stigting wat sy naam dra. Bekend is ook die argitektoniese kunswerk Jameos de Aqua (Skoorsteen van die water) – ’n lawasloot wat tot onder die see strek en ’n grot wat vroeër as ashoop gebruik is. Manrique het dit opgeknap en omskep met swembad, restaurant en ouditorium vir konserte – ’n groot toeristeaantreklikheid. Manrique het egter deurentyd daarop aangedring dat toerisme op Lanzarote beperk moet wees. Hotelblokke soos in die groter buureilande vind ’n mens gelukkig ook selde op Lanzarote.

Heeltemal die teendeel van Lanzarote, is La Palma heel in die Weste. Dit is bergagtig, plant- en waterryk, met nog heelwat van die oorspronklike oerwoud. Die hoofdorp Santa Cruz de la Palma is prentjiemooi met sy koloniale huise met houtbalkonne, keisteenstrate teen die berg op, talle pleine met palmbome en bougainvilleas en vele koffieplekke en winkeltjies in die voetgangerareas.

Die ouditorium van Tenerife in Santa Cruz de Tenerife. (Foto: Dušan Smetana/Unsplash.)

Tenerife is die grootste en mees diverse eiland, met die hoogste berg van Spanje, die Pico de Teide (3 718 meter hoog), ook ’n aktiewe vulkaan. Die hoofstad Santa Cruz de Tenerife, geleë in die noorde, is ’n lewendige stad met die gewone mengsel van ou en nuwe geboue.

Met die trem kan die veel mooier stad La Laguna bereik word. Dié ou stad is ’n ware skatkis van historiese geboue met ’n besliste Latyn-Amerikaanse atmosfeer. Dit was boonop karnavaltyd toe ons daar was en terwyl ons een dag voor die katedraal koffie gedrink het, het ons ons verwonder aan die optogte en kleurryke kostuums. Talle inwoners van die Kanariese Eilande is blykbaar in krisistye in die verlede genoodsaak om in veral Venezuela en Kuba, wat eens op ’n tyd baie voorspoedige lande was, werk te soek en het met hul terugkoms die leefwyse van daar saamgebring.

Nie ver van La Laguna nie, is die bekorende Anaga-gebergte met oerwoude en diep valleie en ’n voorkoms van die Natalse Drakensberge. In die suide is die breë sandstrande en die kunsmatige hotelstede wat ons nie besoek het nie.

Las Palmas de Gran Canaria waar die reis begin en geëindig het, is die grootste stad van die Kanariese Eilande met 380 000 inwoners en is ook die setel van die outonome regering. Dit is eweneens ’n diverse stad met sowel woonstelblokke en moderne inkoopsentrums, uitgestrekte villas in die tuinvoorstad en pragtige geboue soos die indrukwekkende katedraal in die historiese sentrum. Soos die naam sê, is palmbome, soos orals op die Kanariese Eilande, volop.

Om die Kanariese Eilande en ook Madeira per boot te kon besoek, was ’n groot voorreg en ’n onvergeetlike reis.

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.