’n Bootreis: Madeira

Die Botaniese Tuin in Monte. (Foto: Verskaf.)

Ek was bevoorreg om saam met my pa op ’n bootreis te gaan. In die tyd van die koronavirus was dit die laaste reis van dié aard – vir eers.

Die vaart het begin in Las Palmas op Gran Canaria (deel van die Kanariese Eilande), toe na Madeira en van daar na Lanzarote, La Palma en Tenerife, om weer in Gran Canaria te eindig.

Madeira, die eerste besoekpunt, is ’n Portugese Eiland in die Atlantiese Oseaan, geografies op dieselfde breedtegraad as Casablanca in Marokko en daarom ook met ’n subtropiese klimaat geseën. Die eiland is sowat 55 km lank en 22 km breed.

Geologies is Madeira asook die Kanariese Eilande van vulkaniese oorsprong. Die hoë berge (tot 1 800 meter) vang die wolke op en daarom reën dit gereeld in die wintermaande en is die eiland ’n ware planteparadys. Die vulkaniese grond is baie vrugbaar en die klimaat deurentyd aangenaam warm, meesal om en by 20 ˚C en met geringe verskille tussen somer en winter. Daarom word dit ook (soos die Kanariese Eilande) die Eiland van Ewige Lente genoem.

Die standbeeld van Karl I. (Foto: Verskaf.)

Tradisioneel is hier suikerriet verbou, maar dit was weens die bergagtige geografie moeilik en is later laat vaar en na Brasilië verskuif, wat ook eens op ’n tyd aan Portugal behoort het. Madeira het toe later beroemd geword vir sy soetwyn. Die hoofinkomstebron is egter nou toerisme. Vissery in die visryke waters speel ook ’n rol.

Dit was Portugal se eerste oorsese besitting, al sedert 1419 ná die herontdekking deur die seevaarder João Gonçalves Zarco, en dit was ook ’n wegspringplek vir die verowering van Portugal se aansienlike koloniale ryk in die 15de eeu en daarna.

Toeris in mandjieslee. (Foto: Verskaf.)

Wat dit anders maak as ander ontdekte gebiede, is die feit dat die eiland, wat naastenby 700 kilometer van die naaste vasteland, Afrika, geleë is, onbewoon was. Vandag woon daar sowat 250 000 mense, die helfte daarvan in die hoofstad Funchal. Daar is feitlik nêrens op die eiland ’n gelyke stuk grond nie en landbou word op terrasse bedryf. Daar is ook geen sandstrande nie, maar die landskap is baie mooi met die beboste berge, wat dit ideaal vir stappers en bergfietsryers maak.

Funchal is ’n aangename stad met koloniale argitektuur, vele bome en parke en vriendelike, rustige mense. Die sypaadjies en voetgangerareas in die sentrum is kunstig met keistene in swart en wit patrone versier. In die klein, kompakte sentrum is die katedraal, die gedenkteken vir Gonçalves Zarco en die hoofplein met die spoggerige regeringskantore (Madeira het outonome status) en eertydse adelpaleise. Anderkant die riviermond is die tradisionele werkersbuurt, wat egter vandag ook meesal ’n toeristegebied met talle straatrestaurante is. Hier is ook die markgebou met sy groente-, vrugte- en vismark. Veral die vismark met sy massiewe opgesaagde tunas of lelike slangagtige diepseevisse is ’n spektakel vir toeriste wat gewoond is aan die verwerkte kos van supermarkte.

Met die kabelspoor kan ’n mens opry na die voorstad Monte, sowat 500 m hoër geleë, en daarby die asemrowende uitsig oor die stad en die baai geniet. Bo is die botaniese tuine wat ’n mens die gevoel van ’n paradys gee. ’n Entjie verder aan is die kerk Nossa Senhora do Monte, waar die laaste keiser van die eens magtige Habsburgse Ryk oftewel Oostenryk-Hongarye, Karl I begrawe is.

Die monument vir Goncalvez Zarco in Funchal. (Foto: Verskaf.)

Madeira was al in die 19de eeu ’n gewilde vakansiebestemming vir veral adellikes (want gewone mense kon nie so ’n ver reis bekostig nie) en reeds die befaamde keiserin Elizabeth (“Sissi”) van Oostenryk het in Madeira ontspan. Nadat Habsburgse Ryk met die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 ontbind het, moes die laaste keiser – wat eers in 1916 gekroon is – sy heimat verlaat en het na vele omswerwinge in 1921 na Madeira in ballingskap gegaan. Reeds ná net enkele maande en slegs 34 jaar oud, is hy daar aan longontsteking dood.

Net onder die kerk vertrek ook die mandjiesleë waarmee ’n mens op die styl strate afgly, terug na Funchal. Dit is groot pret om teen tot 40 km per uur op die reeds glad geskaafde paaie af te gly, vergesel deur twee ervare mans (per slee) wat die mandjieslee stuur en trek waar nodig. Dit is ’n tradisie wat al meer as honderd jaar terugstrek en destyds, lank voor die kabelspoor, deur Britse toeriste gebruik is.

Hierna is ons na die Kanariese Eilande. Moenie die tweede aflewering van hierdie reisverhaal misloop nie!

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Therese

Ai, héérlik, en so interessant!
Het toevallig onlangs ‘n stokou film van “Sissi” op internet raakgekyk, en daarin het sy juis gaan vakansie hou op Madeira, sonder die Keiser as ek reg onthou. Pragtige storie!