’n Kuier in kleurvolle Calitzdorp

Calitzdorp betower met versteekte skoonheid wat veel meer bied, as wat ‘n mens van die Klein Karoo verwag. (Foto: Verskaf)

In die skaduwee van die magtige Swartberge vind jy Calitzdorp. Baie van die geskiedkundige huise hier is toeka gebou vir boere wat dorp toe gereis het vir nagmaaldienste. Hier is pragtige pophuisagtige “tuishuise” rondom die ou sandsteenkerk wat gebou is in die hoogbloeityd van die volstruisbaronne. Elders in die dorp vind jy kothuise met hoë plafonne, ’n ou hooisolder en handelshuis, gewels, houthortjies, leivore en ’n kapelletjie met ’n rietplafon.

Die naweek gaan ek, my man en ons twee seuns tuis by ’n familie wat al so lank deel is van die kontrei soos sonskyn en klip. Hermanus en Petro is al die vyfde geslag Potgieters wat hier op die plaas Red Stone Hills buite Calitzdorp boer en op die werf gewaar jy volstruis, bees en skaap. Sommige van die agt kothuisies op die plaas waar mens kan tuisgaan, het nog die oorspronklike skuiframe, rietplafonne en deure en die oudste huisie is in 1876 gebou.

Om die plaaseienaars te verwittig van jou aankoms, moet mens die skoolklok van die oorspronklike ou plaasskoolgeboutjie lui. Petro kom ons tegemoet – die toonbeeld van Karoo-hartlikheid. Sy gesels gesellig, gee vir ons ’n waatlemoen present en verkoop ’n krat doringhout sodat ons lekker onder die sterre kan braai. Nadat ons seuns vir ons skaaptjoppies gebraai het, verskuif ons die stoele na die skaapveldjie voor die kothuis sodat ons die sterre behoorlik kan bewonder. Salig!

Red Stone Hills is omring deur ’n vallei van wingerde en heuwels vol grotte en oorhangkranse, sommiges met skouspelagtige natuurlike vensters. Die volgende dag is dit volmaakte stapweer – glad nie so skelwarm of snerpend koud soos wat die Karoo kan word nie. Ons stap die Enon-staproete op die plaas. Dit is 7 km van prag en praal.

Een van Red Stone Hills se karaktervolle kothuisies. (Foto: Verskaf)

“Soveel kleur het ek nie in die Klein Karoo verwag nie,” verwoord my man ons almal se gedagtes.

Die heuwels is bloedrooi weens die hematiet (ystermineraal) en is van die oudste gesteentes in Afrika. Op die webwerf lees ek: “The koppies that surrounds the farm are constructed from iron-rich conglomerates which were deposited by turbulent rivers in the Cretaceous Period, some 130 million years ago. In a sense these blood-red rocks reflect the painful and energetic birth of the new African continent.”

Miljoene jare se winderosie en water het dit stadig weggevreet sodat net die alleenstaande koppies gebly het. Vandag is die rotse oortrek van geelgroen en grys korstmos – ’n teken van skoon lug. Die veld is die ene glinstergryse, vleespienke, silwergroene en ambergele teen ’n smaltblou lug. Dit gooi mens se prentjie van dorre vlaktes skoon omver. Hierdie halfwoestyn krioel van die vetplante en blommende struike, ruigtes teen die berge, heide. Spekvet spekbome, aalwyne. Pers lelies. Soetdoringbome langs die rivier. Witolienhout. Klein ghwarriebome. Vetplante met onvleiende name soos Karoo-beestebal en digterlike name soos wolwedorings en wurgbessies. Dit is veel groener as te wagte, groener as wat ek die Karoo al ooit gesien het en Petro vertel dis weens die onlangse reën, die eerste behoorlike reën wat in ses jaar hier geval het – en kyk net hoe dankbaar is die veld.

Die venster in die berg is iets ongeloofliks. Gerrit reken dis byna groot genoeg dat ’n vliegtuig daardeur kan vlieg.

Die venster in die berg is iets ongeloofliks. Dit is byna groot genoeg dat ’n vliegtuig daardeur kan vlieg. (Foto: Verskaf)

“Hoe is dit dat die hele wêreld nie hiervan weet nie?” roep ek. “Dis ikonies!”

Waarskynlik sou al wat leef en beef hiervan geweet het as dit ’n nasionale park was, maar Red Stone Hills is ’n familieplaas – en die Potgieters verdien wraggieswaar ’n pluimpie in die hoed vir hoe uitstekend hulle dit bewaar. Op die Enon-stap van 7 km het ons nie ’n enkele uitheemse plant gesien nie. Hier is altesaam 212 voëlspesies op die plaas geïdentifiseer en die veld is ook ’n habitat vir duiker, steenbok, aardwolf, rooikat, bakoorjakkals, ratel, aardvark en ystervark. Maar dis nie al nie, ’n bobbejaangeroep eggo deur die kranse.

Teen sonop sit ons op die stoep met koffie en beskuit. Geelbeen strek die son oor die horison. En wie sal ons doer bo-op die berg sien staan? ’n Klipspringer! En nog een. Woerts! wip hulle weg en verdwyn in ’n skeur. Op die tone soos ballerinas. Fyn én taai én geheimsinnig – nes die landskap.

Calitzdorp Museum is tjokvol interessanthede. (Foto: Verskaf)

Doendinge:

  • Calitzdorp Museum is tjokvol interessanthede, soos kinderonderrokkies gemaak uit gebleikte meelsakke, geborduurde dooprokkies, ’n klavier van okkerneuthout, ’n “outomatiese” wasgoeddrom met ’n slinger, maalstene vir koffiebone, mielieskrapers en fossiele van skulpe wat in die omgewing gevind is. Dit is ’n klein private museum wat geen steun van die owerhede kry nie en self geld insamel deur ’n goeie versameling tweedehandse boeke teen sakpaspryse aan te bied – ook Africana. Ons het Die Skatkis-reeks en Hans Christiaan Anderson se minder bekende Deense sprokies hier opgespoor. Brigette, wat op Saterdae as vrywilliger hier werk, se entoesiasme is aansteeklik. Die museum is oop van Maandae tot Saterdae van 09:30 tot 12:30. Skakel Ronelle by 083 517 9487.
  • Zamani Grill spog met die kleinste kroegie op Roete 62. Hier kan jy ’n yskoue Jägermeister uit ’n springbokhoring drink en ’n allemintige 750 mℓ-melkskommel uit ’n volstruisdop. Ons gesin het ons verlustig aan die lekker melkskommels met geure soos koekies en room, rum en rosyntjies, en sjokolade en koffie. Skakel 083 881 9334.
  • Boplaas is sedert 1880 ’n Nel-familiewingerd. In die proekamer kan jy kies tussen brandewyn, rooiwyn, vonkelwyn, whisky, gin, muskadel en Kaapse port. Ons beste keuse was die Boplaas Cape Vintage 2016 wat volgens tradisionele metodes uit die ou wingerd geoes is en in eikehoutvate verouder is. Skakel die proekamer by 066 499 4320. Besoek www.boplaas.co.za.
  • Karooboom is ’n braairestaurant ’n ent buite die dorp. Die atmosfeer is gesellig en vol mooi oudhede soos die ossewa, die broodoond en die stoele gemaak uit pootjiesbaddens. Plaasgeregte word voorgesit en ons het gesmul aan die gebraaide volstruis, pap-en-lap (amper soos kaiings) en lamsnek. Skakel 079 620 1441 of 044 007 0034.
  • Bergfietsry is groot in die kontrei. Ons het die pragtige plaaspad vanaf Red Stone Hills tot by Kruisrivier so geniet op die fietse – veral op ’n Sondagoggend wanneer die boere rus en die stof gaan lê ná die werksweek.
  • Red Stone Hills is self ook uiters geskik vir bergfietsry. Die plaas het baie roetes en bied bergfietsresiese aan. Moenie die dagstappe misloop nie. Die 7 km-Enon-stap is ongetwyfeld een van die allermooiste dagstappe in ons land. By Red Stone Hills ervaar mens egte Karoohartlikheid by gasvrou Petro Potgieter en gaan tuis in ’n geskiedkundige, karaktervolle kothuisies. Die kothuisies is elk 120 m uit mekaar met pragtige uitsigte oor die rivier, wingerd en berg. Elke kothuis het ’n vuurherd en die skilderye is Petro se eie handewerk. Die plaas is 6,5 km vanaf die Kruisrivier-afdraai van die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Skakel (+27) 072 901 5654. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.redstone.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Carina, dankie vir ‘n interessante artikel wat my herinner hoe lanklaas ek deur daardie streek gereis het. Die rooi Enon-konglomerate is nou nie die heel oudste gesteentes in S.A. nie, maar ek gaan nie hare kloof daaroor nie. Ek het my altyd daaraan verkyk in die verbygaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.