’n Oorlewingsgids vir vakansies met tieners

Betrek jou tiener reg van die begin af by die beplanning van jou volgende gesinsvakansie. (Foto: Verskaf deur Big Ambitions.)

Dit is heerlik om gesinsvakansie te hou as kinders klein is, dink maar aan die luilekker dae op die strand met emmertjies, roomys en die plaaslike kinderklub wat vermaak verskaf.

Reg, ons weet dit is nie altyd só idillies nie – veral as die kleintjies siek word of hulle roetine heeltemal by die venster uitvlieg, maar dit lyk of gesinsvakansies ʼn ander soort uitdaging bied as kinders eers hulle tienerjare betree.

Hier is ʼn paar wenke om ʼn blaaskans op die beste manier saam met ʼn trop tieners te geniet. Ons hou die idees plaaslik om Covid-19-verwante redes, maar dit bly goeie wenke of jy net jou eie provinsie verken of na die buiteland reis:

1. Betrek jou tiener reg van die begin af

Tieners ly aan ʼn permanente vorm van fomo (fear of missing out). Hulle kan nie die gedagte deurstaan dat hulle ʼn partytjie of die pret saam met vriende gaan mis terwyl hulle nou saam met hul ouers moet uithang nie.

Moenie dit egter nie te persoonlik opneem nie en verwag maar ʼn bietjie weerstand teen die jongste gesinsvakansie veral noudat die nasionale staat van afsondering verder gelig is en hulle weer saam met hulle vriende kan kuier.

Die beste manier om die aanvanklike murmureringe van verdeeldheid te oorkom is om jou tieners van die begin af by die beplanning te betrek.

Sloertoere is heerlik om te beplan. Laat jou tieners help om die verskillende roetes uit te soek, plekke om aan te doen te oorweeg en selfs ʼn sê in die eindbestemming te hê.

Bespreek eerder billike grense met jou tiener en besluit saam oor ʼn plan vir die gebruik van toestelle soos slimfone in die vakansie. (Foto: Verskaf deur Big Ambitions.)

2. Vind ʼn balans en stel grense

Die laaste ding wat jy as ouer wil hê, is dat jou tieners die hele reis op hulle slimfone vasgeplak sit – dit gaan dan tog oor gesinsbande bou, of hoe? Ons moet almal ontspan, maar as tieners die heeltyd op hulle slimtoestelle is gaan jou stresvlakke moontlik net weer begin styg.

ʼn Verbod op die toestelle is ongelukkig ook nie die antwoord nie. Bespreek eerder billike grense met jou tiener en besluit saam oor ʼn plan vir die gebruik daarvan. Jy kan byvoorbeeld instem dat die toestelle in die motor gebruik word, asook ʼn uur in die oggend en aand elke dag tydens die vakansie. Buite die afgesproke tye is dit tyd vir die gesin om saam te kuier, te lees en te verken.

Dit is ook belangrik om almal wat saam reis in ag te neem. Jonger kinders wil dalk graag ʼn voëlpark of akwarium besoek, terwyl tieners miskien eerder ʼn rolprent wil kyk of in die winkelsentrum wil uithang. Oorweeg dit om die dae so te verdeel dat daar tyd gemaak word om in die behoeftes van elke kind gefokus word.

3. Laat waai met avontuur

Natuurlik hang hierdie voorstel heeltemal af van die belangstellings en persoonlikheid van jou tiener af, maar die meeste jong mense hou van ʼn bietjie adrenalien.

Neem hulle om te ry op die langste rodelbaan (toboggan run) in Afrika. (Foto: Verskaf deur Big Ambitions.)

Hier is paar idees:

  • Neem hulle om te ry op die langste rodelbaan (toboggan run) in Afrika, ʼn 1,7 kilometer lange baan deur Mpumalanga se Long Tom-pas.
  • Loop in Graskop se glashysbak vir ʼn afdraande tog van 51 meter in die Graskop-kloof af en as jy dapper genoeg is, kan jy ook sommer ʼn brugswaai doen.
  • Neem die ziplyn deur die pragtige Piekenierskloof-bergoord net buite Citrusdal en laat jou adrenalien behoorlik pomp.
  • Ry met ʼn kano op die waterweë en riviermonding van die iSimangaliso-vleilandpark in St. Lucia, KwaZulu-Natal en wees sommer bedag op die seekoeie en krokodille.
  • Gaan verken Jonkershoek met ʼn bromponie van Scootours in Stellenbosch.
  • Durf die rivierwaters van die Asrivier buite Clarens in ʼn roeiboot aan.

Of jy nou gaan hengel by die Jozini Tiger Lodge of in klein Switserland in die Drakensberge gaan stap, kinders sal die plesier en avontuur geniet, terwyl dit boonop vir ʼn onvergeetlike gesinsvakansie sal sorg,” sê Sharmila Ragunanan, bemarkingsbestuurder van Dream Hotels & Resorts.

Bou genoeg avontuur in jou volgende gesinsvakansie in om die tieners tevrede te hou. (Foto: @nullplus/Unsplash.)

4. Gee hulle ruimte en onafhanklikheid

As dit tyd is om uit te span is die Fancourt-landgoed in George moeilikheid om te klop. Kry ʼn paar fietse by die ontspanningsentrum, of trek jou stapstewels aan vir ʼn wandelings langs die staproetes of ontspan by die swembad. Fancourt se sitkamer vir tieners met internettoegang is die plek waar jonger gaste hulle skoene kan uitskop en nuwe vriende tydens hulle vakansie kan maak.

Peter Dros, direkteur van verkope en bemarking by Fancourt, glo ruimte en vryheid is twee belangrike bestanddele as dit by ʼn lekker vakansie vir tieners kom.

Sy wenke om met tieners te reis is:

  • Kies ʼn bestemming waar hulle veilig voel en kan verken of net rondhang. Tieners wil hulle vlerke sprei om ʼn vakansie geniet maar jy as ouer wil steeds hê hulle moet veilig wees.
  • Soek aktiwiteit wat die generasiegaping binne ʼn gesin of familie kan oorbrug. Die Tuinroete het beslis genoeg om almal gelukkig te hou, insluitend bootvaarte en wildritte.
  • Bring tyd deur in die buitelug.
  • Gee tieners vryheid en ruimte.
  • Bou genoeg avontuur in jou vakansie in.

Sorg dat die onafhanklikheid van jou kinders (alle ouderdomme ingesluit) ook sommer sover strek as tot by die pak van hulle eie tasse, die motor in- en uitpak en die versorging van waardevolle items. Hulle kan ook sommer verantwoordelikheid help neem vir die spaar van ʼn bietjie vakansiegeld.

Sorg dat die onafhanklikheid van jou kinders (alle ouderdomme ingesluit) ook sommer sover strek as tot by die pak van hulle eie tasse, die motor in- en uitpak en die versorging van waardevolle items. (Foto: Verskaf deur Big Ambitions.)

5. ʼn Goeie internetkonneksie sal help

Kinders hou daarvan om verbind te bly en om die waarheid te sê, is jou as ouer se beste opsie om óf heeltemal van die netwerk af te klim óf om ʼn vakansiebestemming te kry met sterk, gratis en verkieslik onbeperkte WiFi vir verskeie toestelle te vind. Daar is niks meer frustrerend as om te hoor hoe die kinders die hele dag kla oor ʼn swak internetverbinding nie.

6. Hou die magies vol, en laat hulle slaap

Daar is geen twyfel hieroor nie, tieners is buierig en temperamenteel. Asem diep in en onthou dit is nie regtig hulle skuld nie – blameer dit maar op hulle hormone. Die ergste buie kan gelukkig met goeie kos, versnapering en baie slaap bestuur word.

Miskien is jou tieners nou naguile – die Covid-19-inperking het dalk ook hulle interne liggaamsklok versteur – maar die meeste jong mense verkies om na middernag te gaan slaap, en eers na middagete op te staan. Die beste is raad is om die sonsopkoms-uitstappies vir ʼn ander tyd te los – beplan eerder die beste avonture vir later in die dag, verkieslik na ʼn massiewe laatontbyt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.