’n Reisigersgids vir die Tuinroete

Mosselbaai (Foto: Verskaf)

Die Tuinroete is bekend vir sy natuurskoon, pragtige kuslyn en oorvloed van buitemuurse aktiwiteite, en daarom is dit ʼn plaaslike bestemming wat lank reeds op jou besoeklysie moet wees sodra die vlakke van afsondering reis toelaat.

As jy reeds gelukkig genoeg is om in die provinsie te woon, kan jy die volgende paar plekke deel van jou volgende besoek aan die streek maak:

  1. Swellendam

Swellendam is een van Suid-Afrika se oudste nedersettings en het baie om toeriste te bied. Hetsy jy rustig aan ʼn soet muskadel wil teug terwyl jy na die plaaslike bontebok kyk, die Breederivier wil aanpak vir ʼn aksiebelaaide kano-ervaring of die fynbosryke koppies op ʼn perd wil verken.

  1. Walviskyk in Witsand

Almal weet dat Hermanus die walviskyk-hoofsetel van Suid-Afrika is, maar as jy lus is vir ʼn rustiger ervaring sonder te veel mense, kan jy Witsand hiervoor besoek.

Witsand is stil weggebêre teen die R342 en sowat 45 minute se ry van Swellendam af. Dit het ook lekker visvangplekke en walvisse besoek die baai jaarliks om te kalf.

  1. Fancourt

As jy ʼn kranige gholfspeler is, is Fancourt Estate in George net die regte plek vir jou. Dié bekroonde landgoed is ook perfek vir die hele gesin met ʼn ontspanningsentrum, kinderklub en tienerafdeling.

  1. Manor House

Terwyl jy by Fancourt is, oorweeg dit om by Manor House, dié landgoed se boetiekhotel, oor te bly. Die hotel dateer van die 1850’s, toe dit eens ʼn huis was vir Henry Fancourt White, ʼn Britse ingenieur wat ʼn aandeel gehad het in die oprigting van die Montagupas tussen George en Oudtshoorn.

Die geskiedenis word in Manor House saamgevat en die personeel kan jou ʼn toer gee om meer daarvan te leer.

  1. Addo-olifantpark

Addo-olifantpark is die derde grootste park in Suid-Afrika naas die Krugerwildtuin en Kgalagadi-oorgrenspark. Dit het een van die grootste olifantbevolkings ter wêreld.

Dit is ook die enigste park in die wêreld waar jy die groot sewe kan sien: ʼn olifant, renoster, luiperd, buffel, suidelike noorkapper en witdoodshaai.

  1. Natuurskoon in Knysna

Die Knysna-woud strek van Mosselbaai tot Harkerville en bedek 45 000 ha grond. Die woud bevat 125 spesies van bome soos stinkhout, kershout en kalanderbome. Die woud is ook die habitat van 230 voëlspesies, so dit is ʼn voëlkyker se paradys!

  1. Robberg

As jy gereed is om jou veters in te ryg vir wonderlike staproetes, is dit net die plek vir jou. Die Robberg-natuurreservaat is ʼn wêrelderfenisgebied en slegs 8 km van Plettenbergbaai. Dit is ideaal om ʼn piekniekmandjie te pak en die park te voet saam met die hele gesin te verken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.