’n Romantiese wegbreek vir 2 in elke provinsie

Blaauw Hoek

Valentynsdag is al weer om die draai en met al die lekker opsies wat ons land het om te bied, verstaan ons dit is soms moeilik om te besluit watter een nou vir jou en jou liefie ideaal sal wees. Miskien is julle huweliksherdenking een van die dae, of julle wil sommer net ’n slag gehaltetyd saam deurbring, ver van die stadsgedruis. Moenie bekommer nie, LekkeSlaap wys jou ’n gunsteling-opsie in elke provinsie, sodat jy nie té ver hoef te gaan soek vir jou volgende romantiese wegbreek nie.

Die Beloofde Land, Wes-Kaap

Die Beloofde Land

Die Beloofde Land spog met drie losstaande eenhede op ’n plaas naby Uniondale, en die Visserman-eenheid is ideaal vir ’n paartjie. Daar is ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, oopplan-kombuis en ’n sitarea wat na ’n stoepie met ’n uitstekende uitsig oor die Langkloofvallei lei. Julle kan die kaggel in die slaapkamer aansteek om die ergste koue te verdryf en op die plaas gaan stap, voëlkyk en hengel. Let op dat daar nie selfoonsein op die plaas is nie, so daar sal beslis geleentheid wees om gehaltetyd saam deur te bring.

Lookout Safari Lodge, Gauteng

Lookout Safari Lodge

Kom geniet ’n unieke bosveld-ervaring in die Dinokeng Wildreservaat naby Hammanskraal waar die Groot Vyf te sien is. Dié Deluxe-chalets is ideaal vir julle romantiese wegbreek en het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, kombuisie en ’n sitarea met ’n TV. Julle kan ’n vleisie oor die kole by die gemeenskaplike braai-area gooi, op die dek ontspan en die wild dophou, of heerlik in die plonspoel afkoel ná ’n dag van wildkyk.

Dream Lodge, Noordwes

Dream Lodge

Dié lodge skuil op ’n prentjiemooi plaas sowat twintig kilometer buite Magaliesburg en bied ’n rustige en romantiese toevlugsoord vir jou en jou wederhelf. Daar is twee losstaande kothuise sonder elektrisiteit wat wel sonkrag-geisers, kaggels en kerse het om ’n romantiese atmosfeer te skep. Ons beveel die Agama-kothuis aan wat bo-op ’n heuwel gebou is en met ’n uitstekende uitsig op die Magaliesberge spog. Die kothuis het ’n koningingrootte-bed, oopplan-badkamer, sitarea en ’n buitestort. Ontbyt en aandete is ook by die tarief ingesluit en word by die kothuis bedien ─ dís nou gerieflik!

Ikwanitsha Lodge, Oos-Kaap

Ikwanitsha Lodge

Dis net sowat ’n uur se ry van Port Elizabeth af, en julle is by Ikwanitsha Lodge naby die Addo-olifant Nasionale Park. Dié lodge is op ’n 300 hektaar-perseel met sebras, volstruise en verskeie bokspesies geleë. Daar is vier chalets op stelte met asemrowende uitsigte oor die vallei, Boesmansrivier en die Zuurberg-voorheuwels. Elke chalet het ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, kombuisie en ’n onderdakdek met stoepmeubels waar julle lekker agteroor kan sit. Julle ontbyt is ingesluit en word by die boskroeg bedien waar ander eg Suid-Afrikaanse disse ook vir aandete bestel kan word.

The Farmers Cottage, Vrystaat

The Farmers Cottage

The Farmers Cottage is ’n pragtige selfsorg-plaaskothuis aan die verste punt van ’n kleinhoewe in Bethulie. Dié bekoorlike kothuis het ’n oopplan-uitleg en slaapplek vir twee gaste. Daar is ’n slaapkamer met lugversorging en ’n dubbelbed, ’n en suite-badkamer, ’n kombuis met ’n gasstoof en ’n leefarea met ’n kaggel en ’n TV. Buite is daar ’n lekker groot onderdakstoep met ’n etenstafel en braaigeriewe. Die erf is heeltemal omhein en troeteldiervriendelik, so julle kan ook vir Pote saambring!

Muluwa Lodge, Mpumalanga

Muluwa Lodge

Muluwa Lodge is in Witrivier geleë en hiér kan julle op die perseel wildkyk, voëlkyk, stap en swem. Die luukse safari-tente smelt soomloos saam met die natuurlike omgewing op die heuwel in en skep ’n rustige, intieme atmosfeer, so dit is perfek vir ’n romantiese wegbreek ─ en sluit ontbyt én aandete in! Elke tent het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, lugversorging, ’n kroegie vol voorraad en koffie- en teemaakgeriewe. Rol die tent se sykante af en raak rustig aan die slaap met die veld rondom jou ná ’n lang dag van wildkyk en verken.

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation, KwaZulu-Natal

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation bied romantiese boomhuis-verblyf op die prentjiemooi Midlands Meander. Daar is vier boomhuise wat elkeen slaapplek vir twee, ’n en suite-badkamer met ’n spa-bad en ’n asemrowende uitsig op die Drakensberge het. ’n Paar van die boomhuise het ook kaggels en privaat balkonne. Die inwonende sjef berei smullekker maaltye voor, en ontbyt en aandete is ingesluit, so kom skop jou skoene uit en laat jou boomhuis-drome uit jou kinderdae waar word.

Bundox Safari Lodge, Limpopo

Bundox Safari Lodge

Dié safari-lodge op ’n klein bewarea naby Hoedspruit in die Laeveld is die ideale basis vanwaar julle die Krugerwildtuin of Blyderivierspoort kan verken. Elke permatent het ’n dubbelbed of twee enkelbeddens, ’n en suite-badkamer en ’n privaat stoep, én dit sluit ontbyt en aandete in. Die sentrale boskamp het ’n gemeenskaplike eetarea, kombuis, bomas, verhewe dekke, ’n sitarea en ’n swembad waar julle van die Laeveld-hitte kan ontsnap. As julle gelukkig is, sal julle ’n paar bokspesies op die staproete gewaar, anders kan julle ook ’n oggendwildrit bespreek en só wild gaan soek.

Blaaw Hoek, Noord-Kaap

Blaaw Hoek

Met só ’n ongerepte landskap en uitstekende geleenthede vir sterrekyk is hierdie bekoorlike selfsorgkothuis absoluut ideaal vir ’n romantiese wegbreek in die Karoo. Die kothuis maak van sonkrag gebruik en het twee slaapkamers met dubbelbeddens, ’n badkamer met ’n pootjiesbad, ’n goed toegeruste kombuis, ’n sitarea met ’n kaggel, ’n buitestort, ’n onderdakstoep met sitplek en ’n plonspoel. Julle kan die plaas te voet of met ’n bergfiets verken voor julle saans terugkeer en ’n vleisie oor die kole in die vuurput gooi.

***

Nou maar toe, waarvoor wag jy? Bespreek nóú jou volgende romantiese wegbreek sodat jy en jou liefie weer gehaltetyd saam kan deurbring.

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Nanje Lourens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.