ʼn Sakpas vakansie in Rome

Die St. Petrus-basiliek in die Vatikaanstad. (Foto: Elainee Krige)

Die petrolprys skiet die hoogte in en jy het dalk nie vanjaar jou bonus gekry nie, maar jy droom nog altyd van ʼn vakansie in Rome. Jy hoef nie noodwendig jou droom prys te gee nie. Hier is ʼn paar skatte wat dié stad bied wat jy kan ervaar sonder om jou beursie te breek.

Volg in Paulus se voetspore

Die Vatikaanstad in Rome is werklik merkwaardig en kan maklik ʼn hele dag vat om te verken. Hier sal jy van die oudste geboue in Rome aantref, gevul met antieke kunswerke deur wêreldberoemde kunstenaars en beeldhouers.

Ten opsigte van argitektuur is hier die bekende St. Petrus-basiliek, een van die eerste kerke wat in Rome gebou is, ongeveer 300 jaar ná die geboorte van Christus. Konstantyn die Grote, die eerste Christelike Romeinse Keiser, het besluit om die kerk te bou ter ere van die apostel Petrus, wat 64 jaar ná Jesus se geboorte in Rome gekruisig is omdat hy die evangelie van Jesus Christus verkondig het. Die basiliek is gebou bo-op Petrus se graf.

Die St. Petrus-basiliek in die Vatikaanstad. (Foto: Elainee Krige)

Die plein voor die kerk is waar die pous die publiek twee keer per jaar toespreek. In die kerk is ʼn bronsbeeld van Petrus en die graftombes van verskeie pouse. Talle gelowiges kom jaarliks hier byeen om dié beeld se voete te soen of voor die vervloë hoofde van die Rooms-Katolieke Kerk te kniel, in die hoop dat hul sondes vergewe sal word.

Michelangelo se Pietà pryk ook hier, ʼn beeld in marmer van Maria met Jesus in haar arms ná sy kruisiging. Die altaar met fyn besonderhede in hout en goud uitgekerf is moontlik die indrukwekkendste stuk in dié kerk.

Die beste van alles is dat jy dié skatte kan besigtig sonder om ʼn sent te betaal. Toegang tot die stad en die basiliek is heeltemal gratis. Indien jy egter die bekende Sistynse kapel met sy plafon, beskilder deur Michelangelo, en die museum van die pous se kasteel wil sien, sal jy €28 (ongeveer R448) moet opdok. Persoonlik dink ek nie die Sistynse kapel is so indrukwekkend nie. Jy word saam met ʼn magdom ander mense in ʼn kamer ingeprop soos skape in ʼn drukgang en het net 15 minute om die kunswerke op die mure en plafon te bewonder terwyl ʼn polisieman elke twee minute op ʼn toeris skree wat ʼn foto probeer neem.

Wenk: Om toegang tot die basiliek en die Sistynse kapel te verkry, moet jy klere dra wat jou skouers en knieë bedek, anders word jy nie toegelaat in dié heiligdom nie.

Bewonder antieke Rome

Murasies in Rome. (Foto: Elaine Krige)

Jy hoef nie duisende rande op te dok om die Colosseum en antieke murasies van Rome te besigtig nie.

Die Colosseum is geleë reg by een van die ondergrondse treinstasies en enige toeris het vrye toegang tot ʼn onverhinderde 360° besigtiging van die buitekant van hierdie indrukwekkende struktuur. Die Colosseum is ongeveer 2 000 jaar gelede gebou as ʼn plek van vermaak vir Romeinse burgers. Hier is eksotiese diere vertoon en gevegte tussen professionele stoeiers aangebied, nie baie anders as die gedramatiseerde stoeigevegte wat jy deesdae op televisie sien nie. Die gebou is egter erg beskadig deur talle aardbewings oor honderde jare. Die krake en verkrummelde mure verleen egter nog meer bekoring aan die gebou.

Toeriste kan reg rondom die gebou loop en tot meer as 10 meter van die gebou beweeg en die besonderse argitektuur bewonder. Jy kry selfs nou en dan ʼn kykie na binne, sonder om ʼn sent te betaal. Beperkte toegang tot die murasies langs die Colosseum is ook gratis.

Gooi jou geld in die water

Die Trevi-fontein in Rome. (Foto: Elaine Krige)

Die Trevi-fontein in Rome is een van die bekendste fonteine ter wêreld. Die fontein staan meer as 26 meter hoog en is amper 50 meter breed en die marmerkunswerke wat deel vorm van die fontein is werklik besonders. Werk aan die fontein is in 1732 begin, maar eers 30 jaar later in 1732 voltooi. Toegang hier is ook gratis en toeriste besoek dit graag om ʼn wens te maak terwyl hulle ʼn muntstuk in die water gooi. Daar beland na raming €3 000 (R48 000) se munte daagliks in dié fontein, wat later aan liefdadigheid geskenk word.

In die somerhitte kan dit aanloklik lyk om in die fontein te swem, maar weerstaan eerder dié versoeking, want dit kan ʼn boete van $350 (ongeveer R5 000) beteken.

Wenk: Die Trevi-fontein is ʼn baie gewilde toeriste-aantrekking en indien jy nie mal is oor skares mense nie, besoek dit voor 08:00 of ná 22:00.

Verlustig jou in die kookkuns van Rome

Pata Negra; die duurste stukkie vleis in Europa. (Foto: Elaine Krige)

Die inwoners van Rome is baie spesifiek oor die gehalte van hul kos, in die besonder hul kaas en wyn. Daarom sal ‘n vakansie in Rome totaal sinneloos wees as jy nié geld spandeer aan ‘n paar Italiaanse spesialiteite nie.

Hulle is natuurlik ook bekend vir hulle pizza en pasta. Wees egter gewaarsku, die pizza in Rome is nie soos wat ons in Suid-Afrika ken met hope vleis, vis en vreemde souse nie.

Dit beteken egter nie dat ʼn pizza in Rome hoef terug te staan vir ʼn pizza by Debonairs nie. As jy wil weet hoe ʼn pizza veronderstel is om te proe, eet ʼn margareta by een van die talle straatkafees in Rome vir tussen €9 en €12 (ongeveer R160). Van die duurder restaurante verskaf gratis gebottelde water en ʼn southappie.

Indien jy meer wil bestee, kan jy ʼn verskeidenheid kase, vleis en pasta proe tydens ʼn kostoer te voet in Rome. Ek sal die Roman Food Tour teen ongeveer R1 500 per persoon regtig aanbeveel indien jy ʼn gevoel wil kry van al die unieke smake wat Italië bied. Dit sluit in Italiaanse mozzerella wat van buffelmelk gemaak word. Dié melk is afkomstig van ʼn mak Italiaanse buffelras en moet op ʼn bepaalde manier bewaar word om te voorkom dat die smaak verlore gaan. Dit beteken die kaas kan nie uitgevoer word nie en Rome is dus die enigste plek waar jy dié eksotiese happie kan proe.

Jy kan ook proe hoe smaak die duurste kouevleis in Europa, sonder om die volle prys hiervoor te betaal. Pata negra is varkvleis wat jou €200 (ongeveer R3 200) vir sowat ʼn kilogram uit die sak gaan jaag. Dié varke word na bewering vir twee jaar baie akkers gevoer om die bepaalde smaak aan die vleis te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.