’n Volmaan-afspraak met ’n renoster

Van die renosters op die plaas waar die avontuurnaweke aangebied word. (Foto: Verskaf.)

ʼn Mens kan jou amper verbeel jy bevind jou midde-in ʼn spanningsroman as jy aanmeld vir een van Insimbi Legacy Projects se Adventure with a Cause (AWAC)-naweke.

Die hoofkarakters: ʼn Handvol witrenosters. Twee aggressiewe bulle, Marula en Babelegi, wat gereeld koppe stamp en daarom eenkant van die res gehou word. ʼn Koei, Shinkwe, wat al twee keer deur stropers geskiet is en sedertdien skugter is vir mense. Francesco, ʼn sagmoedige reus en ʼn bietjie van ʼn introvert. En die res van die trop, met name soos LaVara, Messina, Jack, Raphele en Speranza.

Die toneel: Diep in die bos op ʼn plaas in Limpopo. Dis ruig ná ʼn redelik goeie reënseisoen. Jy is gewaarsku om toe skoene te dra, want hier is slange, skerpioene en spinnekoppe.

Tyd: Laatsomer; ʼn volmaannaweek in Maart.

Byspelers: Carmela, ʼn petite middeljarige vrou met swart vlegsels wie se selfopgelegde lewenstaak dit is om renosters te beskerm; Anton, ʼn oudpolisieman, voorheen deel van die polisie se teenstropingseenheid, wat die bloedige tonele wat hy daagliks moes besoek, nie langer kon hanteer nie; Dwayne, ʼn jong, blonde veldwagter met ʼn likkewaan op sy skouer; Mac, ʼn omgewingsveiligheidspesialis wat jou en die ander besoekers gaan touwys maak in die fynere kunsies van oorlewing in die veld en renosterbewaring. ʼn Klompie Europese dierkundestudente op besoek aan Suid-Afrika. En jy.

Die storielyn: As dit volmaan is, is renosterstropers meer aktief as ander tye. Daarom word gewone mense van die publiek, soos jy, die geleentheid gegee om hul hoëhak- en blinkleerskoene te verruil vir stapstewels, en vir die naweek die plaas te kom besoek. Hoe meer beweging en aktiwiteit daar op die plaas is, hoe versigtiger is stropers om toe te slaan. Bedags leer jy ʼn klompie handige oorlewingsvaardighede in die veld aan, en snags patrolleer jy die plaas saam met die toegewyde mense wat deel is van Insimbi Legacy Projects.

Maar as jy die Vrydagaand in die inleidende sessie sit, gereed vir avontuur, en die eerste bloedige tonele van renosters wie se horings met ʼn panga afgekap is terwyl hulle nog lewe flits op die skerm, besef jy: Hierdie is geen storie nie. Dis die werklikheid.

Die dag toe Insimbi gestroop is

Carmela D’Arrigo,die vrou agter Insimbi Legacy Projects. (Foto: Verskaf.)

Carmela D’Arrigo, die dogter van die eienaar van die plaas waar die Adventure with a Cause-naweke aangebied word, se passie vir renosterbewaring is in 2014 gebore langs die karkas van Insimbi, ʼn majestueuse witrenoster met uitsonderlike gene en ʼn vurige geaardheid. ʼn Ent van Insimbi af het Shambula, ʼn renosterkoei, leweloos gelê. Sy was dragtig. Die toneel was bloedig en wreed. Geen genade is getoon vir die manier waarop die renostergesin afgemaai is en hul horings daarna professioneel en klinies verwyder is nie.

“Terwyl die SAPS se teenstropingseenheid rondom my en Insimbi se karkas doenig was, het ek op die grond neergesak, ʼn hand vol wit sand opgeskep en aan hom ʼn belofte gemaak: Sy dood sou nie verniet wees nie,” onthou Carmela. “Dit was traumaties en verskriklik.”

Een van die polisiebeamptes op die toneel was Anton Jongbloed, sedert die laat 1990’s ʼn lid van die SAPS se K9-eenheid wat die SAPS se renostertaakspan ondersteun het. Hier maak die verhaal weer ʼn draai wat ʼn mens laat voel asof dit uit ʼn storieboek kom: Anton het vir Carmela langs Insimbi se karkas sien sit en sy hart verloor.

“My werk het daaruit bestaan om dag ná dag van die een stropingstoneel na die volgende te ry,” vertel Anton. “Die grusaamheid van Insimbi, Shambula en haar ongebore kalfie se dood het my laat besef dat ek nie langer dié werk kan doen nie, en dat ek op ʼn meer praktiese manier by die bewaring van renosters betrokke wil raak. Daarom het ek in 2019 besluit om uit die SAPS te tree.”

Maar romanties en idillies was dié twee se paadjie sedert 2016 allermins.

Carmela en Anton werk albei voltyds in Springs om die pot aan die kook te hou en hul lewenskostes te dek, sodat alle geld wat deur Insimbi Legacy Projects ingesamel word, aan renosterbewaring spandeer kan word. Carmela is finansiële direkteur van ʼn staalmaatskappy, en Anton is ʼn skietinstrukteur. So gereeld as wat hul tyd hulle toelaat – en minstens een keer per maand as dit volmaan is – pak hulle die lang pad aan na Carmela se pa se plaas in die noorde van Limpopo wat die hart van die Insimbi Legacy Projects en die Adventure with a Cause-naweke is. Die Adventure with a Cause-naweke word aangebied in samewerking met G73, ʼn maatskappy wat spesialiseer in, onder meer, omgewingsveiligheidsopleiding in Afrika.

ʼn Familie met ʼn geskiedenis

Die groep leer vuurmaak met vuursteen, ‘n mes en gras en takkies uit die veld. (Foto: Verskaf.)

Hoe dié plaas in Carmela se familie se besit gekom het, is ʼn mooi storie op sy eie. Carmela se pa, Giacomo D’Arrigo, is ʼn Italianer wat in 1954 as ʼn brandarm immigrant Suid-Afrika toe gekom het. Hy het ʼn winkel geopen, baie hard gewerk, en sy hart verloor op ʼn Afrikaanse meisie, Kathleen Smith van Brakpan. Uit dié huwelik is Carmela en haar vier broers, Franco, Stefano, Giacomo en Giovanni, gebore. Later het Giacomo in die staalbedryf betrokke geraak en kon hy begin spaar om sy groot droom te verwesenlik: om sy eie stukkie grond in Suid-Afrika te besit. Uiteindelik kon hy in 1985 bekostig om vir hom ʼn plaas in Suid-Afrika te koop. Nadat dié plaas tot op die grond afgebrand het, het hy sy hart op die Bosveld verloor, en vir hom ʼn plaas gekoop in wat vandag die noorde van Limpopo is. Mettertyd het hy verskeie plase rondom sy plaas gekoop wanneer dit in die mark gekom het. Dié plaas, waarop ʼn klompie renosters soos goud opgepas word, is vandag 5 000 ha groot. Die grootte van die plaas maak dit soveel makliker om die renosters uit die oog van die publiek en stropers te hou – maar ook soveel moeiliker om effektief te patrolleer.

Die geboorte van ʼn renosterbewaringsprojek

Dwayne, die veldwagter met die likkewaan op sy skouer. (Foto: Verskaf.)

Terug na Insimbi Legacy Projects.

“Ek het besef dat dit futiel is vir privaat renostereienaars om te probeer om op hul eie, in isolasie, hul renosters veilig te hou,” vertel sy. “Dit was tyd dat ons saam planne maak. In November 2014, nadat Insimbi en Shambula gestroop is, het ek en Sylvia Fick,  ʼn klompie privaat renostereienaars genooi om ʼn vergadering op die plaas te kom bywoon. Wonder bo wonder het almal van hulle opgedaag: Byna almal van hulle was groot, trotse Afrikaner-boerseuns. Ek onthou hoe hulle met hul koffie om die lang tafel op die stoep gesit het en skaars ʼn woord met my of mekaar gepraat het. Ek het letterlik gebewe toe ek opstaan en begin praat,” lag sy.

Maar die mense om die tafel het een belangrike ding in gemeen gehad: Hulle het almal renosters besit en was op soek na maniere om hul renosters meer effektief te beskerm.

“By dié vergadering is Limpopo Rhino Conservation gebore,” vertel Carmela. “Die doel van die organisasie was doodeenvoudig om hande te neem en saam te werk vir die bewaring van renosters in privaat besit. Aanvanklik was daar 16 privaat renostereienaars betrokke; ongelukkig het dit gekrimp tot agt oor die laaste paar jaar, as gevolg daarvan dat baie eienaars hul plase of renosters van die hand gesit het. Mense wil nie meer renostereienaars wees nie. En mens verstaan hoekom.”

Insimbi Legacy Projects, ʼn inisiatief van Limpopo Rhino Conservation en met Carmela aan die stuur, pak verskeie geldinsamelingsinisiatiewe vir fondse aan: Gaste kan ʼn volmaan-avontuurnaweek op die plaas kom geniet, in jagseisoen kan jy op die plaas kom jag, of jy kan ʼn renoster “aanneem” en maandeliks borg. Hiermee word kostes vir die versorging en bewaring van die renosters gedek.

Wat kos dit om ʼn renoster te bewaar?

Tydens die droër maande word die renosters gevoer. (Foto: Verskaf.)

Die Covid-19-inperkingstyd het twee van Insimbi se grootste fondsinsamelingsprojekte, volmaannaweke en jag, tot ’n stilstand gebring, en daarmee het die fondse waarmee renosterbewaringsprojekte gefinansier word, bykans heeltemal opgedroog. Maar noudat die inperkingsregulasies tot vlak 1 verlig is, is Carmela en haar span weer gereed om groepe vir ʼn volmaan-avontuurnaweek op die plaas te ontvang.

Renosterbewaring is geen eenvoudige taak nie, besef ʼn mens vinnig. Die belangrikste is teenstropingseenhede of APU’s (anti poaching units) – hoogs opgeleide wagte wat die plase 24 uur per dag patrolleer. “Daar is in enige stadium twee APU’s besig om te patrolleer hier by ons, en nog sowat 100 op ander plase in die Limpopo-distrik wat deel vorm van die Limpopo Rhino Conservation-groep, om in totaal tussen 700 en 800 renosters op dié plase op te pas,” verduidelik Carmela terwyl ons die Saterdagaand rondom middernag met ʼn bakkie deur die ruie Limpopobos ry. Om ons is dit wild en ongerep; reusespinnerakke met golden orb-spinnekoppe blink in die wit lig van die volmaan. Die tweespoorpad waarop ons ry, is toegegroei en bykans onsigbaar.

“Die koste van hierdie APU-eenhede beloop sowat R15 000 per eenheid per maand, wat beteken dis in totaal sowat R1,5 miljoen per maand vir die privaat eienaars in Limpopo, nét vir APU-eenhede.”

Maar as ʼn mens dink aan die grootte van die plase, is dié patrollering maar ʼn druppel in die emmer om te weet wat oral op die plase aangaan.

“Soms weet ons eers ʼn dier is gestroop wanneer die aasvoëls dae later bokant die karkas begin draai,” verduidelik Dave Retief, voormalige afdelingsbevelvoerder van die SAPD se eenheid vir bedreigde spesies wat in die noordelike dele van die Krugerwildtuin werksaam is.

Ander tegnieke wat ingespan word, is tegnologie soos sekuriteitskameras en hommeltuie. Maar die goed weggesteekte kameras word dikwels die speelgoed van ape en bobbejane, en hommeltuie is duur om in die lug te hou. Ten spyte van al dié inisiatiewe gaan daar soms weke verby wat sommige van die renosters nie met ʼn oog gesien word nie.

Dit word gou vir my duidelik dat ʼn mens dié taak nie kan aanpak as jy nie daarvoor gebore is en ʼn onblusbare passie daarvoor het nie.

En tóg.

Sondagoggend vroeg, met die avontuurnaweek bykans agter die rug, hou ons stil waar ʼn paar renosters besig is om te vreet aan voer wat pas afgelaai is. Dis bos is stil om ons. Een van die renosters kom nuuskierig nader en dwaal snuiwend om die boswa. As ek my hand uitsteek, kan ek aan haar raak. Daar is skielik ʼn knop in my keel terwyl ek in haar ou, wyse oë kyk. Ek dink ek verstaan.

Meer oor Adventure with a Cause-naweke

Die groep waarvan ons deel was tydens die avontuurnaweek: My dogter, die groep Europese studente en ander kursusgangers, en die span wat die avontuurnaweke aanbied en aktiwiteite op die plaas bestuur. Die plaas se naam word weerhou sodat die renosters se ligging nie bepaal kan word nie. (Foto: Verskaf.)

Insimbi Legacy Projects bied verskeie avontuurnaweke aan, waarvan die volmaannaweke een is. Daar is ook naweke met aktiwiteite vir adrenalienverslaafdes wat in die bos onder die sterre wil slaap. Renosterfotografienaweke word ook aangebied. Die AWAC-naweke is die ideale geleentheid vir korporatiewe groepe, spanbougeleenthede en vriende wat saam ʼn avontuur wil beleef. Groepe van 8 tot 20 mense kan geakkommodeer word. Die koste is R2 350 per persoon wat deel (akkommodasie, etes en alle aktiwiteite ingesluit). Die volgende AWAC-naweke word op die volgende datums aangebied:

  • 31 Oktober tot 1 November: ʼn Begeleide Fotografie-renostersafari
  • 27 tot 29 November: ʼn Gevorderde Adventure with a Cause-naweek
  • 11 tot 13 Desember: ʼn Standaard Adventure with a Cause-naweek

Bespreek nou jou AWAC-naweek deur ’n e-pos te stuur na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter

Net ‘n vraag, word die lewende renosters nie onthoring uit voorsorg nie? Renosterstropery is walglik en ‘n renoster sonder horing vreemd, maar dalk plaas dit ‘n demper op die walglike besigheid.