Natuuravonture in Nature’s Valley

(Foto: Verskaf)

Alles is tydelik – swaarkry en sukses, seerkry en skoonheid, dié seisoen van inperking, die hele boksemdais. Toe ek onlangs deur my foonlys gaan, was ek ligweg “gerattle” toe ek besef hoeveel bosreuse vanjaar weggeval het. Vlietend is die lewe darem, blare in die wind. En juis omdat die wind so skielik kan draai, mag ons nie stilbly wanneer ons iets werklik wonderliks ontdek nie. Veral in hierdie tyd moet ons nie swyg nie, maar die mooiheid vir mekaar uitwys. Ná meer as driehonderd reisartikels, wy ek vandag vir die eerste keer ʼn volle artikel aan die plek wat my die naaste aan die hart lê, die landskap wat ek die beste ken en vir my een van die wonderskoonste woonplekke op aarde: Nature’s Valley.

Neem vir ʼn slag die kronkelende Grootkloofpas na dié versteekte kusdorpie in die Wes-Kaapse gedeelte van die Tsitsikamma Nasionale Park. Vanaf die bergpas kyk jy af in ʼn kloof met oeroue kalanders. Daaragter is die strand. Kronkel-kronkel ry jy na die straatliglose dorpie waar ongeveer honderd permanente inwoners die habitat met ratels, otters, dwergmuishondjies, muskeljaatkatte, bosbokke, blouape en bobbejane deel. Geveerde vriende is volop, veral seeswaeltjies, meeue, bloureiers, swarttobies, bosuile, suikerbekkies, paradysvlieëvangers, glasogies, houtkappers, tarentale en knysnaloeries. As jy gelukkig is, sal jy die kleurvolle, skugter bosloerie (Narina Trogon) gewaar.

Ek lys ʼn paar van die lekkerste natuuravonture wat jou kan help om onder die vel van dié valleidorpie in te klim:

  • Verken die lang, ongerepte sandstrand te voet. Vir die grootste deel van die strand sien ʼn mens geen huise nie, omdat die dorpie agter die duin gebou is. Die vissers trek kabeljou uit die branders en die kinders geniet dit om seeanemone en seesterre in die getypoele naby Strand 1 te ontdek. Die systrome van die see kan gevaarlik wees – baljaar met ʼn meer geruste hart in die branders wanneer die lewensredders in Desember en Januarie aan diens is.
  • Die strandmeer (“lagoon”) is een van die pragtigste en veiligste swemplekke van die Tuinroete. Hier is braaiplekke as jy om ʼn vuurtjie wil kuier. Jy mag ook in die strandmeer visvang. Omdat dit in ʼn natuurpark is, word geen motorbote toegelaat nie. Huur ʼn kano by Nature’s Valley ruskamp (De Vasselot kampeerterrein) en roei deur die waterdoolhowe, verby die biesie-eilande, onderdeur die oewerbome met hangende mos en die berge in die agtergrond. Wees op die uitkyk vir kiewiete, visvangers, geelbek-eende, kormorante, dikkoppe en die naaldekokers wat bo die water flikkervlieg. Soms kan jy tot anderkant die brug van Grootrivier roei.

Nature’s Valley is die wegspringplek vir die bekende multidag- Tsitsikamma-staproete en die eindpunt vir die Otter-voetslaanpad, maar hier is tientalle korter roetes wat jy binne ʼn paar uur kan voltooi. Oorweeg gerus een van die volgende dagstappe:

  • Soutriviermond. Dié sirkelroete van vier kilometer betrek branders, berg, woud en fynbos. My beskrywing is kloksgewys: Parkeer by Nature’s Valley se winkeltjie. By Strand 1, draai regs en stap tot waar die sand eindig en die rotspoele begin. Die roete neem jou verby blommende kusbossies aan die regterkant en brullende branders aan die linkerkant. As jy die gedeelte bereik waar die rotsstorting is, kan jy verder stap indien dit laagwater is en jy veilig voel. Die strandjie het pragtige spoelklippe – vertoef gerus voordat jy verder oor die bult stap. Die sandstrand en die see sal voor jou verskyn. Die branders is meestal rustig hier en jy kan swem en snorkel. Stap strandlangs tot by die riviermonding en verlustig jou aan die suiwer omgewing. Piekniek onder die melkhoutbome. Hou jou ore oop vir die roep van die visarend en jou oë vir die spore van otters. Volg die paadjie bergop deur die woud tot op die plato met die fynbos. Neem die bordjie wat regs draai na Nature’s Valley. Onthou om ʼn kiekie by die uitsigpunt te neem – dis een van die lieflikste gesigte van die dorp! Jy stap af deur die woud, terug na Strand 1. (Indien jy bang is vir die nat rotse langs die see of vir die beskadigde paadjie, kan jy met die binnelandse roete oor die berg na Soutriviermond en weer terug stap. Om die volle sirkel te stap, is egter onvergeetlik.)
  • Die Punt: Die mees oostelike punt van Nature’s Valley se strand is ook die laaste gedeelte van die bekende Otter-voetslaanpad. Stap vanaf die strandmeer. Wanneer jy die einde van die sandstrand bereik en oor die groot krans voor jou loer, kyk jy af in die sloepie. In die somer kom die sloepiehaaie soms hier byeen om te teel – ons het al tot twintig op ʼn keer getel! Sloepiehaaie is onskadelik vir mense, maar wag maar tot hulle wegswem voordat jy (soos mense graag doen) vanaf die kranse by die sloepie inspring. Spring net in indien dit diep genoeg is dat jou voete nie die bodem kan raak nie en jy moet uitswem, anders kan jy jou enkels beseer. Vanaf die sloepie is dit ʼn kort, steil klim teen die berg op tot by die Punt. Dit wemel van fynbos en vetplantjies op die plato. As jy gelukkig is, sal jy dolfyne deur die branders sien boogspring. Ons het eendag gesien hoe ʼn walvis haar kalfie bo die water oplig! Die wye uitsig oor die oseaan is iets besonders. Die Punt is ʼn pragtige plek om na die sonsondergang te kyk.
  • Varkkop en Apiesrug: Varkkop is die krans met die profiel van ʼn vark se kop bo Nature’s Valley se strandmeer. Naby die monding (waar die rivier in die see uitmond) is die trappies wat na Varkkop lei. Dis ʼn steil klim deur die woud wat jou beloon met ʼn pragtige uitsig oor die strandmeer en dorp. Van hier af kan jy verder deur die woud klim tot bo-op die plato waar dit van die fynbos wemel –  heide, speldekussings, blousuikerbossies en ‘n koningsprotea so groot soos ‘n kind se kop. Op warm dae is die heuninggeur van fynbos die lug vol. Dit is ook hier waar jy dikwels die roep van ‘n visarend hoor. Die selfoontoring is jou omdraaiplek. Apiesrug is die eerste gedeelte van die multidag- Tsitsikamma-staproete.
  • Kalanderkloof: Dié roete van 4,8 kilometer begin in die woud oorkant De Vasselot kampeerterrein. Kalanderkloof is vernoem na die talle Outeniqua geelhoutbome in die kloof waarvan sommige ouer as agthonderd jaar is. Hier is ook ander bejaarde bosbewoners: bosvliere, ysterhoute, perdepramme, boomvarings en strelitzia (wildepiesang). Die woudvloer is meestal douklam en daarom is baie van die boomstamme en klippe met mos oortrek. Veral in die herfs, wanneer dit sampioenseisoen is, wemel Kalanderkloof van die sampioene – party lyk soos bruin of oranje vlinders, ander soos wit rondaweltjies. In die kranse naby die waterval blom die bloedlelies in die somer. Wanneer dit genoeg reën, vloei die waterval en soms verander die hele stappaadjie in ʼn stroom. Kyk uit vir die paddatjies en krappe in die woudpoele.

Vanaf die kloof is dit ʼn steil opdraande tot bo-op die berg. By die plato gekom, is fynbos volop – pienk en rooi heide, bolplantjies, biesies en fluweelagtige proteas. Die uitsig oor die Tsitsikammaberge is asemrowend van hier af. Die roete sig-sag teen ʼn droë helling af. Aan die rand van die woud strooi die keurbome in die lente hulle pienk blomme. Hierna stap jy weer onder die stokou bome en gevlegte bobbejaantoue. Amberlig flikker deur die takke, sonspikkels deur die blare. Dan maak die woud oop en jy stap uit in die strate van Nature’s Valley.

Nog reisraad:

  •  Nature’s Valley is 130 kilometer vanaf George.
  • Nature’s Valley se enigste kontreiwinkeltjie sorg vir roomys en lekker houtvuuroond pizza. Slegs tien minute se ry op met die bergpas is ‘n melkery, Nature’s Way Farm Stall, met heerlike tuisgemaakte deli-produkte. Die gerieflikste plek vir inkopies is Woolworths en Checkers in Plettenbergbaai. Hier is ook ʼn Clicks-apteek en Mediclinic-hospitaal sou jy mediese hulp benodig; ongeveer ‘n halfuur se ry vanaf Nature’s Valley.
  • Airbnb lys talle verblyfopsies in Nature’s Valley, van groot selfsorghuise tot B&O-kamers. De Vasselot is ʼn mooi kampeerterrein met tentstaanplekke en houthutte op die oewer van die strandmeer. Bespreek by SANParke.
  • Fietsryers geniet dit om die Grootrivierpas (R102) te ry en ook die bergpas vanaf Nature’s Valley na die Bloukranspas.
  • Beste besoektyd? In Nature’s Valley kan jy regdeur die jaar sonskyn én reën verwag. September tot April is die dae heelwat langer, maar in die winter is jy soms die enigste siel op die strand. Wanneer dit te koud is om in die see te swem, kan jy tyd in die songebakte fynbos deurbring en wanneer die strand te warm is, kan jy in die skaduryke woud afkoel.
  • Al die dagstappe in Nature’s Valley is gratis. Die weer kan vinnig wissel, so as jy beplan om die hele dag in die veld te wees, wees voorbereid. Neem swemgoed, ‘n hoed, ʼn ligte reënjas, kopflits en fluitjie ter wille van oorlewing. Kies laag-op-laag-klere wat vinnig droog word. Verpak jou selfoon, kamera en pleisters in waterdigte sakkies. Neem genoeg water en kos vir die dag saam.
  • Besoek Nature’s Valley Trust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.