Natuurliefhebbers: Oorweeg dié avonture in Desember

(Foto: Wikimedia)

Dis son, sand en see is nie almal se gunsteling vakansiebestemming nie. Hier is ‘n paar idees vir natuurliefhebbers wat dié vakansie in die natuur asem wil skep.

Nasionale Krugerwildtuin

Die Nasionale Krugerwildtuin stel jaarliks gedurende die feestyd ʼn limiet op die aantal dagbesoekers wat toegelaat word. Van 13 Desember tot 14 Januarie word dié beperkings weer ingestel.

“Tydens besige periodes, soos die skoolvakansie en die feesseisoen, wil ons die hoeveelheid toeriste, sowel as die verwagtinge van ons besoekers beter bestuur,” sê Ike Phaahla, dié park se algemene bestuurder vir kommunikasie en bemarking.

Wildtuingangers word dus versoek om vooraf besprekings te maak vir ʼn besoek aan die wildtuin en daar is drie tydgleuwe waaruit gekies kan word. Die tydgleuwe is van 05:30 tot 07:30, die tweede gleuf is van 07:30 tot 09:30 en die laaste gleuf is vanaf 09:30.

“Die verskillende tydgleuwe is daarop gemik om die verspreiding van voertuie te verbeter en, sover moontlik, onnodige wagperiodes by hekke te voorkom, ” voeg hy by.

Dagbesoekers wat vooraf bespreek sal voorkeur by die hek kry, maar moet verseker dat hulle binne hul bespreekte tydgleuf arriveer. Indien besoekers buite die bespreekte tydgleuf arriveer, sal dit as ʼn nie-bespreekte besoek beskou word.

Phaahla maan toeriste om die park se reëls en regulasies te gehoorsaam.

“Dagbesoekers mag nie drank saambring nie as gevolg van die alkoholverbod in openbare dele van die park. Besoekers moet ook asseblief daarvan weerhou om ander oortredings te begaan, soos rommelstrooiing, voer van diere, spoed en hulle mag nie uit voertuie klim in areas waar dit in die park verbode is nie.”

Die hoofhekke open soggens vir dagbesoekers om 05:30 en sluit saans om 18:30.

Dagbesoekers is onderhewig aan ‘n nie-terugbetaalbare besprekingsfooi van R46 per volwassene en R23 per kind. Diegene wat vooraf bespreek het, sal steeds ‘n bewaringsfooi moet betaal of ‘n geldige Wild-kaart moet gebruik om die park binne te gaan. Die bewaringsfooi vir Suid-Afrikaners, asook vir landsburgers van Zimbabwe en Mosambiek (paspoort moet vertoon word) is R100 per volwassene en R50 per kind tussen die ouderdom van twee en 11 jaar.

Besoekers kan by SANParke se besprekingskantore by 012 428 9111 of aanlyn by www.sanparks.org bespreek.

Uitsig oor die Pretoria Nasionale Dieretuin (Foto: NJR ZA/WikiCommons)

Nasionale Dieretuin van Suid-Afrika

Vanaf Saterdag 7 Desember 2019 bied die nasionale dieretuin in Pretoria ‘n aantal verrykingsaktiwiteite en samesprekings aan, soos by die olifant-hok, die aasvoël-habitat, die Afrika-pikkewyn-hok en by die Komodo-draakhuis.

Omgewingsaktiwiteite verhoog die fisieke en geestelike fakulteite van ‘n dier om stereotipiese gedrag te voorkom. Dit is ook baie lekker vir die diere!

“Ons nooi diereliefhebbers uit om die vakansie ‘n paar diereverrykingsoefeninge saam met ons te kom deel,” sê Angeliné Schwan, woordvoerder van die dieretuin.

Die dieretuin is sewe dae per week oop. Kaartjies word daagliks tussen 8:30 en 16:30 verkoop en die hekke sluit om 17:30.

Toegangsgeld is R110 vir volwassenes en R75 vir kinders. Dit sluit toegang tot die dieretuin, akwarium en reptielskuur, in. Gholfkarretjies kan vir R100 per uur gehuur word

Vir meer inligting besoek die webwerf.

(Foto: Nature at Heart/Facebook)

Nature at Heart se somervakansieprogram

Nature at Heart is ʼn inisiatief wat in die noordelike voorstede van Kaapstad gevestig is en word by verskeie natuurreservate in die omgewing aangebied. Dis ontwerp om kinders tussen ses en 12 jaar gedurende skoolvakansies veilig en aktief besig te hou, terwyl werkende ouers nie by die huis is nie.

Programme is opvoedkundig van aard met verskillende buitelug-aktiwiteite en natuurspeletjies. Daaglikse program behels ook binnemuurse aktiwiteite.

Alle programme word van 09:00 tot 15:00 aangebied en bevat gesonde versnaperinge soos vrugte en muffins, ‘n klein middagete, byvoorbeeld vetkoek en maalvleis en ander verversings soos koeldrank en water.

ʼn Maksimum van 30 leerders word op die program bespreek met ‘n minimum van twee fasiliteerders (een per 15 kinders) per dag.

Besoek die webwerf vir meer inligting en die programskedule.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.