Negester Klein-Kariba bied jou die Bosveld op sy beste

Negester Klein-Kariba

Negester Klein-Kariba, met sy pragtige Bosveld-fauna en -flora, lê in die Waterberg-biosfeer wat ook ʼn Unesco-erfenisgebied is. Dié beveiligde en volhoubare leefstyl-landgoed vir vyftigplussers, grens aan die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord en is naby Bela-Bela (Warmbad) geleë, net ʼn uur se ry van Pretoria af. Die Bela-Bela- en Waterberg-omgewing beskik oor ʼn heerlike somerreënvalklimaat, goeie winkels, ʼn private hospitaal, topklas gholfbane en ʼn verskeidenheid natuurreservate!

ʼn Simfonie vir die sintuie

By Negester Klein-Kariba is die ontwerpstyl van die geboue ʼn kontemporêre interpretasie van historiese Laeveldse plaasargitektuur en dit pas mooi in by die omgewing en landboukonteks. Die geboue is ontwerp om ʼn lae visuele en fisiese impak op die Bosveld-bioom te hê. Die leefstyl-landgoed beslaan ongeveer 83 ha, met volop oop ruimtes met staproetes en ʼn ryk dierelewe soos njalas, rooibokke, talle voëlspesies en vele meer.

Bykans 200 van die voltitel- en deeltitel-eiendomme is reeds verkoop en 248 erwe is ten volle gediens en ʼn verdere 23 word tans gediens. Pryse van die voltitel-erwe begin by R426 600 en huisgroottes wissel van ±104 m² tot 247 m². Ingesluit by die prys van die erf, is goedgekeurde huisplanne, argiteksfooie en oordragkoste (munisipale indieningsfooie van ±R2 000 uitgesluit). Deeltitel-duette word ook aan die oordeelkundige koper en belegger aangebied. Pryse van duet-eenhede met standaardafwerkings begin by R895 000. ʼn Wooneenheid is 77 m2 groot (hierby ingesluit is ʼn stoepie van 9 m2 en ʼn motorafdak van 18 m2). Behalwe vir oordragkoste, is geen BTW of munisipale indieningsfooi betaalbaar nie. Hierdie eenhede is gerieflik in die leefstyl-landgoed geleë, naby die mediesesorgsentrum, hoofingang en beoogde klubhuis wat ʼn veeldoelige saal, biblioteek, haarsalon en sitkamer met dameskroeg gaan insluit. ʼn Aktiewe leefstyl word aangemoedig met die beskikbaarheid van net die beste sportfasiliteite. Die sportfasiliteite sluit onder andere tennisbane, ’n swembad en ʼn minigholfbaan in.

ATKV as gemoedsrus-ontwikkelingsvennoot

Die ATKV-direksie het ongeveer sewe jaar gelede ʼn diversifikasiestrategie aanvaar om onder meer betrokke te raak by die ontwikkeling van leefstylbehuising vir die vyftigplusser-groep. Volgens Schalk Cilliers, ATKV-Sake se besturende direkteur, was dit ATKV se strategie om ʼn voetspoor van beveiligde leefstylbehuising in Suid-Afrika te vestig. Negester Klein-Kariba en Negester Onrusrivier was die begin van die uitvoering van hierdie strategie.

ʼn Toevlugsoord vir sagtesorg

Negester Klein-Kariba spog met ʼn moderne mediesesorgsentrum wat uit vier verswaktesorgeenhede (wat 12 beddens kan akkommodeer) bestaan. Tuisversorging word as ʼn standaardopsie, deur Medwell, die mediesesorgdiensverskaffer, aangebied. Medwell spesialiseer in raakvat en gewaardeerde gemeenskaps-, mediese ondersteunings- en verplegingsdienste. Hulle het ook ʼn praktyknommer om in sekere gevalle kostes van mediese fondse namens inwoners te verhaal. “Dit is ook ons oogmerk om tuisversorging by elke Negester as ʼn standaarddiens aan te bied, asook om moderne en goedtoegeruste sorgsentrums te bou wat aan inwoners se mediese behoeftes kan voldoen en sodoende verdere gemoedsrus te verseker,” sê Cilliers.

Skyn helder!

Die bekende skrywer en digter, DJ Opperman se gedig, Negester en stedelig, het gedien as inspirasie vir die ontwikkeling van die Negester-handelsmerk en slagspreuk, Skyn helder! Die Negester-visie het ook hierop voortgebou, naamlik die ontwikkeling en bestuur van volhoubare, beveiligde en gewaardeerde leefstyl-landgoedere, waar die totale menswees van die vyftigplusser-groep gekoester kan word.

Vir eiendomsnavrae, besoek Negester Klein-Kariba se webtuiste, stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel hulle by 014 736 2388.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.