Foto’s: Om in Parys te verjaar

Die Notre Dame. Foto: Dalene de Vente.

Gesoute reisigers praat al byna nonchalant oor Parys. “Dit is maar net ʼn gewone stad – en dit stínk!”

Só hoor ek toe ek en my nefie Jan ons dag Parys toe beplan. Ons albei is Suid-Afrikaners in Europa: ons het harte wat lief is vir eenvoud, maar ook harte met ’n oorvloed van avontuurlus.

Dit is ʼn koue Sondag in Nederland. Ek en Jan sit voor ʼn kaggel by ʼn huis van ʼn gasvrye gesin in Wezep wat opgewonde saam met ons planne maak. Ons gaan op my verjaarsdag.

“Julle moet foto’s neem met die Eiffel, nè?” of “Onthou, die koffie is baie duur in Frankryk!”

Ons neem al ons kos saam: bruintjies, vrugte, broodjies en sap. Jan bespreek die Flixbus vanaf Arnhem tot in Parys. ʼn Ongemaklike rit; maar daar is darem ʼn tafel in die middel van twee stelle sitplekke wat weerskante van mekaar is. As jy ʼn groot groep vriende is, kan jy selfs bordspeletjies speel. Ons gebruik die tafel maar eerder om op ons arms te lê en slaap.

Een ding is seker: geen gesoute reisiger, of Europese inwoner of toergids kan jou ooit vertel hoe dit voel wanneer jy vir die eerste keer die Notre Dame sien nie. Herfsblare, mooi tuine en ʼn koel briesie groet ons vroegoggend. Ons kan hierdie mooi katedraal rustig deurkyk voordat strome ander toeriste op dié plek toesak.

By die stasie koop ons ʼn kaartjie vir 12 euro waarmee ons vir die res van die dag in Parys kan rondry. Die ondergrondse lewe in Parys is betowerend: ʼn orkes maak musiek wat in die gange weergalm. Vrouens met die mooiste klere loop verby ons. Honderde mense bondel saam voor die ingang van die trem. Die oomblik as die trem stop, moet jy net vorentoe ploeg en jouself inwurm, anders kan jy maar vergeet van ʼn plekkie.

Ek klou aan my rugsak vas soos nog nooit tevore nie, want om ʼn sakkeroller in Parys te wees – dis ʼn voltydse beroep! ʼn Kelner een van die restaurante vertel dat sy beursie in die afgelope maand al drie keer gesteel is.

“Dit is nie lekker om hier te woon nie. Net toeriste geniet dit,” sê hy.

Die Arc de Triomphe is beslis aan te beveel. Jy sien die Eiffel, die Sacré-Cœur, ’n konsentrasie mense en baie verkeer. By die Sacré-Cœur koop ons mini-Eiffel-torings as geskenke vir die familie en sit rustig by ’n bankie terwyl ons na Parys kyk. Daarna staan ons onder die régte Eiffel-toring.

Vir oulaas sit ons op ʼn brug by die Seine-rivier en klink ʼn plastiekglasie op my verjaarsdag in Parys. Die wind waai ongelooflik en dit is baie koud. Die brug is vol slotte van paartjies wat belowe dat hulle aan mekaar sal trou bly. Ek maak ook ’n belofte (sonder ’n slot) dat ek eendag weer Parys toe sal kom.

Parys kan sommige mense teleurstel en ander mense betower. Jan wys na iets aan die ander kant van die straat. “Kyk daar!”

Dit is ʼn karretjie wat deur wit honde getrek word.

Verwonderd dink ek, hoe is dit moontlik dat een stad jou so kan betower?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Patch ·

Ek stem, die Notre Dame was vir my ook ‘n oorweldigende belewenis. Ek was sommer bewoë toe ek deur die deure na binne stap, dit is ‘n onbeskryflike gevoel. My hele Parys belewenis in drie dae was fantasties. Sacré-Cœur, wow! In een van daardie straatjies het ek my wens bewaarheid om by ‘n French Café met geruite rooi en wit tafeldoeke te eet. Die laagte punt vir my was om Moulin Rouge te sien. Ek weet nie presies wat ek myself voorgestel het nie maar was teleurgesteld. Hopelik sien Parys my weer eendag, vir langer as 3 dae.

Anel ·

As kind het ons 8 jaar in Parys gewoon. (Pa was aan ambassade verbonde). Om te taal te leer, daar skool te gaan en die kultuur te belewe, wat .n belewenis. Om al die bakens elke dag oppad skool toe te sien was voorwaar ‘n voorreg. Om dit oor en oor te besoek met vriede en familie en nie moeg te word daarvoor nie, want elke keer sien jy iets nuuts. Parys het ‘n baie spesiale plek in my hart. So terloops, ek het 7 keer daar verjaar. En soos Tino Rossi sing, ek het 2 liefdes, my land en Parys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.