Om te kajak tussen krokodille, seekoeie en haaie

Sal jy op ’n kajaktoer gaan in ’n meer vol krokodille, haaie en seekoeie? (Foto: Verskaf)

St. Lucia is ’n kusdorp weggesteek aan die noordelike kus van Suid-Afrika.

Seekoeie is die daaglikse voetgangers en van die plaaslike mense vertel dat daar soms ’n luiperd sy gesig op hul voorstoepe kom wys. Die blouapies steel graag sigarette – ons het eerstehandse ervaring – een van my vriende het hulle agternagesit een Sondagoggend terwyl ons kerk gehou het.

Vanmiddag sit ek op die balkon van ons huisie vir die week. Ek kyk senuweeagtig vir die meer. Vir weke lank al sit ek en worstel oor hierdie meer.

“Sal jy op ’n kajaktoer gaan in ’n meer vol krokodille, haaie en seekoeie?” Dit is die vraag wat ek aan amper al my vriende stel.

“Nee,” is die kort en kragtige antwoord van enigiemand wat ek vra. Een van hulle is selfs ’n heeltydse wildsplaasbestuurder.

Seekoeie is die gevaarlikste diere in Afrika en die internet is oorlaai met stories oor krokodille wat mense laat verdwyn. En haaie… Blykbaar is daar volgens een studie ʼn groter kans dat jy kan doodgaan van kokosneute wat op jou kop val as om deur ʼn haar doodgemaak te word (ʼn klein troos).

Die nadraai van al my navorsing is die bewys van betaling-strokie wat voor my op die tafel lê. Die toer is bespreek.

“Hoeveel ongelukke was daar al ooit op hierdie toere?” vra ons vir die gids.

“Net een.” Justin, die man wat ons toer lei, is nogal nonchalant daaroor. “Dit was die ou se eie fout, hy het nie geluister nie en toe verloor hy ʼn arm.”

Sjoe. Stilte.

Ek deel ʼn kajak met Justin en probeer die angstigheid weggesels. Ek hoor al die verskillende voëltjies, sien vissies en hoor die golwe klots teen die kajak. Ek vergeet die wêreld daar buite en ek weet: hierdie oomblik sal ek nooit vergeet nie.

Gelukkig kon ek hierdie avontuur nog beleef, voordat die onderneming wat die kajaktoere doen, in 2018 hul deure gesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.