Omring deur olifante: ’n eenmaal-in-’n-leeftyd ervaring

Tanya de Vente-Bijker (Foto: Verskaf)

Deur Tanya de Vente-Bijker

Die son is besig om te sak, en ons word deur olifante omring. Regs agter my breek ʼn jong olifantkoei ʼn tak van ʼn maroelaboom af. Voor ons op die horison vorm ʼn stofwolk waar ʼn paar jong olifante stoei. Ons staan bo-op ʼn klipkoppie in die veld in die groter Krugerwildtuin, ons voertuig seker so 50 meter van ons af. Dít is Afrika op sy beste.

Jy kan kies. Jy kan self die gewone “Kruger-safari” doen en met jou eie voertuig deur die Krugerwildtuin gaan toer, of jy kan ʼn Kruger-ervaring saam met Nambu Camp beleef. As ek ʼn oorsese toeris was, sou ek beslis laasgenoemde gekies het, maar selfs as Suid-Afrikaanse reisiger was dit vir my ʼn unieke belewenis.
Ons het die voorreg gehad om saam met Nambu Camp op ʼn laatmiddag wildrit te gaan. Rewald Drinkwater, eienaar van Nambu, is ons gids. Met ons aankoms vat hy ons eers op ʼn vinnige toer deur die kamp wat oor een van die vertakkings van die Olifantsrivier uitkyk. Hy wys vir ons hoe hulle die beste situasie van die huidige olifant-oorbevolking probeer maak deur die olifantmis as bedekking vir hulle kamp se wandelpaadjies te gebruik. Die kersie op die koek is egter ʼn toilet met ʼn reuseglasvenster wat oor die Afrika-bosveld uitkyk. “Soms verloor ons ons gaste hier,” sê Rewald. Hy lag. Ek verbeel myself hoe ek ook sal maak asof ek ʼn draai moet loop, net om hier te kom sit en vir die wêreld wegkruip.

Rewald se kennis van die veld is verstommend. Maar hoe dan anders as jy hier grootgeword het? Hy vertel ons so tussen die ryery deur hoe hy en sy broer eendag hier in die bos gedraf het, sy pa agterna in die bakkie. Skielik sien sy pa leeus en probeer toet om hulle aandag te trek, maar die bakkie se toeter het nie meer baie goed gewerk nie. Daar draf hulle toe, salig onbewus van leeus wat links van hulle saamdraf.

Hy wys vir ons bakens uit, vertel stories oor die diere en die geskiedenis van die omgewing. Die gesprek draai ook weer na die oorbevolking van olifante. Almal het ʼn opinie, maar niemand het ʼn volhoubare oplossing nie. Tussen die stories wys hy diere uit. Ons stop in ʼn stadium by ʼn klein troppie olifante wat ʼn maroelaboom stroop. Dit is merkwaardige diere en om só naby aan hulle te sit en kyk hoe hulle so moeiteloos vreet, maak ʼn mens stil.

Rewald stop by ʼn klipkoppie vir sonsak-sopies. Regs van ons in die veld wei ʼn trop olifante. Hulle is rustig en ver. Ons klim uit, kinders en al. Halfpad teen die koppie op vertel hy my hoe hy drie dae terug ʼn luiperd op die einste koppie gesien het. Ek huiwer net so effens voor ek verder stap, maar besluit toe maar as Rewald sê ons stap, dan stap ons. Bo-op het ons ʼn 360-grade uitsig oor die veld.

Iemand het eendag vir my gesê ʼn wildrit is soos om die Lotto te speel; jy weet nooit of jy vandag die jackpot gaan wen nie. Vanmiddag slaan ons egter beslis die gelukskoot. Stadig maar seker het die trop olifante nadergekom en ons heeltemal omring. Wat ʼn ervaring. Jy voel asof jy een is met die bos en die natuur so tussen die olifante. So nou en dan kan jy sien hoe hulle ʼn slurp draai om ons te ruik. Die wat reg langs ons kom vreet, lyk asof hulle ons direk met ʼn groot oog dophou. Olifante is mos immers baie intelligent. Ons besef ook die trop is baie groter as wat ons oorspronklik geskat het. In een stadium tel ons ongeveer 50 olifante om ons. Die beste van alles was seker toe een van die olifantbulle besluit om ʼn koei te dek. Probeer jy bietjie vir jou kinders in ʼn fluisterstem verduidelik wat die olifante nóú doen! (Ons het die gesprek later in die kamp voortgesit; niks soos die natuur om sulke gesprekke met kinders baie makliker te maak nie.)

Ja, van die kinders was benoud, maar al vier die kinders (tussen vyf en agt) het so goed gedoen. Carien (sewe) het egter gedink dis een groot avontuur. Ek weet nie wat erger was nie: die kinders wat elke nou en dan benoud gesê het hulle wil huis toe gaan, of Carien wat reken dit is doodnormaal om in die veld tussen olifante te sit. Ek onthou hoe ek daar gestaan en wonder het of ons kinders enigsins besef watter enorme voorreg hulle nou ervaar. Daar staan ons op die koppie in die veld … tien mense reg in die middel van ʼn trop van ten minste 50 olifante.

(Foto: Verskaf)

Dis winter en die son sak vroeg. Toe dit begin donker word, moes ons na die voertuig toe begin terugstap. Rewald wag net vir die regte oomblik wat daar geen olifante in die onmiddellike omgewing is nie voor hy ons versigtig en baie stil (dié keer met ʼn effense ompad) teruglei. Veilig in die voertuig haal ons weer dieper asem, baie bewus van die voorreg wat ons sopas beleef het.

Daar is soveel plastiek Afrika-ervarings in die mark. Op die terugpad is ons stil, betower deur ons onverbeterlike, eerstehandse en glad-nie-plastiek-ervaring van Afrika. Rewald sê hy het al geleer wanneer ʼn mens in die veld stop om uit te klim en iets te bekyk, al is dit net ʼn interessante boom of soos die klipkoppie vandag, jy baie meer waarde uit ʼn wildrit kry as wanneer jy vir twee ure rondry op soek na die Groot Vyf. Daar is ʼn bekende aanhaling oor Afrika wat lui: “You know you are truly alive when you’re living among lions.” Ek het egter al geleer dis nie net die leeus nie, dit is ook iets soos dié ervaring met die olifante wat jou laat besef: dít is Afrika op sy beste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rian ·

Goeie herinneringe aan die Kruger wildtuin. Ek neem aan dit was buite die grendeltyd besoek deur die skrywer.

Belinda ·

Hopelik kan ek die wildtuin eendag beleef. Ek is mal oor natuur. Dis een van my groot drome, om n week weg te breek, weg van alles en almal en net die natuur geniet saam my moeder en twee seuns (geen fone ens sal toegelaat word nie)… hopelik eendag kan ek n kompetisie wen of iets om dit met my ma en seuns te kan deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.