Ontdek die reis in en om jou huis

(Foto: Verskaf.)

Dit drup-drup nog so effens, toe gaan ek al buitentoe. Ek kan nie meer wag vir die son nie. Dit is jammer dat dit reën – veral nóú in die afsonderingstydperk. Ek wil so graag buite braai en kuier saam met my huismense. Die spekboom hang asof dit moedeloos is. Maar die tuin is vol poeletjies water waar die bye nou-nou gaan drink as die son weer skyn, ek weet… Daar is altyd ʼn venster wat oopgaan as ʼn deur toe is.

My vakansie vir Mosambiek was klaar bespreek – ek was nog nooit daar nie. Met die aankondiging van die algehele nasionale afsondering is die vooruitsig van see en avontuur skielik verruil vir ʼn ander tipe reis: ʼn Reis in en om my huis…

In die verste hoek van die huis skrop ek my nes: Grimering en onderlaag word verruil vir notaboeke en penne. My skootrekenaar neem die plek van my haardroër in.

Dit is asof ek al die skatte in ons huis van voor af ontdek. Ek teken met pastelkryte wat 70 jaar gelede aan my oupa behoort het (ja, dit teken nog!) My een vriendin maak klere met ʼn Singer-naaldwerkmasjien wat nog aan haar oumagrootjie behoort het. Die ander vriende speel aanlyn bordspeletjies met mekaar.

Jy ontgin weer die harte jou huismense – en bel selfs die mense wat jy so lanklaas gesien het. Kaste word uitgepak, foto’s uitgehaal – en jy kry tyd om weer oor gister te dink. Miskien kry jy tyd om die gedagtes te ontleed wat al so lankal by jou spook. Jy word kans gegun om te rou oor verlore gisters en tye wat agtergeraak het in die rotresies. Jy kan saam met jou gesin lag en gesels.

Ek is selfs so klein bietjie skaam oor die feit dat die enigste ding wat ek verloor het, ʼn vakansie is. Ek is nie blind vir die wete dat daar mense is wat nie kos het nie. My hart bloei vir die mense wat miskien nie meer gaan werk hê nie. Maar ek is dankbaar vir die ruskans wat na my kant toe kom.

Net vir ʼn rukkie word ons gegun om langs die hoofweg stil te staan. Om sommer net die alledaagsheid te koester: Jy kan teken, verf, skryf en bak en brou. Jy kan luister na die voëltjies en die stilte geniet in ʼn stad waar daar normaalweg ʼn geroesemoes is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

As ek so kyk na die foto verskaf lyk dit asof n mens dit kan geniet met die oop vlaktes en natuurskoon, ongelukkig bly ek in n toegeboude stad en is my erf baie kleiner.

Strandloper

Age nee man my tone het net begin opkrul vani lekker lees toe stop jy. Ek geniet ook elke oomblik van alles daar is net so nou en dan n ligte panic attack as ek nuus lees dan weer absolute saaligheid.