Oornagdorpies tussen die Kaap en Johannesburg

Die Skooltjie (Foto: LekkeSlaap)

Jy het reeds jou vakansieverblyf bespreek en nou moet jy die langpad aandurf, maar waar hou jy stil en waar nie? Waar kan jy ietsie lekker kry om te eet en waar moet jy oorweeg om ’n bietjie langer te vertoef? Om die langpad ’n bietjie geriefliker te maak, het LekkeSlaap ’n lysie van die lekkerste oornagdorpies tussen die Kaap en Johannesburg bymekaar gemaak.

Laingsburg

Afstand vanaf Kaapstad: 264 km
Afstand vanaf Johannesburg: 1,135 km


Brinksfontein Guest House (Foto: LekkeSlaap)

Dié bekoorlike dorpie staan as die Hart van die Karoo bekend en is ’n uiters vriendelike en moderne Karoo-oase. Slaap hiér oor om die dorp se Vloedmuseum te besoek of om vroegoggend die Klipkraal- of die Verlorenhoek-voetslaanroete te verken voor julle in die pad val. Die dorp het ook ’n rits restaurante wat ’n Wimpy insluit ─ ’n noodsaaklike stop vir alle Suid-Afrikaners!

Slaap hier in Laingsburg oor.

Beaufort-Wes

Afstand vanaf Kaapstad: 462 km
Afstand vanaf Johannesburg: 936 km


Die Skooltjie (Foto: LekkeSlaap)

Wanneer jy op dié dorpie aankom, wéét jy jou vakansie het sopas begin! Beaufort-Wes is een van die gewildste oornagdorpies in die land en is die ideale plek om af te saal as jy eers ná werk vanuit Kaapstad kon ry of vroegoggend al uit Johannesburg vertrek het. Hiér ontmoet pragtige blou lug ’n eindelose landskap en vorm dit ’n plek waar jy weer kan rustig raak. As julle met ’n 4×4-voertuig reis, kan julle dit oorweeg om ’n dag langer in dié Karoo-dorpie te bly en die pragtige Karoo Nuweveld-roete aan te durf, of ’n draai deur die middedorp met sy rits Nasionale Monumente stap. Beaufort-Wes het onder andere ’n Spur (wat sal die langpad dan nou sonder ’n ordentlike burger wees?) en ’n heerlike soesji-restaurant.

Slaap hier in Beaufort-Wes oor.

Richmond

Afstand vanaf Kaapstad: 645 km
Afstand vanaf Johannesburg: 762 km


Stillewaters (Foto: LekkeSlaap)

Om na Johannesburg of die Kaap te reis, bied reisigers die ideale geleentheid om die Karoo te verken, en Richmond, wat in die hartjie van die Karoo skuil, is die perfekte afsaal-plekkie as jy op soek is na opregte, plattelandse gasvryheid. Buiten die Edwardiaanse en Victoriaanse huise met romantiese stoepe, sal die dorp se besienswaardighede ook enige reisiger oortuig om ’n rukkie langer te bly. Dit sluit restaurante, museums, bergfietsroetes, die jaarlikse literatuurfees en geskiedkundige besienswaardighede in, en Suid-Afrikaners is veral mal oor die Vetmuis Plaaskombuis waar jy heerlike tuisgemaakte peuselhappies kan bestel.

Slaap hier in Richmond oor.

Colesberg

Afstand vanaf Kaapstad: 781 km
Afstand vanaf Johannesburg: 628 km


Toverberg Guest Houses (Foto: LekkeSlaap)

Besoekers aan dié tipiese Karoo-dorp kan nie genoeg kry van die smullekker disse wat by die Plattelander-restaurant bedien word nie en kan vir ure oor al die kerke en Karoo-argitektuur gesels wat die paaie van dié pragtige stopplek versier. Die Vanderkloofdam is nie te ver vanaf Colesberg nie en die Gariepdam is ook lekker naby vir diegene wat ’n dag of twee wil bly en watersport in dié damme wil geniet. Colesberg het verskeie nasionale monumente, waarvan die Colesberg-Kemper Museum een is.

Slaap hier in Colesberg oor.

Bloemfontein

Afstand vanaf Kaapstad: 1,004 km
Afstand vanaf Johannesburg: 398 km


Franklin View (Foto: LekkeSlaap)

Die Stad van Rose … en soveel meer! Dié stad is rustiger en stadiger as die ander stede in Suid-Afrika en bied die ideale geleentheid om inkopies vir jou selfsorg-verblyf te doen, of om die kinders na die bioskoop of speelpark te neem sodat hulle van hulle opgekropte energie ontslae kan raak. Besoek die dieretuin of een van die talle uitstekende restaurante, of verken die geskiedkundige geboue in die middestad. Dié stad is so lowerryk dat daar sommer ’n reservaat in die middel van die stad is ─ Die Franklin Wildreservaat is definitief ’n besoek werd. Hamilton Park lê aan die voet van Naval Hill en is die tuiste van een van die grootste versameling orgideë op die planeet. Maak dié stad deel van jou reis, jy sal nie spyt wees nie!

Slaap hier in Bloemfontein oor.

Nou toe, die langpad wag en so ook Suid-Afrika se versteekte juwele in haar klein dorpies. Bespreek nou om jou vakansie-reis soveel lekkerder te maak!

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Lisa Croeser

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.