Op reis deur Europa: Dunkirk

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

“We shall never surrender…”

So 100 km wes van Lille aan die Engelse kanaal op die grens met België is die hawedorpie Dunkirk. Dunkirk beteken in Vlaams “kerk in die duine”.

Die Engelse dorpie Dover is 39 km soos die kraai vlieg van Dunkirk af aan die oorkant van die Engelse kanaal.

In Mei 1940 speel hier een van die belangrikste veldslae van die Tweede Wêreldoorlog af. Die rustige hawedorpie word oorspoel deur 400 000 Engelse en Franse soldate wat voor Hitler se pantserbrigades vlug vir hulle lewens. In ‘n ommesientjie is Dunkirk die toneel van ‘n bloedige geveg … dooie soldate, heldemoed en kameraadskap.

Nazi Duitsland val Pole op 1 September 1939 binne en Frankryk en Engeland verklaar op 3 September oorlog teen Duitsland. Binne weke oorrompel die Duitsers die Pole. Die winter rem die Duitse opmars na Nederland en België en gee Hitler kans om sy troepe te herposisioneer terwyl die alliansievennote, Frankryk en Engeland, nie mooi weet wat aangaan nie.

Foto: Thomas Dreyer

Met die aanbreek van die lente in 1940 val Duitsland op 10 Mei 1940 Nederland en België binne. Die Engelse en Franse mag van 400 000 soldate, wat net so groot as die Duitse magte was en net so goed toegerus, trap egter klei en sukkel om te besluit wie die eintlike aanvoerder is. Binne weke is hulle omsingel deur die Duitsers en moet hulle vlug – weswaarts Dunkirk toe.

Die Engelse aanvoerder, genl. Gort, vra die Engelse opperbevel om hulp. Al raad is om soveel moontlik van die soldate oor die kanaal te kry. Die Engelse vloot kan sowat 45 000 red. Churchill doen ‘n beroep op die Engelse om elke vaarbare boot tot beskikking van die vloot te stel.

Gelukkig vir die Geallieerdes stop Hitler en sy generaals die Duitse tenks se aanval 15 km vanaf Dunkirk vir vier dae. Hulle was onseker of die tenks in die moerasagtige omgewing rondom Dunkirk sou deurkom.

Ongelukkig vir die Geallieerdes probeer Hermann Goering met sy Luftwaffe bewys dat hy hulle uit die lug kan uitwis. Sy skreeuende Stuka-bomwerpers laat die bomme reën op Dunkirk.

Vir die troepe op die grond is dit oorlewering eerste. Daar is min proviand en alle voertuie en wapens moet vernietig of agtergelaat word. Hulle gaan dae sonder kos en water en slaap nie een aand op dieselfde plek nie. Die hawe is aan die brand en dik rookwolke kan van oor die Engelse kanaal gesien word. Oral lê dooie soldate rond.

Foto: Thomas Dreyer

Op 27 Mei begin Operasie Dinamo. Vlootskepe en die sogenaamde “little ships” daag op en begin soldate oplaai. Die hawe is só verwoes dat die soldate ooswaarts moet uitwyk tot op ‘n seestrand. Dit bemoeilik die laai van die soldate baie, want die skepe kan nie naby die strand kom nie en lang rye soldate staan vir ure vier langs mekaar tot aan hulle skouers in die koue see.

By die 400 “little ships”, vissersbote, seiljagte, plesierbote, vragskepe, en enige iets wat kan vaar, laai die soldate op. Die Luftwaffe val die skepe met bomme aan op die kanaal en sink 200 skepe. Die Britse lugmag skiet 156 Duitse vliegtuie af en verloor self 145 vliegtuie.

Na nege dae, op die 4de Junie, word die laaste soldate opgelaai. Ongeveer 35 000 Franse soldate bly agter en word óf doodgeskiet óf gevange geneem. Lyke lê die strand vol en dryf in die see. Die Britte verloor in hierdie eerste maande van die oorlog 68 000 soldate en die Franse 100 000. Vir elke sewe soldate wat gered is, is een krygsgevange geneem deur die Duitsers.

Op 4 Junie doen Churchill een van sy mees beroemde uitsprake in die parlement:

We shall go on to the end. We shall fight in France, we shall fight on the seas and oceans, we shall fight with growing confidence and growing strength in the air, we shall defend our island, whatever the cost may be. We shall fight on the beaches, we shall fight on the landing grounds, we shall fight in the fields and in the streets, we shall fight in the hills; we shall never surrender…

Dover se inwoners het die soldate met tee en toebroodjies as helde begroet. Treine moes inderhaas gereël word om die byna 338 000 soldate huis toe te vervoer.

Op 14 Junie 1940, tien dae later, marsjeer die Duitsers Parys binne en op 22 Junie gee Parys oor.

Erkenning aan Wikipedia
Ns. Loftus Versfeld het sitplek vir ongeveer 60 000 toeskouers

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ella ·

Ek het koue rillings. Oorlog het nie wenners, net verloorders. Mag dit nooit in ons land gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.