Op reis deur Europa: The Weight of One Self

Retha by The Weight of One Self Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Twee groot riviere loop deur Lyon, die Rhône en die Saône. In die suide van Lyon vloei hulle saam om as die Rhône by Arles in die Middellandse See uit te mond. Al langs die riviere is promenades waar die inwoners en toeriste op bankies sit of sommer net vir ‘n wandeling gaan.

Stap jy langs die Saône kom jy af op ‘n groot wit marmerbeeld wat lyk of dit half in die rivier staan – ʼn man wat uit die rivier uitstap met ‘n drenkeling wat hy uit die rivier gered het in sy arms. Die gewig van die man in sy arms is duidelik te sien in die inspanning van die draer.

Jou eerste reaksie is: dis wonderlik! Iemand wat soveel vir iemand anders omgee dat hy hom uit die rivier red! Stap jy nader, sien jy die inligtingsbord onder langs die rivier. Die name van die beeldhouers Elmgreen en Dragset. En die titel van die beeldhouwerk – “The Weight of One Self.”

Die draer het nie ‘n ander persoon uit die rivier gered nie, hy dra homself. Die gewig in sy arms is so swaar soos hyself. Die persoon in sy arms lyk ook soos hyself, behalwe dat hy pap en leweloos hang – ‘n dooie gewig.

Die beeld bly by my. Ek verstaan dit. Die moeite en inspanning wat ‘n mens het om jouself deur die lewe te dra. Lewelose, dooie gewig. Dit is nie iemand anders wat jy deur die lewe dra nie, al dink jy soms so, dit is jyself.

Ek dink ook oor die suggestie van die man wat ‘n drenkeling, al is dit hyself, uit die rivier red. Dit lyk egter of dit tevergeefs was, want die man hang leweloos in sy arms. Hoe baie keer probeer ‘n mens jouself red wanneer die maalstroom van die lewe jou meesleur en jy wil verdrink in die donkergroen stroom van bekommernis, vrees, begeertes, hartseer en pyn.

Maar dit is eintlik tevergeefs. Al wat oorbly is die dooie gewig van jouself in jou arms.

Christusbeeld met marmerdoek Foto: Thomas Dreyer

Die beeld herinner my aan ‘n ander beeld wat ons in Napels gesien het in die Cappella Sansevero Museum. Die museum is bekend vir sy beeld, “The Veiled Christ”. Mense staan tou om dié beeld te sien.

Dit beeld die gekruisigde Christus uit wat met ‘n dun deursigtige marmerdoek toegegooi is. Deur die marmerdoek sien jy sy gelaatstrekke, die spykermerke in sy hande en die merk in sy sy.

Dit is egter ‘n ander beeld in die klein museum wat my opgeval het, “Ontnugtering”. Dit beeld ‘n man uit wat in ‘n growwe marmernet vasgedraai is en nie daaruit kan loskom nie.

Ek staan by die beeld by die Saône. Duidelik sien ek myself. Die gewig van myself wat swaar in my arms hang. Lewelose, dooie gewig wat ek met moeite probeer dra.

Ek voel die marmernet wat my vashou soos die gewig in my arms my vaspen. As iemand my maar net kon help!

Dan verander die beeld. Nou is dit nie meer ek wat myself met moeite dra nie. Dit is iemand anders wat my dra! Iemand anders met my in sy arms!

Ek is die drenkeling uit die rivier, die gewig in die arms. Ek sien hoe ék gedra word, hoe die gewig verplaas word, die inspanning en die moeite verdwyn.

Ek sien hoe iemand kom en my losknoop van die growwe marmernet wat my vashou en ek vrykom van myself. En ek weet dit is niemand anders nie as die Christus wat onder die marmersluier gelê het met die spykermerke in sy hande en die wond in sy sy.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nerina Colin ·

Daar word heeltyd benadruk….die baie beperkte begroting…praat bietjie rand en sent mense. Dat die res van ons kriewelende rusbank reisigers soortgelyke avonture kan bewerkstellig op ons randjie inkomste met sy alewig dwindelinde waarde.

Eish ·

Verruklike kuswerke van die ou meesters! Soos altyd die bypassende kommentaar rond dit pragtig af.
Nerina se kommentaar vreet ook al lank aan my.

Connie ·

Jesus se tel jou kruis op en volg My. My juk is sag en lig. Jy hoef nie jouself te dra nie. Hy kan jou dra as jy hom net sal toelaat. Dra net jou kruis en volg Hom.

Thomas ·

Vir dié wat wil weet…ons toer het R15,000 per maand vir twee persone uitgewerk (vliegtuigkaartjies uitgesluit). Dit het verblyf, (openbare) vervoer, kos en toegangskaartjies ingesluit. Baie dinge is goedkoper in Europa (en veral Egipte) as hier. O ja, en domastrantheid!

Eish ·

Verstommend! Groot waardering vir die deel. Dit het seker n goeie dosis huiswerk gekos! Waar n wil is, is n weg!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.