Oseaanavonture van byna twee dekades

Shirley Dickinson toer al vir byna twee dekades op die oseaan rond. (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Shirley Dickinson was al van die heel eerste maal wat sy haarself in die diepsee op ʼn seiljag bevind het, versot daarop. Die onbeheersde beweging van die see, die vryheid … Jy kan tot ver reg rondom jou sien en boonop is jy aan Moeder Natuur oorgelaat. Dit was ʼn ongelooflike ervaring waarvan sy net nie genoeg kon kry nie. Sy deel graag haar reis van agtien jaar oor die oseane van die wêreld op ʼn seiljag.

“Ek het in Durban, KwaZulu-Natal grootgeword en die sout seelug was nog altyd in my are. Nogtans het ek eintlik geen idee gehad wat op my gewag het toe ek die eerste maal werklik die oop see beleef het nie. Ek sou ʼn liefdesverhouding met die see hê net soos my pa toe hy in die merchant navy was. Hy het baie van sy verhale en passies met my gedeel en ek glo hy het my keuses en besluite wat ek in die toekoms sou neem, beïnvloed.”

In haar vroeë twintigs was sy getroud met twee jong kinders. Haar man het ook geseil en met rubberbote, The Flying Fifteen, aan wedrenne deelgeneem. Hul familie het dus baie tyd by die Punt Seiljagklub spandeer. In dié stadium was Shirley nog nie ʼn aktiewe deelnemer nie. ʼn Vriend het ʼn seilboot gekoop met die idee om na Thailand te vaar en het haar man heelwat rondom skeepvaart geleer. Dit is hoe alles begin het.

“In die middel tagtigerjare het ons na Kanada geëmigreer en kort voor lank het ons ʼn klein 24 voet-seiljag (7,32 m) gekoop om in die somermaande op die Ontario-meer te spandeer. Dit was wonderlik, maar dit was nie die see nie. Ons het begin beplan dat wanneer die kinders skool sou verlaat en ons met ʼn leë nes agterbly, ons ʼn boot sou kry waarop ons kon woon, verken en oral heen seil. My man het ongelukkig van besluit verander, maar my steeds aangemoedig om my drome na te jaag. So het ek my avontuur aangepak om oor die oseane te vaar.” Shirley het na Suid-Afrika teruggekeer. Sy vertel daar was natuurlik baie opofferings en dit was nie maklik dat haar familie opgebreek het nie, ongeag hoe vriendskaplik dit was. Sy het haar familie in Suid-Afrika se ondersteuning nodig gehad. “Ek het vir John ontmoet wat ook beplan het om die oseane te bevaar, so ons het saam ons reis beplan. Heel eerste het ons ʼn boot benodig. Dié het ek op ʼn veiling in Durban gekry. Sy was nie net enige ou boot nie. Sy was pragtig: ʼn verwaarloosde Swan 43 voet-seiljag (13,1 m). Ons het begin om haar op te knap.” Vir vyf jaar lank het hulle seiljagaflewerings om die Suid-Afrikaanse kus gedoen terwyl hulle hul drywende tuiste herstel het.

Teen die einde van 2006 het hulle by die Governor’s Cup-wedren na St. Helena aangesluit. Van daar af het hulle na Brasilië geseil. “Van Kaapstad tot Salvador in Brasilië het ongeveer dertig dae geneem. Ek het gedink ek gaan so opgewonde wees toe ons vasmeer, maar toe ons ongeveer ʼn dag se vaart vanaf Brasilië was, het ek besef ek wou nie hê die avontuur moes eindig nie. Die eindelose dae van nag wat weer dag en dan weer nag word, het ʼn ongelooflike ritme geword. Die pragtige sonsondergange, maan wat opkom, sonsopkoms, wolkformasies en konstante buiveranderinge van die oseaan het ons vir ure vermaak en besig gehou, om nie eens van die seelewe om ons te praat nie.” Hulle is dikwels deur dolfyne, walvisse, visse, vlieënde visse en voëls vergesel en het ook gereeld soggens wakker geword en klein silwervissies wat op die dek gelê het vir ontbyt gebraai en geniet.

“Dit was wel nie altyd net pret en plesier nie. ʼn Storm met gepaardgaande sterk winde en reën was ʼn subtiele herinnering dat ons altyd op ons hoede moes wees. Tydens so ʼn storm was ons albei betrokke om seker te maak dat alles so vlot as moontlik verloop. Ek was aan die stuur, my sterkpunt, en John was vir die seile verantwoordelik.” Wanneer die wind nie te sterk was nie, het hulle sjampoe en seep gaan haal en op die dek gestort om water te bespaar. Hulle het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die watertenks met ʼn watervanger – wat Shirley van doek en pype gemaak het en direk na die watertenks en waterkanne (jerrycans) op die dek gelei het – vol te maak. Tot vandag toe kan sy steeds nie munisipale water drink nie. “Reënwater is so suiwer en soet en vir die agtien jaar wat ons gereis en aan boord geleef het, was dit ons enigste watervoorraad. Ons sou soms die storm jaag om die tenks weer vol te kry.” Elektrisiteitsvoorsiening was deur middel van sonpanele en ʼn windopwekker agter die boot. Daar was ʼn klein yskassie en vrieskas wat voldoende was vir hul benodigdhede. Hulle het meestal vars vis gevang en op die eilande soos die plaaslike mense geëet.

Shirley sê dat dit ʼn lewenstyl is om op ʼn boot te leef en beslis nie iets is wat vir almal bedoel is nie. Die vryheid om van een eiland na ʼn ander te kan beweeg, of van een land na ʼn ander, is verfrissend. Die unieke mense wat jy van alle stande en inkomstegroepe van die lewe ontmoet, is ongelooflik. “Dit leer ʼn mens om geduldig en konsidererend te wees, om verskille te respekteer en te omhels. Wanneer die onweer opgesteek het en hier teen ons was met die onstuimige see, moes ons saamstaan en mekaar help soos en waar nodig. Moeder Natuur is ʼn groot gelykmaker.” Telkemale was hulle in situasies waar medevaarders hulle moes help, en andersom ook. Die pay-it-forward-beginsel word beslis deur mense wat as seevaarders aan boord bly, uitgeleef.

Van die vrae wat heelparty mense al gevra het, is of hulle snags hul anker laat sak wanneer hulle ʼn oseaan oorsteek. “Nee, dit is onmoontlik om ʼn seiljag in sesduisend voet water te anker. Een van ons moes altyd op wag wees. Ons het gewoonlik ʼn twee en ʼn half uur rotasie gedoen. Dit klink miskien nie lekker nie, maar dis nie so sleg nie. Onthou, die nag vloei in die dag in. Jy slaap wanneer jy moeg is en eet wanneer jy honger is. Daar is geen skedules of tye nie.” Shirley het dit baie geniet om snags wag te hou. Wanneer dit donkermaan was en die naghemel pikdonker, kon sy die sterre só helder sien dat sy gevoel het sy is onder ʼn soeklig. Die fosforessensie (alge) gloei helder groenblou in die water en is beslis iets om te sien.

Baie mense het ook gevra hoe hulle geldgewys leef. “Om te seil is goedkoop en vrolik. As jy ʼn beperkte begroting het, leef jy daarvolgens. Uiteet is beperk tot dalk een maal per maand. Jou sosiale lewe is ongelooflik en skemerkelkies aan boord is ʼn nagtelike roetine, so jy mis dit nie werklik om uit te eet sou jy ʼn beperkte begroting hê nie.” Hulle moes gewoonlik, om ʼn eiland te kon besoek, ʼn visum vir drie maande kry. Daar het hulle die plaaslike mense leer ken, en dan op dieselfde plekke as hulle gaan eet en inkopies gedoen. Sodoende leer jy werklik die kulture en gewoontes van verskillende lande en hul inwoners ken.

“Bedags het ons lewe daaruit bestaan om ons boot skoon te maak, asook algemene instandhouding van die boot. Die dieselmotor moet gediens word, die Bimini-seildak en dodgers (spatskerms) moet nagegaan en herstel word indien nodig. Ons moes onder die boot kyk dat daar nie gras en barnacles (eendmossels) groei nie. Dit is ʼn voortdurende taak in die warm water van die Karibiese See en Bahamas.” Hulle het elke dag vars brood gebak en wasgoed met die hand gewas, behalwe die handdoeke en linne wat hulle elke twee tot drie weke na die wassery geneem het. “Daar is nie die luukse van gou in ʼn motor klim en na die kruidenierswinkel of wassery gaan nie. Indien dit nodig is, verg dit deeglike beplanning, soos om byvoorbeeld ʼn bondel wasgoed by die wassery af te gee en dan proviand te koop. Aangesien jy oor die algemeen oral heen stap, moet jy ook in gedagte hou hoeveel jy kan dra. Ons het dan gesnorkel, geswem, staptogte gedoen en saans plaaslike inwoners by die strandkroeg vir bordspeletjies, Mexican Train Dominoes of skemerkelkies en ʼn gesellige braai ontmoet.”

Shirley vertel dat ʼn storm op see iets anders is. “As dit net ʼn verbygaande reënbui was, moes ons net die luike toemaak en die storm uitry. Hopelik kon ons dan vars water opvang om die tenks op te vul. Wanneer dit ʼn tropiese storm is, was dit belangrik om die anker dop te hou. Nie net om seker te wees dat die anker nie sleep en ons dalk teen ʼn ander boot wat op anker lê bots nie, maar ook om seker te wees dat niemand teen jóú bots nie.” Dit is blykbaar nie ongewoon dat dit gebeur nie, so dis nodig om waaksaam te wees, al beteken dit jy is heelnag op. Tydens die orkaanseisoen moes hulle konstant teen die weskus van Afrika, waar orkane vorm en versterk soos dit die Atlantiese Oseaan oorsteek, op die uitkyk wees.

“Dit is ʼn goeie lewe, waar die goed by verre swaarder as die sleg weeg. Elke keer wanneer daar stormwinde en -see was, het ons gesê dat ons die boot gaan verkoop en op land gaan bly. Maar wanneer die storm verby was en die reënboog verskyn, was dié gedagte vergete. Buitendien, as dit nie vir storms was nie, sou die bedreiging van seeroweraanvalle of die moontlikheid om ʼn rots of koraalrif te tref nie bestaan het nie, en dit is lekker stories om op eilande tydens skemerkelkies in strandkroeë te vertel wanneer jy plaaslike rum-pons onder die pragtige blou hemelruim, langs wit strande en turkoois water drink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.