Oystercatcher: Een van die Kaap se mooiste pêrels

Die Oystercatcher-stapavontuur is beslis ’n belewenis wat jy eerstehands moet ervaar. Foto’s: Luzanne Gresse.

Boggomsbaai, Gouritsmond, Vleesbaai, Fransmanshoek, Danabaai en Mosselbaai is ongetwyfeld van die Wes-Kaap se prentjiemooi-bestemmings.

Maar as daar nou een lewenswaarheid is waaraan die Oystercatcher-staproete jou herinner, dan is dit dat die roete na ’n spesifieke plek dikwels net so indrukwekkend (of dalk selfs meer!) as die eindbestemming is.

Ek het onlangs die voorreg gehad om dié gewilde stapavontuur – wat vanjaar sy 20ste verjaardag vier – saam met my vrou aan te pak.

Vergeet maar eers van blote Instagram-foto’s; hierdie deel van die land se ongerepte natuurskoon, geskiedenis en biodiversiteit verdien eintlik ’n sir David Attenborough-program.

So maak vir jouself ’n koppie koffie, trek jou leesbril nader, sit agteroor en geniet die kort dagboekinskrywings van die Oystercatcher-belewenis.

Dag een:

Van die mooi huise in Boggomsbaai.

Ek hou nie baie van vlieg nie, dus sal ek jou die detail van ons vlug na die George-lughawe spaar; behalwe vir die senutergende oomblik toe ons vliegtuig daar bo die Outeniqua-bergreeks ’n bietjie deur die wind rondgepluk is.

Kortliks: Dit was nie so lekker nie, maar toe die Uber-bestuurder (ja, daar is nou Uber in dié deel van die Kaap) ons voor ons huis in Boggomsbaai aflaai, het alle vliegvrese soos mis voor die son verdwyn.

Skaars 200 m van ons voorstoep het die son op die branders geskitter en in die verte kon jy die huise van Vleesbaai en Danabaai sien.

Net ná 18:00 het ons straat af na die Sandpiper Cottages gestap – die staphoofkwartier as jy wil.

Daar het ons vir Willem en Mia Bruhns (definitief die hoofseun en -dogter van Oystercatcher) saam met die gidsspan van Chris Carr en Georgia Puschke ontmoet.

Ná ’n kort kenmekaarsessie is die roete uitgelê en ons kon aandete geniet.

Terwyl ons van kos praat – alle etes word by die prys ingesluit en dit smaak omtrent vorentoe. Selfs jou middagete op die roete word verskaf.

Terug by ons huis het daar ’n verrassing op ons gewag: Die reënspinnekoppe in dié geweste is groter as ’n Afrikaanse musiekvertoning in Pretoria en hulle skrik vir g’n skoen, plakkie of haarsproei nie.

Dag twee – Van Gouritsmond na Boggomsbaai:

As jy van geskiedenis en natuurskoon hou, sal jy mal wees oor die eerste amptelike stapdag.

Die stap van Gouritsmond na Boggomsbaai.

Die vervoer oor die Gouritsrivier het – danksy my verbeelding – soos iets gelyk wat die Geallieerde-magte dalk in Normandië sou gebruik het, terwyl Chris en Georgia omtrent soos wandelende ensiklopedieë klink wanneer hulle oor die omgewing se geskiedenis praat.

Die storie van die oorlogskip La Fortune was vir my die interessantste.

Die skip het in 1763 sy moses teen die rotse teëgekom en meer as 400 Franse matrose was gestrand – vandaar die naam Fransmanshoek. Boonop word een van die kanonne by ’n klein nabygeleë museum uitgestal – ongetwyfeld ’n treffer vir enige geskiedenisliefhebber.

Om elke hoek en draai wag iets uniek op jou.

Terwyl jy die ongerepte strande, rotsformasies en flora bewonder is ’n magdom dolfyne besig om toertjies in die golwe te doen – sommer reg langs jou!

Ek het destyds my bankbalans ’n stewige knou gegee om kamtig “saam” met die dolfyne in Mosambiek te swem. Ons het nou baie meer dolfyne as toe gesien.

Net toe ’n mens wil-wil honger word, sien jy vir Willem en Mia in die verte – gereed met middagete, koeldrank en nagereg.

En dit, om Ferdi in KykNet se Hotel aan te haal, maak ’n kamp lekker.

Terug in Boggomsbaai was aandete ook weer amper gereed by die Sandpiper Cottage en daar is lekker om die groot etenstafel gesels.

Laataand is daar versterkings ingeroep om die reënspinnekop-gevaar te tem. Ek troos myself daaraan dat die redders ook maar bra skrikkerig was toe hulle die grootte van spinnekop gesien het.

Dag drie – Van Boggomsbaai na Danabaai:

Foto: Maroela Media/Luzanne Gresse.

Dit het beloof om ’n luilekker stapdag op die strand te wees, maar ons stapgeselskap het skaars die Sandpiper (soos wat die staphoofkwartier nou bekendstaan) verlaat, of my vrou gryp my hand in ’n ystergreep vas.

“Slang,” is al wat sy uitkry terwyl sy bewend na die plantegroei langs die pad wys.

“Kyk hoe beweeg hy,” laat sy hoor terwyl sy probeer om in my dagrugsak weg te kruip.

By nadere ondersoek was die “slang” toe eintlik ’n hengse haas en die “beweging” was een van sy ore. Die arme vrou was nog getraumatiseer deur die vorige nag se spinnekop-beproewing.

Eers op die strand was die weer perfek: Die son het geskyn, ’n seebriesie het jou koel gewaai en die see was soos ’n gladde spieël.

Iewers langs die pad kom Georgia (van die gids-faam) op ’n pragtige stuk dryfhout af; ’n mens kon sommer sien dat dit mooi in ’n sitkamer sou lyk.

Foto: Maroela Media/Luzanne Gresse.

Ons twee getroudes het terstond aangebied om dit te help dra – ons is immers fikserig. So ’n vrag word egter nogal swaar ná ses kilometer se strandstap.

Tussen die vele blaaskans-sessies deur kon jy die natuurskoon net soveel meer waardeer: Skilderagtige strande met geen mens in sig nie, dolfyne wat steeds in die golwe baljaar en swarttobies (of dan “oystercatchers”) om elke praghoek en -draai.

Net voor middagete grawe Chris tussen ’n spul klippe rond en kom met ’n paar stukke gereedskap uit vervloë dae te voorskyn.

Baie indrukwekkend en interessant.

By Danabaai het drie passasiervoertuie gereed gestaan om ons terug na Boggomsbaai te neem. By Sandpiper het ’n lekker vingerete vir almal gewag.

Dag vier – Van Danabaai tot by Mosselbaai:

Foto: Maroela Media/Luzanne Gresse.

Ek het almal vooraf oor my hoogtevrees gewaarsku. Heimlik het egter gehoop dat ek die fobie al ontgroei het.

Die kranse tussen Pinnacle Point en Mosselbaai was egter ’n taamlike uitdaging vir die uwe. Op ’n stadium het ek soos ’n Egiptenaar van ouds (almal het al die hiëroglief gesien) gestap: My vrou het die voortou geneem en my hand vasgehou, terwyl een van die gidse agter my gestap het en óók ’n hand vasgehou het…

Selfs ’n hoogtevreeslyer kan die uitsig van daarbo geniet. Reusebranders, daar was koue weer op pad, het skouspelagtig teen die rotse gebreek terwyl dassies om jou rondgeskarrel het.

Daar is ook oral grotte langs die roete en ons kon tydens middagete een van die grotte verken – nóg ’n hoogtepunt.

By Mosselbaai aangekom was daar eers tyd om iets te drink voordat ons per motor die pad terug na Boggomsbaai aangepak het.

’n Vinnige inlassin: Stappers sonder hoogtevrees het geen probleem met hierdie deel van die avontuur gehad nie.

Ja, daar is seevakansies by die nabygeleë Hartenbos en Dias-strand, maar die Oystercatcher-staproete is ’n belewenis wat jy in geen strandsak kan pak nie. Jy moet dit eerstehands ervaar.

Ons maak al klaar planne om weer te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.