Pak jou tas en kuier in Breedekloof

Die gastehuis by Bosjes se dekor is deur Liam Mooney behartig. Die gastehuis kan deur een groot familie gehuur word wat heerlik om die swembad kan kuier, of in die winter voor die kaggel. Ons kamer was groot genoeg vir ʼn heelweek kuier. (Foto: Clifford Roberts)

Die nuus van huisies tussen die fynbos by Opstal, die bekroonde wynplaas in die Slanghoekvallei, tesame met ’n nuwe spa, restaurant en plaaswinkel op Bosjes in die Breederiviervallei, vang dadelik ’n mens se oog. Die wete dat volkome stilte net deur voëlgesang en die wind in die fynbos verbreek sal word, is genoeg rede vir Maryke Roberts om haar tas vir ’n naweek te pak.

Ons stop langs die pad, net af van die woelige N1 buite Worcester. Werkers snoei die wingerde met die son wat agter die Slanghoekberge begin water trek. Ons draai ons ruite af. Die werkers wuif en kyk belangstellend wat ons doen. Toe die aardigheid van die toeriste oorwaai, gaan hulle voort met die snoeiery. Ons sit en luister daar in die namiddagstilte na die knip-knip-knip van hul snoeiskêre in die amper-onnatuurlik-groen jong wingerdblaartjies.

Ons ry verby name soos Grietjiesdrift, Remhoogte, Blaarfontein, Eikebos, Vredelus, Goudmyn en Pruimboskloof, soos die vallei homself aan ons blootlê.

By Opstal is dit ’n miernes van bedrywighede. Dis amper uitvaltyd en dinge moet klaar. Spuite, trekkers en waens word in die stoor gebêre en twee paartjies klim met pizzabokse hoog gestapel in hulle motors.

Ons kry ons sleutel en Tanya Lochner neem ons na ons huisie, die hoogste een teen die berg: Nellie’s Needle. Die vyf eenhede het elkeen ’n unieke naam wat hulde bring aan iemand wat deel van die landgoed se lang geskiedenis is. Die ander is Carl Everson, The Barber, Lang Jan en Lady Ansie.

Tanya verduidelik hoe die alarm en braaihout werk, en lag dan: “Hier is nie televisie nie.” Ons draai al drie na die ongerepte uitsig en ek sê dat die groot skerm hier beslis baie groter is as ons televisie tuis. Sy vertel dat die berge oorkant die vallei ’n hipnotiserende uitwerking op die gaste het.

Die vallei word in ’n goue gloed gehul toe ons net voor sononder regs hou by die vurk in die plaaspad op pad na Picardi Place. Neffens die smal grondpad links stap twee plaaswerkers uit die vrugteboorde uit; ’n dosyn eiers netjies op kartonhouertjies gebalanseer. Hulle wuif vrolik.

Ons stap deur die ruie heining na die sinkgeboutjie onder die bome. Hier wag Jaco Brand ons met yskoue vonkelwyn in. Toe al die gaste arriveer, stap ons na sy groentetuin. Jaco het akkommodasie vir 14 mense en die meeste mense stap oor die grasperk van hul verblyf af.

Jaco is ’n landskapargitek wat met die 2008-krisis alles verloor het. Gelukkig het hy dié klein lappie aarde gehad. Sy lewe in die stad het tot ’n einde gekom en tydens ’n reis na Italië – danksy erfgeld – kruis sy pad met Giovanni, wat pastakursusse aanbied. Nou leef hy uit sy eie groente- en kruietuin en sy pastakursusse is legendaries.

Ivy du Toit, sesde geslag wynmaker op Jason’s Hill, is die gas-wynmaker vir die aand. Sy vertel dat die streek bekend is vir sy Chenin Blancs en die Breedekloof Makers – 13 wynmakers in die omgewing wat elkeen ’n spesiale Chenin Blanc maak. “Die voorwaardes is dat dit hoë risiko, maar hoë beloning sal bied en dit moet ook ’n duur wyn wees. Ons leef Chenin in hierdie area en dis ’n heerlike projek vir almal.”

Na ons proe, groet Ivy en ons skuif aan na Jaco se eetkamer waar ses kringetjies meel, ’n bakkie met eiers en ’n klein glasbotteltjie met olyfolie wag. Ons werk twee-twee. Jaco verduidelik hoe jy die eiers in die sirkeltjie breek en dan stadig die meel inwerk.

In sy kombuis vul die reuk van armsvol basiliekruid vars uit sy tuin ons neusgate terwyl hy die uie en knoffel braai. Hy geur die vleis met sout en kruie.

Aandete in die sinkgeboutjie met sy kerse, kruie en kaggeltjie is vir ons 12 ’n absolute feesmaal.

Dis volmaan toe ons na ons motor stap en met ligte harte na ons huisie teen die berge terugry.

Ons slaap soos dooies voor ons die blindings voor ons reuseruite optrek, koffie maak en weer terugklim in die bed. Ons lees, gesels, maak weer koffie en voel asof Krismis ons onverwags getref het. Hierdie luukse is ons tuis nie beskore nie, want daar is altyd werkies wat wag.

Teen 11:00 knaag die honger en die spek en eier-aankope by Slanghoek Mountain Resort se padstal die vorige dag is ʼn groot bonus. Dis nie ver nie; net verby Ligstraaltjie Creche met sy spierwit Victoriaanse broekielace-stoepie.

Ons is net voor middagete op die stoep by Opstal se proelokaal vir hul nuwe makrolletjie-en-wyn pasmaat met Lize-Mari Pienaar.

Ons bestel twee wegneempizzas by sjef PJ Lombard en kies koers na ons huisie toe. Ons sit op die stoep met ons bottel wyn, die musiek wat saggies oor die houtdek speel en begin om in die warm swembadjie neffens die tafeltjie vuur te maak.

So tussen die lees en kouery deur kom ander gaste terug van bergfietsritte. Nog twee het gaan stap en doer onder draai die Mercedes met sy troulinte om en die bruid kom wasig na die motor toe aangesweef. ʼn Mens herleef jou eie troudag en hoop al haar drome word waar.

Toe die pizza en wyn effens gesak het, trek ons ons tekkies aan om te gaan stap. Eers deur die fynbos agter ons huisie, toe deur dele waar dennebome hoog bo ons koppe troon net voor ons deur olyfboorde stap, wat ek vermoed die oorsprong van die lieflike vars Klipheuwel-olyfolie is wat ons vroeër by die padstalletjie gekoop het. By ’n uitkykpunt gaan ons sit. Die fles met koffie en soet kougoed ’n ware gulheid wat die atmosfeer hier so goed vasvang.

’n Klein bokspoortjie in die klam modder in die paadjie maak my hart warm en toe ’n geelbekwou laag oor ons koppe vlieg, kan ek my verbeel sy maag roep nou vir ’n ou ietsie.

Ons stap terug en gaan stook die vuurtjie in ons klein plonspoeletjie, wat spesiaal gebou is om die water te verwarm. Gou-gou draai die stoom op die water en ons kyk hoe die vallei donker word en die liggies in die verte een vir een aangaan. Die luggie is koud, maar die water is warm.

Die maan kom op en verlig die vallei soos ’n tamaaie flits terwyl ons vuurtjie onder die braaivleis knetter.

Sondagoggend herhaal ons die bed-sit-ritueel en kyk hoe die berge voortdurend verander soos die son en die vlieswolkies verbydryf. Teen 10:00 sit ons op die stoepie by Opstal se restaurant vir Franse wafels met Noorweegse salm, roomkaas en vonkelwyn.

By die tafel langs ons bespreek ’n jong paartjie hul troue met Helena Pretorius, restaurant- en geleentheidsbestuurder.

Die kort rit na Bosjes, skaars 20 km verder, gee ons kans om nog meer van die omgewing in te drink. Die luggie buite die venster is koud, maar die lekker jazz op ons radio en Opstal se wegneemkoffie maak ons harte ook sommer warm.

Middagete is om die draai en ons ry eers aan na Die Boord Padstal buite Wolseley wat vroeër vanjaar geopen het en hemel op aarde vir ouers met kinders is. Vir ons is dit egter op ’n ander manier heerlik, want die bestuurder en sjef, PJ Schmidt, het vir jare in Miami gewerk en daardie regte Texas barbeque-smaak is sy forte.

Hy rook sy eie vleis en maak al sy souse self. Dis moeilik om te kies, want die kelnerin sê die Portugese hoender, Boord-burger en ribbetjies is alles ewe gewild.

Vriende sluit by ons aan. Die wynlys spog met die omgewing se bestes en almal bestel hul gunstelinge, maar saam met ribbetjies wil ek ’n dubbeldik melkskommel hê. Dié word voor my neergesit en die geklitse room stoot sommer oor die glas se rant; my hemel het pas aangeland.

Daar is ’n bielie van ʼn speelpark op die gras en vir R5 kan kinders die eendjies voer. Binne die oop restaurant is daar palms en riet en rottang en jy droom jy is iewers in Panama. ’n Trop ganse kom parmantig deur die ingang en begin op die gras rondpik. Toe ek ’n foto neem, begin hulle my – tot groot vermaak van die ander gaste – oor die grasperk jaag!

Ons hoor dat die lekker restaurant en padstal oor naweke ’n trampolien en ’n vierwielmotorfiets met waentjies vir kinders het en ook ’n springkasteel vir kinderpartytjies oprig. Gesinne bring hul piekniekkomberse en verwyl die loom ure.

Die ribbetjies is toe so lekker soos ek gehoop het, maar dis die yslike uieringe en polenta-tjips wat ons ons lippe laat aflek. PJ maak baie interessante disse met mieliemeel en het sy liefde daarvoor in Amerika ontwikkel. Dis ook hier waar hy geleer het om spesiale souse te stowe en te laat prut. Die broodjies vir sy hamburgers kom van ’n Ceres-bakker af en is van suurdeeg. Dié bak ook vars brood wat in die padstal verkoop word. Daar is ’n verskeidenheid ingelegte produkte, handgemaakte artikels en geskenke.

Die gesinnetjie by die tafel neffens ons eet pizza. Die gepluisde vark lyk heerlik, en te oordeel aan hoe vinnig dit verorber word, glo ek dit is!

Wanneer jy van die R43 afdraai, in die rigting van Ceres ry en op die grondpad na Bosjes indraai, word jy deur die Slanghoek- en Waaihoekberge omring. Op pad na die Bosjes-ingang ry ons by die Bosjes Trust se kleuterskool, skool en nasorgsentrum vir die plaaslike kinders verby. Dis inspirerend en selfonderhoudend met ’n oulike windturbine op die dak en ’n kruie- en groentetuin. Reënwater word in kolossale tenks opgevang. Van die nuutste tegnologie word hier vir die leerders ingespan.

En dan, net ná die hek, is die wit kurwes van die glasmuur-kapeldak wat jou tot stilte dwing. Dis deur Psalm 94:1 geïnspireer. Die kapel is met tuine omring waar jy in stilte kan mediteer en dié gebou lyk asof dit op ’n weerkaatsende dammetjie dryf.

Bosjes, wat in Nederlands “klein bossies” beteken, is ’n plaas wat wyndruiwe, olywe, perskes en proteas produseer.

Ons bly by die gastehuis oor wat deur die binnenshuise versierder, Liam Mooney, ingerig is. Die gastehuis se vyf ruim slaapkamers kan saam gehuur word vir privaatkuiers rondom die swembad of voor die kaggel, of individueel vir ’n luukse plaaswegbreek.

Die plaas spog met ’n oorspronklike Kaaps-Hollandse herehuis wat uit 1790 dateer en behoort sedert 1831 aan dieselfde familie. Dis verbasend om te sien hoeveel daar op die plaas vermag is sedert dit in Maart 2017 geopen het. Met die landgoed se gewildheid as troubestemming was dit baie naweke gesluit, maar met die byvoeging van die nuwe Bosjes Spens en Bosjes Winkel bied dit nou ook lekkerte aan dagbesoekers.

Daar is dus nou verskeie eetopsies op die plaas: Bosjes Kombuis, langs die ou herehuis, is tesame met die kapel deur Coetzee Steyn van Steyn Studio ontwerp. Die restaurant staan in stille kontras teenoor die ou herehuis daarnaas. Die restaurant spog met hoë plafonne, glasmure, ’n houtdek, berg-uitsigte en ’n pragtige wispelturige geskiedenis-en-natuur geïnspireerde geteëlde muur van die Bosjes stamboom, wat deur Lucie de Moyencourt en Michael Chandler geskep is.

Daar is ook ’n kinderspeelgrond wat deur Leanie van den Vyver ontwerp is, binne sig van die restaurant.

Die Spens is ’n koffiewinkel, ligte restaurant en goeie tuisbedryf in een. Die varsgebak deur fyngebaksjef Rafieq Jacobs maak die rit die moeite werd. As jy langer wil kuier, kan jy die nuwe spyskaart van die plaas se hoofsjef Kim Cox geniet. Kort-kort verdwyn ’n gesinnetjie in die tuin met ’n boepens piekniekmandjie en van die plaas se wyn; die Bosjes Chardonnay 2018 en die Bosjes Shiraz 2016, wat deur oorlede Alan Mullins – jarelange Woolworths-wynaankoper – gemaak is.

Die winkel is ’n hedendaagse interpretasie van ’n plaaswinkel, en was ook Liam se handewerk. Daar is luukse handgemaakte ware – heelwat uit die omgewing. Sy fokus was op handgemaakte produkte wat tydsaam en met sorg gemaak is.

Die gastehuis kry ook binnekort ʼn nuwe baadjie en die ou herehuis word dan ook in ’n gastehuis omskep.

Gesinne is die hooffokus as jy deur die nuwe tuine stap. Carlen Vorster, gasvryheidsbestuurder van Bosjes, stap saam na die gastehuis en vertel hoe kosbaar gesinstye vir hulle is en dat hulle juis wou hê dat die hele familie daar in die natuur tuis moet kom voel.

Die tuine is oor drie vlakke uitgelê en ’n ware oase. Soos jy met die paadjie tussendeur die suurlemoenbome en langs die waterkanaaltjies stap, is daar kort-kort ontdekkings wat jou vir ’n wyle laat stilstaan. Die kanaaltjies bring hulde aan die boere wat hierdie barre landskap getem het. Water was ’n belangrike aspek van die plaas se ontwerp.

Die boombrug is ’n houtstapbrug wat jou bo-oor die boomtoppe kan laat kyk en jou deur die honderde bome van die inheemse woud lei.

Square One Landscape Architects was saam met die argitekte verantwoordelik vir die enorme transformasie waar die kapel steeds uitstaan en die ster in die kroon is. Die twee nuwe geboue smelt in die landskap weg en is as’t ware soos spelonke in die grond versteek. Die dak is met 20 verskillende grasse beplant wat in verskillende seisoene blom en uitloop, en die eikehoutlatwerk aan die voorkant is met rankplante soos bougainvillea, kanferfoelie, sterjasmyn en wisteria (bloureën) beplant, wat ook alles in verskillende seisoene blom. Die tuin het 1 600 nuwe, gevestigde bome.

Daar is ’n wilde- en natuurlike tuin wat hulde bring aan die omringende fynbos van die plaas en Hugo van Niekerk, landskapargitek van Square One, sê dis ontwerp om ’n tuin van ontdekking te wees. Die paadjie van die herehuis tot by die kapel vorm ’n direkte lyn en verbind die geskiedenis met die toekoms. Dié twee geboue is spierwit en staan in stille kontras met die groen landskap. Daar is oral heelwat bankies, wat stiltetyd en introspeksie moontlik maak.

As jy verder afstap, wag die kapel-tuine vir nog meer meditasie en inspirasie. Daar is verskeie elemente in die tuine en ’n diverse plantlys. Plante wat in die Bybel genoem word vorm die basis van die tuin, maar daar is ook gevierde, ruie vrugteboomdele en ’n beeldhouwaterfontein.

Daar is ’n klein heuweltjie wat ontwerp is vir ’n ligte stappie na bo, met ongerepte uitsigte oor die plaas en vallei. Die heuweltjie staan as Ararat bekend en ontleen sy naam aan die Bybelse berg Ararat. Die indrukwekkende stap deur die Rooi See – slim landskapuitleg wat jou laat voel of jy deur die see wat in twee gedeel is stap – kan ewe goed iewers op die Israeliese platteland wees.

As jy die kapel binnegaan en stil word, laat die glasmure jou toe om amper deel van die natuur te word. As dit stil is, is die waterfilters wat saggies onder die kapel soos ’n kat spin, die musiek van die natuur. Carlen verduidelik hoe ’n musiekdosent vertel het dat dit die F-mineur-toonhoogte is – die klank van moederaarde – en hoewel onbepland, is dit die perfekte klankbaan vir die kapel.

As jy vroegoggend of laatmiddag wil bene rek, is daar ’n 5 km of 12 km staptog in die berge, waar die kanse goed is om ’n springbok, sebra of volstruis te sien. Die gastehuis se gaste kan ook laatmiddag op ’n wildrit gaan.

Ons het skaars ons bagasie neergesit, toe die klokkie op my foon afgaan: ons behandeling by Die Stalle Spa het aangebreek. Dis in die ou perdestalle ingerig en die toonbeeld van luukse elegansie. As jy ’n uur later terugstap kamer toe, is dit F-mineur wat deur jou lyf vibreer …

Aandete geniet ons in die gastehuis, en dis heerlik om net om die swembad na ons kamer toe terug te stap. Die badwater is heerlik warm en ons kuier ’n rukkie voor die kaggel terwyl ons ’n film kyk.

Die beddegoed is stylvol oopgevou en ons sak diep weg. Vroegoggend gaan my man die plaas te fiets verken en ek besluit om te stap. Die stap van die herehuis af na die kapel en tuine is ’n klein pelgrimstog, tot waar jy uiteindelik voor die kapel in die oggendstilte staan en by die glasvensters uitkyk, omring met die mooi bergagtige vallei.

Ons ry ’n paar dae later op die agterpaadjies terug huis toe; ruite af. Ons hare staan wild in die windjie, maar die vrede in ons harte gaan ons heelweek dra.

Kitsfeite:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Hoekom soe duur veral in die tyd van Covid waaneer daar net locals is en geen toeriste. Wil ook nie iets vir ‘n appel en ‘n uie he nie, maar die goedkoopste kamer is R2970bb per persoon, en dan nog die petrol uitry om daar en terug te kom. Het onlangs in ‘n mooi hotel in Pretoria Nord gebly en hulle was soe dankbaar vir net iemand wat vir twee weke daar wil bly dat hulle my R500 ‘n aand gevra het. Dit was nou sonder onbyt. Waar kan jy nog op ‘n lekker bed met tv, stort, fridge, coffee… Lees meer »